Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 452: SA, Senegal en Rwanda wil entstof vervaardig

Dit is dag 452 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Suid-Afrika het reeds meer as 1,8 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 58 700 sterftes.

Meer as 1,6 miljoen mense het al herstel, wat die land se herstelkoers op 90,4% te staan bring.

Die nasionale departement van gesondheid sê altesaam 2 141 624 mense is reeds ingeënt.


Pres. Cyril Ramaphosa neem tans saam met pres. Emmanuel Macron van Frankryk en dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), aan 'n gesamentlike inligtingsessie oor Covid-19-entstowwe deel.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

21 Jun. 21:58:13

Inentings: ‘Landbousektor moet ook prioriteit wees’

Agri SA het Maandag ’n beroep op die regering gedoen om die landbousektor, wat vir voedselproduksie verantwoordelik is, ook te prioritiseer met die toediening van die Covid-19-entstof.

“Die regering het gesondheidswerkers, mense ouers as 60 en nou ook onderwyspersoneel vir inentings geprioritiseer sonder om noodsaaklike werkers soos dié in die landbousektor in ag te neem,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

Lees die volledige berig hier.
21 Jun. 21:57:26

SA sal Afrika se nuwe entstofaanleg huisves

Dit is ’n formidabele geleentheid wat Suid-Afrika met albei hande sal aangryp tot voordeel van die hele Afrika.

Dit was Maandagaand die reaksie van pres. Cyril Ramaphosa op die nuus dat die eerste boodskapper-RNStegnologiepunt vir Covid-19-entstof binnekort in Suid-Afrika gevestig sal word.

Dié aankondiging is op ’n aanlyn konferensie deur dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), gedoen.

Lees die volledige berig hier.
21 Jun. 21:56:43

Virus woed soos ’n wilde veldbrand in Gauteng – premier

Die Gautengse gesondheidstelsel is erg onder druk terwyl die infeksiesyfers in die provinsie soos ’n wilde veldbrand voortwoed. Daar word voorspel dat daar tussen 65 000 en 70 000 aktiewe gevalle in die provinsie sal wees wanneer die provinsie teen die eerste week in Julie die piek kan bereik.

Lees die volledige berig hier.
21 Jun. 21:07:23

Logistieke uitdagings verhoed dat Amerika entstof deel

Jen Psaki, perssekretaris in die Withuis, het Maandag gesê logistieke uitdagings verhoed Amerika om sy beplande 55 miljoen dosisse Covid-19-entstowwe met die wêreld te deel.

“Ons grootste uitdaging is nie voorraad nie. Ons het genoeg entstof om met die wêreld te deel, maar dit is ’n enorme uitdaging.” - Reuters

21 Jun. 20:32:47

SA, Senegal en Rwanda wil entstof vervaardig

Suid-Afrika, Senegal en Rwanda voer gesprekke met beleggers om Covid-19-entstof in Afrika te vervaardig, het pres. Paul Kagame van Rwanda Maandag gesê.

Afrika “probeer vennote vind om die entstof op ons vasteland te begin vervaardig,” het hy op die Katar- ekonomiese forum gesê.

“Ons praat met mense wat sal help met die finansiering en ek dink in ’n paar maande sal ons ’n ander storie hoor,” het Kagame gesê sonder om meer besonderhede oor die finansiering te verklap.

Kagame het Maandag daarop gesinspeel dat ’n Eurobond een opsie sal wees om die vervaardiging van entstof op die vasteland te finansier.

“Rwanda het ’n baie goeie B+-kredietgradering. Die Eurobond is een goeie opsie wat ons sal kan help met die finansiering waarvoor ons soek,” het hy gesê.

Nog net sowat 1% van die vasteland se bevolking van 1,3 miljard mense kon teen Covid-19 ingeënt word terwyl heelwat ryker lande genoeg van hul bevolking kon inent om hul ekonomieë weer te heropen. - Reuters

21 Jun. 20:08:25

Inentings in Suid-Afrika

'n Bykomende 1 179 inentings is teen Sondag om 23:59:59 in die land gedoen, wat die totale inentings nou op 2 144 204 te staan bring. 

1 664 436 mense het die eerste dosis van die Pfizer-entstof teen Covid-19 ontvang 

21 Jun. 19:52:30

5 m. op een dag in Indië ingeënt

’n Rekordgetal van vyf miljoen Covid-19-entstofdosisse is Maandag in Indië toegedien.

Die inentings is deel van die federale regering se veldtog om alle volwassenes gratis in te ent ná kritiek dat die chaotiese inwerkingstelling van die inentingsprogram die tweede vlaag van die koronavirus vererger het.

Honderdduisende mense is tydens die tweede vlaag van die virussiekte dood.

Volgens corona-scanner.com is daar 702 858 aktiewe gevalle in die land.

Indië het naas Amerika die meeste kumulatiewe gevalle ter wêreld naamlik 29 935 221. - Reuters en corona-scanner.com

21 Jun. 19:25:24

Bloem: Arts ‘wil huil’ oor mense nie kom vir inentings

Die hoof van die Covid-19-taakspan van die Universitas Akademiese Hospitaal in Bloemfontein “wil huil” oor so min mense ouer as 60 jaar hier vir inentings opdaag – terwyl gemiddeld ses tot agt pasiënte per week in dié hospitaal aan Covid-19 sterf.

Lees die volledige berig hier.
21 Jun. 19:24:52

Entstof: ‘Selfsugtig om nie patentereg vir eers te los’

Die “selfsugtige en onbillike” weiering van farmaseutiese maatskappye en Westerse regerings om noodgoedkeuring te verleen vir die tydelike kwytskelding van die intellektuele patentereg op Covid-19-entstof, bedreig die hele wêreld.

So het pres. Cyril Ramaphosa Maandag gesê met die opening van die virtuele sitting van die Katar- ekonomiese forum.

Lees die volledige berig hier.
21 Jun. 19:24:18

1 400 per dag, dalk meer by Ou Mutual ingeënt

Daar word voortaan 1 400 mense per dag by ’n private inentingsentrum op die Ou Mutual-perseel in Pinelands, Kaapstad, teen die koronavirus ingeënt.

Die sentrum is oop vir enige Suid-Afrikaner wat geregistreer is in die land se elektroniese inentingstelsel en kennis gekry het om daar aan te meld. 

Lees die volledige berig hier.
Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.