Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 452: SA, Senegal en Rwanda wil entstof vervaardig

Dit is dag 452 van die nasionale staat van inperking wat weens die koronaviruspandemie ingestel is.

Suid-Afrika het reeds meer as 1,8 miljoen kumulatiewe gevalle en meer as 58 700 sterftes.

Meer as 1,6 miljoen mense het al herstel, wat die land se herstelkoers op 90,4% te staan bring.

Die nasionale departement van gesondheid sê altesaam 2 141 624 mense is reeds ingeënt.


Pres. Cyril Ramaphosa neem tans saam met pres. Emmanuel Macron van Frankryk en dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), aan 'n gesamentlike inligtingsessie oor Covid-19-entstowwe deel.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

21 Jun. 19:23:28

21 Jun. 18:44:29

9 160 nuwe gevalle in 24 uur in SA

Meer as 9 000 nuwe koronavirusgevalle is Maandag in Suid-Afrika aangeteken. Die 9 160 nuwe gevalle bring die kumulatiewe syfer nou op 1 832 479 te staan. Sondag is 13 155 nuwe gevalle aangeteken.

Daar is tans 117 004 aktiewe gevalle in die land.

Die meeste gevalle is weer in Gauteng aangeteken (69%), gevolg deur die Wes-Kaap (7%).

Volgens 'n verklaring van Nios is meer as 36 858  toetse die afgelope 24 uur gedoen en is die positiwiteitskoers 24,9%. Die positiwiteitskoers was Sondag 23,7%.

Nog 93 sterftes is aangemeld vergeleke met Sondag se 112 sterfgevalle.

Die dodetal sedert die begin van die pandemie is nou 58 795.

Altesaam 1 656 680 mense kon al van die virussiekte herstel.

Meer pasiënte - 341 -  is die afgelope 24 uur in hospitale opgeneem. Daar is tans 9 503 pasiënte wat weens Covid-19 hospitaalbehandeling in staatsinstellings (3 236) en private hospitale (6 267) ontvang.

Nuwe provinsiale gevalle op 21 Junie:

Oos-Kaap: 193

Vrystaat: 248

Gauteng: 6 292

KwaZulu-Natal: 322

Limpopo: 296

Mpumalanga: 443

Noordwes: 422

Noord-Kaap: 297

Wes-Kaap: 647

Totaal: 9 160

21 Jun. 18:20:16

'Beste bly om nie besmet te word nie'

Van Kerkhove benadruk die feit dat entstof steeds doeltreffend is om mense teen sterftes en ersnstige siekte te beskerm, al word hulle ook met die variante besmet.

Sy sê entstof is doeltreffend, maar die beste is steeds om nie besmet te word nie. Sy pleit dat mense hulself teen die virus moet beskerm.

Swaminathan sê ook dit is baie belangrik om ingeënt te word. 

Sy sê daar word tans verder behandeling teen die virus ontwikkel.

Aylward sê finansiering is ook nodig om entstowwe te versprei.

Die mediakonferensie is nou verby

21 Jun. 18:17:10

WGO bekommerd oor gevaarlike deltavariant

Dr. Maria Van Kerkhove, epidemioloog van die WGO, sê studies word nog gedoen oor die deltavariant (wat in Indië ontstaan het), maar dat die variant vir hulle 'n bron van kommer is.

Sy sê dit wil voorkom asof die enstowwe darem steeds doeltreffend daarteen sal wees in die beskerming teen sterftes en ernstige siekte, mits daar twee dosisse toegedien word.

Sy sê egter sommige lande het slegs sosiale maatreëls om teen die variant te veg en dat ander lande ook entstof het, “so dit is nie 'n regverdige geveg nie”.

Dr. Bruce Aylward, ook van die WGO, sê geen land sal nou erken dat hulle oortollige entstof het nie.

Hy pleit wel dat as lande reeds hul gesondheidswerkers en die kwesbaarste lede van hul bevolking ingeënt het, hulle die entstof moet begin deel.

“Deel dit nou dat ons die kwesbaarstes in elke land kan inent en uit die krisis kan kom,” sê Aylward.

Ryan sê delta is die gevaarlikste variant van al die variante.

“Ons het 'n klein venstertjie waarin ons almal wat kwesbaar is, ingeënt moet kry, maar ons het dit nog nie wêreldwyd gedoen nie,” sê Ryan.

21 Jun. 17:57:40

WGO gaan mense in SA oplei

Dr. Soumya Swaminathan, hoofwetenskaplike van die WGO, sê entstowwe kan so vroeg soos nege maande van nou af in Suid-Afrika vervaardig word.

Sy sê daar is reeds 'n aanleg in Suid-Afrika en die WGO en ander organisasies gaan mense hier oplei.

“Ons kan binne nege tot twaalf maande sien hoe die enstof in Suid-Afrika vervaardig word,” sê Swaminathan.

Sy sê daar is ander opsies vir tegnologie ook.

Volgens haar is daar tans geen hindernisse vir die patent van die b-RNS-tegnologie in Afrika nie.

Dr. Michael Ryan, epidemioloog van die WGO, sê dit is belangrik om na die syfers van Japan te kyk wat die bywoning van die Olimpiese Spele betref.

Hy sê vergaderings sal ook vandeesweek gehou word, maar dat Japan se getalle wel in die laaste paar weke drasties gedaal het.

Op 'n vraag oor of Suid-Afrika se enstowwe dieselfde as BioNTech en Moderna is, die twee b-RNS Covid-19-entstowwe, sê Swaminathan hulle is in gesprek en dat BioNTech reeds gesê het hulle wil 'n aanleg in Afrika oprig.

Sy sê dit is makliker wanneer reeds bestaande tegnologie gebruik word en dat dit langer neem indien nuwe tegnologie gebruik moet word.

21 Jun. 17:48:24

Ramaphosa beantwoord vrae

Ramaphosa beantwoord 'n vraag oor die belangrikheid van die oordragpunt wat 'n eerste in sy soort is.

Slegs 100 dae ná die uitbreking van die pandemie is daar reeds begin om entstof te ontwikkel.

Ramaphosa sê hulle vra sedertdien deurlopend om die kapasiteit te bekom in Afrika om ook ons eie enstof te vervaardig.

Hy sê Afrika kan nie meer op ander vastelande vir entstof staatmaak terwyl mense doodgaan nie.

Hy sê BioVac in Suid-Afrika het reeds gewys dat hy entstof kan vervaardig en dit sal die kapasiteit vergoot.

Tot dusver is nog slegs 2% van die land ingeënt en dit is nou die kans om die kapasiteit te vergroot.

Op nog 'n vraag oor die derde vlaag in Suid-Afrika, antwoord Ramaphosa dat sowat 58 000 mense reeds hul lewens verloor het.

Hy benadruk weer die veiligheidsmaatreëls van die WGO.

Hy sê die beskikbaarheid van entstof is ‘n groot kwessie, maar dat dit tans in klein besendings in die land aankom.

“Dis die enigste verweer wat ons teen die virus het.”

Hy sê die stigting van die oordragpunt versinnebeeld die oorhandiging van tegnologie en kennis.

Ramaphosa sê hy wil eintlik hê dat Suid-Afrikaners “al gister” hul inenting kon kry.

21 Jun. 17:33:43

Macron 'trots op sy vriend Cyril'

Pres. Macron het ook aan die oprigting van die oordragpunt saamgewerk.

Hy het 'n videoboodskap gestuur.

Hy sê die pandemie woed oor die wêreld heen en dat elke land die kapasiteit moet hê om sy eie entstof te vervaardig.

Macron sê hy is trots op sy vriend, pres. Ramaphosa, dat die oordragpunt die eerste op die vasteland gaan wees.

Volgens hom is die toegang tot enstof 'n geveg wat nie kan verdwyn nie en vandag is die eerste stap om entstof ook op die Afrika-vasteland te vervaardig.

21 Jun. 17:30:11

Eer dat oordragpunt in SA gaan wees - Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa sê dit is 'n eer dat die oordragpunt in Suid-Afrika gaan wees.

Hy sê dit sal die narratief van Afrika as 'n arm sentrum van siektes verander na een wat sy oorwinnings kan vier.

Hy sê dit sal ook met die opleiding van medici help om meer entstof te genereer.

Ramaphosa sê die ongelykhede met verwysing na die toegang tot entstof het nou, met Covid-19, aan die lig gekom.

“Ons het nog steeds nie toegang tot die entstowwe wat in miljarde dosisse in die noorde vervaardig word nie. Enststofnasionalisme moet tot 'n einde kom,” sê hy.

Hy vra vir solidariteit en billike toegang tot entstowwe.

Suid-Afrika is nou in die derde vlaag van infeksies wat veel erger as die eerste twee vlae is.

Hy sê die oprig van die oordragpunt is die begin van die proses vir “gesondheidsveiligheid vir die kwesbaarste mense”.

Volgens Ramaphosa is dit nie net 'n belegging vir Suid-Afrika nie, maar ook vir die hele Afrika.

21 Jun. 17:22:00

SA eerste oordragpunt vir boodskapper-RNS

Ghebreyesus, DG van die WGO, het Maandag die aanlyn sessie geopen.

Boodskapper-RNS, oftewel b-RNS, is nuwe tegnologie wat nou vir die eerste keer in entstof gebruik word.

Dit behels dat die virus se RNS teen homself gebruik word om 'n immuunrepsons te genereer.

Ghebreyesus sê Covid-19-gevalle oor die wêreld heen het die afgelope agt weke afgeneem en sterftes die afgelope sewe weke.

Ses mense sterf egter steeds elke minuut aan die virus.

Hy sê die pandemie ruk ook steeds in sekere lande handuit.

Dit is, volgens hom, te wyte aan die sosiale optrede van mense en die ongelyke situasie wat entstof betref.

Hy kondig aan dat Suid-Afrika die eerste oordragpunt vir hierdie b-RNS gaan hê nadat verskeie lande in April hiervoor aansoek gedoen het.

21 Jun. 17:11:29

Ramaphosa praat oor boodskapper-RNS-tegnologie (b-RNS) 

Pres. Cyril Ramaphosa neem tans saam met pres. Emmanuel Macron van Frankryk en dr. Tedros Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), aan 'n gesamentlike inligtingsessie oor Covid-19-entstowwe deel.

Die inligtingsessie fokus op die totstandkoming van die eerste oordragpunt in Suid-Afrika wat met boodskapper-RNS-tegnologie (b-RNS) vir Covid-19-entstof sal werk.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.