Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: 16 240 nuwe gevalle, nog 516 sterftes

Woensdag is daar meer as 16 000 nuwe Covid-19-gevalle en nog 516 sterftes in Suid-Afrika aangemeld.


21 Jul. 20:13:54

Sterftes, hospitalisasies in Wes-Kaap styg by die dag

Sterftes en hospitalisasies in die Wes-Kaap weens Covid-19 neem daagliks toe, het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, vandeesweek gewaarsku.

Lees die volledige berig hier.
21 Jul. 20:08:10

21 Jul. 19:45:34

SA wil teen Kersfees reeds 35 m. van sy inwoners inent 

Suid-Afrika mik daarna om teen Kersfees minstens een dosis van ’n Covid-19-entstof aan 35 miljoen van sy bevolking van 60 miljoen toe te dien, het dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, Woensdagaand tydens ’n parlementêre sitting gesê.

“Ons sal voor Kersfees minstens een dosis aan 35 miljoen mense kan toedien. Dit is die mikpunt wat ons gestel het en najaag,” het Crisp gesê.

Lees die volledige berig hier.
21 Jul. 19:44:55

Gevalle en sterftes daal effens in Brittanje

Woensdag is 44 104 nuwe koronavirusinfeksies in Brittanje aangemeld. Dit is teenoor die 46 558 gevalle wat Dinsdag aangemeld is.

Altesaam 73 sterfgevalle is Woensdag teenoor Dinsdag se 95 sterftes aangemeld.

Die daaglikse infeksies neem al die afgelope maand toe in die land, hoewel die vinnige pas van die inentings oënskynlik die verband tussen die infeksies en sterfgevalle verminder.

Tot dusver is 46,4 miljoen mense reeds net 'n eerste dosis van ’n Covid-19-entstof ingeënt, terwyl 36,4 miljoen reeds albei dosisse ontvang het. – Reuters

21 Jul. 19:13:48

21 Jul. 18:46:06

Jongste syfers in Suid-Afrika

Daar is die afgelope 24 uur 16 240 nuwe infeksies in die land aangemeld. Die kumulatiewe infeksiesyfer is nou 2 327 472.

Die positiwiteitskoers is 27,5%.

Die meerderheid nuwe gevalle is in Gauteng (32%) aangeteken, gevolg deur die Wes-Kaap (21%), KwaZulu-Natal (11%), Limpopo en Noordwes (9%), Mpumalanga (7%), die Oos-Kaap (5%), die Vrystaat (3%) en die Noord-Kaap (2%).

In dieselfde tyd was daar 516 sterftes. Die sterftesyfer is nou 68 192.

Altesaam 2 098 818 mense kon al van die virussiekte herstel. Daar is tans 160 462 aktiewe gevalle in die land. 

Altesaam 831 mense is die afgelope 24 uur weens die virussiekte gehospitaliseer. Altesame 17 286 mense ontvang tans in hospitale behandeling vir die virussiekte.

Inentings:

Daar is die afgelope 24 uur 257 492 mense ingeënt. Die totale getal inentings tot dusver is 5 831 389.


21 Jul. 18:44:11

Kaapse Biovac vervaardig Pfizer-entstof vir Afrika

’n Kaapse biotegnologiemaatskappy is die eerste onderneming wat ’n mRNS-entstof in Afrika sal vervaardig. Biovac sal die Pfizer-BioNTech-Covid-19-entstof vir verspreiding na lidlande van die Afrika-unie (AU) vervaardig, is Woensdag bekend gemaak.

Luidens ’n verklaring van Biovac word daar onmiddellik begin met tegniese oordrag, onder meer die installering van toerusting.

Lees die volledige berig hier.
21 Jul. 18:43:37

Glenda Gray voorspel kuur vir Covid teen einde 2022

Sy voorspel dat daar teen einde 2022 ’n behandeling vir Covid-19 sal wees. Prof. Glenda Gray, president van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad, glo egter ook dat volwassenes jaarliks teen die virus ingeënt sal moet word.

Lees die volledige berig hier.
21 Jul. 17:03:28

Australiërs vies oor nuwe inperkings

Australiërs is hoogs die josie in omdat daar nou nuwe inperkings ingestel word wat minstens 13 miljoen mense – die helfte van die bevolking – raak om 'n nuwe vlaag van Covid-19-gevalle te probeer stuit.

'n Derde staat is Dinsdag ingeperk. Suid-Australië, Victoria en dele van Nieu-Suid-Wallis se inwoners moet binnenshuis bly.

Inwoners is gefrustreerd omdat daar nou weer streng polisiëring is om seker te maak die regulasies word gehoorsaam.

Dít, terwyl Brittanje en Amerika inperking laat vaar het en terugkeer na normaal.

Scott Morrison, premier, word geblameer vir die stadige pas van inentings, maar hy het tot dusver nog nie verskoning vir die toedrag van sake gevra nie.

"Geen land het 100% gevaar wat Covid-19-reaksie betref nie," het hy Woensdag gesê.

Hy het weer benadruk dat Australië daarin geslaag het om nuwe infeksies laag te hou vergeleke met baie ander lande.

Infeksiesyfers in Sydney staan op 1 500 mense en daar is meer as 110 nuwe gevalle Woensdag aangemeld, ondanks die feit dat die stad al 'n maand ingeperk is. – BBC

21 Jul. 15:25:44

Cyril verwelkom ooreenkoms tussen Pfizer en Biovac

Pres. Cyril Ramaphosa het die aankondiging van die samewerkingsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Biovac-instituut en Pfizer verwelkom en gesê dit is 'n deurbraak om die Afrika-bevolking teen Covid-19 te beskerm.

Ramaphosa het die verklaring in sy hoedanigheid as die kampvegter vir Covid-19-entstowwe van die Afrika-unie (AU) uitgereik.

Biovac en Pfizer het Woensdag bekend gemaak dat Biovac die Pfizer-entstof in Kaapstad gaan vervaardig.

Biovac is 'n vennootskap tussen die regering en die private farmaseutiese sektor.

"Die ooreenkoms sal in 'n groot mate bydra tot gesondheidsekerheid en -volhoubaarheid in Afrika, wat tans die minste toegang tot entstowwe wêreldwyd het," sê Ramaphosa in die verklaring.

Biovac beoog om teen die einde van die jaar met die vervaardiging te begin en beplan om 100 miljoen dosisse jaarliks te verskaf. Dié entstof sal in die 55 lidlande van die AU versprei word.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.