Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Covid-19: 14 858 nuwe infeksies, nog 433 sterftes

Donderdag is daar 14 858 nuwe infeksies en nog 433 sterftes weens Covid-19 in Suid-Afrika aangemeld.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

22 Jul. 22:15:07

Stertes ná entstof 'verder bekyk'

Hoewel 28 mense dood is nadat hulle Covid-19-inentings ontvang het, is dit nie te sê dat die sterftes deur die inentings veroorsaak is nie. 

Kenners het Donderdag dié punt benadruk nadat die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad (Sahpra) Woensdag dié sterftesyfer aan LP’s bekend gemaak het.

Prof. Barry Schoub, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19-entstowwe en ’n voormalige uitvoerende direkteur van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), sê hoewel hierdie sterftes verder ondersoek moet word, is daar tans geen verband tussen die 28 mense wat dood is en die inenting nie.

“Ons moet onthou dat baie van die mense wat die entstof ontvang het en dood is ouer as 65 was en dat van hulle – ongeag of hulle ingeënt is of nie – moontlik in elk geval sou sterf.”

Lees meer
22 Jul. 21:51:15

Hof gee NDZ gelyk oor drankverbod

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het binne haar magte ingevolge die Rampbestuurswet opgetree toe sy op 27 Junie ’n drankverbod ingestel het.

Regter Robert Henney van die hooggeregshof in Kaapstad het Donderdag in sy uitspraak in die saak waarin die Suid-Afrikaanse Bierbrouery (SAB) op ’n dringende grondslag die magte van Dlamini-Zuma, asook die grondwetlikheid van haar regulasies, betwis, bevind sy het die reg gehad om die verbod in te stel.

Die SAB, wat aan die internasionale bierreus Anheuser-Busch InBev (AB InBev) behoort, het die wettigheid betwis van Dlamini-Zuma se besluit om regulasie 29 van die Wet op Rampbestuur, wat die verkope van drank verbied, uit te vaardig.

Hulle het egter nie geslaag in dié aansoek om die verbod opgehef te kry nie. - 

Lees meer
22 Jul. 21:01:42

22 Jul. 20:48:39

22 Jul. 20:44:43

22 Jul. 20:32:50

EU het reeds 200 m. ingeënt, maar mikpunt is nog nie behaal

Die Europese Unie sê hoewel 200 miljoen Europeërs reeds ten volle teen Covid-19 ingeënt is – meer as die helfte van die volwasse bevolking – is die mikpunt om 70% van alle volwassenes teen die Europese somer in te ent, nog nie behaal nie.

Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie, sê dit verg “verantwoordelikheid om die wêreld te help om teen die virus te veg. Inenting is die sleutel. Derhalwe is dit belangrik om te verseker dat Covid-19-entstowwe aan lande wêreldwyd beskikbaar gestel word”.

Die EU gaan meer as 200 m. dosisse Covid-19-entstowwe voor einde vanjaar aan lae- en middelinkomstelande skenk.

EU-lidlande het tot nog toe slegs ’n breukdeel van hul oortollige Covid-19-entstowwe aan armer lande geskenk en die meeste skenkings was AstraZeneca se entstof.

Dié skenkings, berig The Guardian, is minder as 3% van die 160 miljoen dosisse wat die EU bereid is om te skenk in ’n poging om die pandemie in bedwang te bring.

22 Jul. 20:31:57

Gautengse gevalle neem af, maar steeds ‘tawwe tye’

Nooddienste in veral Gauteng staan bont met noodoproepe van Covid-19-pasiënte wat tuis aansterk en dan skielik asemnood ontwikkel.

Sommige begin selfs intussen op sosiale media smeek: “Waar kry ek dringend suurstof!”

Intussen moet nooddienste noodgevalle prioritiseer, en is dit nie so maklik om suurstof buite ’n hospitaal of sonder ’n nooddiens te vind nie.

Lees die volledige berig hier.
22 Jul. 19:54:15

22 Jul. 19:52:32

Mense van Upington sommer in hul motor ingeënt

Inwoners van Upington kan die naweek sommer blitsig in die gemak van hul motor ingeënt word.

Die Noord-Kaapse gesondheidsdepartement het ’n deurrysentrum by die Upingtonskouterrein ingerig en moedig almal wat 35 jaar en ouer is om van die diens gebruik te maak.

Lebogang Majaha, departementele woordvoerder, sê ’n span van die gesondheidsdepartement in Kimberley het Donderdag reeds na Upington vertrek om met die voorbereiding vir die naweek te begin.

Lees die volledige berig hier.
22 Jul. 19:51:48

Wes-Kaap verwag entstowwe Vrydag, nóg volgende week

Die Wes-Kaap ontvang Vrydag nog 93 600 dosisse van die Pfizer-entstof, wat daarop dui dat die toevoer van inentings na die provinsie begin stabiliseer.

So sê dr. Keith Cloete, hoof van die provinsiale gesondheidsdepartement, Donderdag op Alan Winde, die premier, se weeklikse virtuele nuuskonferensie.

Cloete sê ná Vrydag word daar nog verdere aflewerings vir die Wes-Kaap verwag van die Pfizer- én Johnson & Johnson-entstowwe.

“Ons het bevestiging dat die voorraad van entstowwe binne die volgende twee weke gaan toeneem,” sê hy.

Lees die volledige berig hier.
Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.