Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 484: 13 719 nuwe infeksies; nóg 450 sterftes

VROEËR:

  • Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderrig, het die media Vrydagmiddag toegespreek oor die inentingsprogram by tersiêre inrigtings.
  • Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, en dr. Joe Phaahla, adjunkminister, het Vrydagoggend 'n nuuskonferensie oor die Covid-19-pandemie gehou. Hulle is bygestaan deur 'n paneel kenners. 

Hier volg die jongste verwikkelinge:

23 Jul. 19:38:20

23 Jul. 19:10:07

Jongste syfers

Daar is die afgelope 24 uur 13 719 nuwe infeksies aangemeld. Dit bring die totaal op 2 356 049 te staan. Die positiwiteitskoers is 26,1%.

In dieselfde tydperk was daar 450 sterftes, wat die sterftesyfer opstoot tot 69 075.

Daar was 207 638 inentings die afgelope 24 uur. Tot dusver was daar altesame 6 308 201 inentings.

23 Jul. 18:44:49

SA verby 3de piek, maar infeksies bly hoog

Alles dui daarop dat Suid-Afrika verby die piek van die derde vlaag van Covid-19 beweeg het, maar daar is groot kommer dat die onluste en geplunder van verlede week tot ’n oplewing in infeksies kan lei.

So het Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, Vrydag op ’n mediakonferensie van die departement van gesondheid gesê.

“Ons is uiters bekommerd dat die byeenkomste wat gesien is tydens die onluste in Gauteng en KwaZulu-Natal weer tot ’n oplewing van die getalle sal lei.”

Sy sê dit is veral ’n bron van kommer omdat baie mense wat in verband met die onluste in hegtenis geneem is, positief getoets is vir die koronavirus.

Lees meer
23 Jul. 18:04:51

VSA bestel 200 m. ekstra dosisse entstof

Pfizer en sy Duitse vennoot BioNTech het Vrydag gesê die Amerikaanse regering het 200 miljoen bykomende dosisse van hul Covid-19-entstof aangekoop en het die opsie om 'n bygewerkte weergawe van die entstof te koop wat nuwe variante van die virus teiken.

Die ooreekoms kom te midde van die Delta-variant wat deur die land swiep en infeksies aanvuur en tot die debat bydra oor of Amerikaners 'n versterkingsdosis sal benodig of nie.  

Dit kom ook nadat die regering in Junie nog 200 miljoen dosisse van Moderna se entstof gekoop het.

Die aankondiging bring die totale getal dosisse van die Pfizer- en BioNTech-entstof wat aan Amerika verskaf sal word op 500 miljoen te staan, waarvan nagenoeg 208 miljoen dosisse volgens die regering se data Donderdag reeds gelewer is. – Reuters

23 Jul. 18:03:08

'Lisensieer die vervaardiging van entstowwe in Afrika' – AU

Farmaseutiese firmas wêreldwyd behoort die vervaardiging van Covid-19-entstowwe in Afrika te lisensieer eerder as om stuksgewys kontrakooreenkomste aan te gaan, het 'n spesiale gesant van die Afrika-Unie (AU) Donderdag gesê.

Strive Masiyiwa, AU-koronavirus-gesant, het gepraat nadat Pfizer en BioNTech 'n ooreenkoms met Suid-Afrika se Biovac-instituut aangekondig het waarvolgens dit die finale stadiums van die entstofvervaardiging uitvoer waar die produk verwerk en in buisies geplaas word.  

Pfizer en BioNTech sal die produksie by hul geriewe in Europa hanteer. Dokters Sonder Grense het die reëling as "beperkend" beskryf en gesê baie meer is nodig om entstof-onafhanklikheid in Afrika te ondersteun.

 "Ons wil dit duidelik maak aan al ons verskaffers: As jy nou 'n langtermyntoekoms met ons wil hê, vervaardig jy vanaf Afrika," het Masiyiwa gesê. – Reuters

23 Jul. 16:27:45

Almal in SA voortaan slegs volgens ouderdom ingeënt

Die regering gaan afsien van inentings op grond van spesifieke sektore wat geprioritiseer word en inentings sal voortaan volgens ouderdomsgroepe gedoen word.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het dit Vrydag op ’n mediakonferensie van die departement van gesondheid aangekondig.

Tot dusver is werkers in die gesondheid- en onderwyssektor, die polisie en die weermag ingevolge die sektorale benadering ingeënt.

Lees meer hier
23 Jul. 15:03:46

Universiteite begin Saterdag met inentings

Dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en tegnologie, het Vrydag op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê die inentingsprogram vir die tersiêre onderrigsektor sal op Saterdag 24 Julie begin.

Inentings van werknemers van hierdie sektor sal slegs by vier geriewe in sekere dele van die land begin, met 12 bykomende sentrums wat van Maandag af ook operasioneel sal wees.

Die program is in ooreenstemming met die departement van gesondheid beplan.

23 Jul. 13:26:58

23 Jul. 12:58:58

Man betrap nadat hy in burka op vliegtuig klim

'n Indonesiër wat positief vir die koronavirus getoets is en voorgegee het dat hy sy vrou is, is op 'n vliegtuig betrap.

Hy het sy vrou se burka aangehad om sy gesig te verbloem en met haar paspoort en negatiewe Covid-19-uitslag aan boord gegaan.

Hy het egter tydens die vlug van die burka ontslae geraak en sy eie klere aangetrek. 'n Lugwaardin het besef wat aangaan en hom aangegee.

Volgens die BBC was dit 'n binnelandse vlug. Dit is nie bekend waarheen die vliegtuig op pad was nie.

Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  3De Vlaag  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.