Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG: Wes-Kaap teken meeste gevalle in SA aan

Daar sal nie ’n tekort aan Covid-19-entstowwe wees nie, het pres. Cyril Ramaphosa, wat inentingsgeriewe in Gauteng besoek het, Donderdagoggend gesê.

Ramaphosa se stelling kom nadat dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, Woensdag gesê het daar is ’n landwye tekort aan entstowwe wat tot vroeg volgende week kan duur.

Hier volg die jongste verwikkelinge: 

29 Jul. 20:28:29

Covid-19-situasie in Tuinroete woes – LUR

Die Covid-19-situasie in die Tuinroete is tans “woes” – nie net weens ’n toename in hospitaalopnames nie, maar ook weens stygende aktiewe gevalle.

So het dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR van gesondheid, Donderdag op ’n digitale mediakonferensie oor die virussiekte in die Wes-Kaap gesê.

Volgens Mbombo sal sy die Tuinroete volgende week besoek. Stygings het op plekke soos Bitou (Plettenbergbaai) voorgekom.

Lees die volledige berig hier.
29 Jul. 20:27:47

Covid: Skielike styging in Gauteng ‘nie rede tot kommer’

Daar is nog nie rede tot kommer oor die skielike styging in die daaglikse getal bevestigde koronavirusgevalle in Gauteng nie, sê kenners.

Dit het van Woensdag se 2 324 gevalle meer as verdubbel tot 5 204 Donderdag. Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê die onlangse onluste en koue weer kon tot die styging bygedra het.

Lees die volledige berig hier.
29 Jul. 20:27:06

As jy entstof weier, is premie hoër – Discovery Life

Diegene wat gekant is teen inentings, gaan benadeel word wanneer hulle by Discovery Life ’n nuwe lewenspolis wil uitneem.

Dié lewensversekeraar sê as jy weier om jou teen die koronavirus te laat inent, is jy net so goed soos ’n roker.

Discovery Life sê hy is die eerste versekeraar wat die entstof teen die koronavirus gaan laat tel wanneer premies vasgestel word.

Lees die volledige berig hier.
29 Jul. 20:25:33

29 Jul. 20:25:15

Wes-Kaap teken weer rekord-styging aan

Die Wes-Kaap het Donderdag weer 'n rekord-styging aangeteken met nuwe koronavirusinfeksies, sê dr. Ridhwaan Suliman, senior navorser verbonde aan die Wetenskaplike Navorsingsraad.

Suliman het Donderdag in 'n inskrywing op Twitter gesê die 3 968 nuwe gevalle in die Wes-Kaap is op twee na die hoogste styging wat tot dusver in die provinsie ondervind is.

Die infeksiegetal is 40 gevalle per 100 000 gevalle per dag, 85% meer as tydens die tweede vlaag van die pandemie.

Daar is tans 493 mense wat in waak- of hoësorgeenhede verpleeg word.

Altesaam 110 sterftes is ook in die provinsie aangeteken.

29 Jul. 19:50:52

Facebook en Google verplig inentings

Facebook en Google verplig al sy werknemers om ten volle teen Cocid-19 ingeënt te word voordat hulle na hul kantore mag terugkeer, berig The Guardian.Die stromingsdiens Netflix is ook die eerste ateljee wat dié voorwaarde aan sy akteurs en filmspanne, wat in nabye kontak met die akteurs kom, gestel het.’n CNN-aanbieder het op die lug gesê dié stappe is ’n duidelike boodskap van korporatiewe Amerika: “Word ingeënt of trap!”

29 Jul. 19:50:46

Pfizer ontwikkel 3de dosis teen variante

’n Derde dosis van Pfizer-BioNTech se Covid-19-entstof kan “sterk” beskerming teen die Delta-variant van die koronavirus bied, het Pfizer Woensdag in ’n verklaring bekend gemaak.

Volgens data van Pfizer kan die aantal teenliggaampies in mense tussen 18 en 55 jaar vervyfvoudig indien hulle ’n derde Pfizer-inenting kry.

Mense tussen 65 en 85 jaar se teenliggaampies neem elk keer toe ná die toediening van ’n tweede dosis van die entstof.

Daar het 23 mense aan die studie deelgeneem en die studie is nog nie gepubliseer nie.

CNN berig dr. Mikael Dolsten, aan die hoof van Pfizer se wêreldwye navorsing en ontwikkeling, sê die nuwe data is “bemoedigend”.

In ’n afsonderlike veiligheid- en datastudie oor die Pfizer-entstof, wat by medrvix.org gevind kan word, dateer Pfizer die bevinding op van meer as 44 000 vrywilligers wat wêreldwyd aan ’n studie deelneem.

Daar is bevind dat die entstof se doeltreffendheid tot meer as 96% styg ’n week tot twee maande nadat mense die tweede dosis ontvang het.

Dié doeltreffendheid neem dan stelselmatig af tot 83,7% vier tot ses maande ná inenting, met ’n geleidelike afname van sowat 6% oor die volgende twee maande.

Pfizer het vroeër vandeesmaand gesê hy sien ’n geleidelike immuniteitsafname in sy entstof en ontwikkel ’n derde inenting wat mens teen variante sal beskerm.Pfizer sal in Augustus by die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid aansoek doen vir die noodgebruik van ’n derde entstofdosis. - CNN.com

29 Jul. 19:50:37

29 Jul. 19:11:03

29 Jul. 18:53:53

Jongste syfers in SA

Daar is die afgelope 24 uur 13 751 nuwe infeksies aangemeld. Dit bring die totaal op 2 422 151 te staan.

Die positiwiteitskoers is 24,6%.

In dieselfde tydperk was daar 523 sterftes, wat die sterftesyfer opstoot tot 71 431.

Daar is tans 155 958 aktiewe gevalle in die land. Altesaam 2 194 762 mense kon van die virussiekte herstel.

Die meeste nuwe gevalle is in die Wes-Kaap (29%) aangemeld, gevolg deur Gauteng (27%), KwaZulu-Natal (14%), die Oos-Kaap en Mpumalanga (7%), Limpopo en Noordwes (5%), die Vrystaat (4%) en die Noord-Kaap (3%). 

Inentings

* Altesaam 215 066 mense (0,36% van die bevolking) het die afgelope 24 uur 'n Covid-19-inenting ontvang.

* Altesaam 7 297 912 entstowwe is al toegedien. 

* Altesaam 1 459 645 mense het al die Johnson & Johnson-entstof ontvang, terwyl 4 461 982 mense al die eerste dosis van Pfizer se Covid-19-entstof ontvang het, en 1 376 285 mense al albei dosisse van die Pfizer-entstof ontvang het.

* 4,75% van die Suid-Afrikaanse bevolking was teen Donderdagaand ten volle ingeënt teen die koronavirus.


Meer oor:  Infeksies  |  Hospitaal  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte  |  Gevalle  |  Entstof  |  Sterftes  |  Covid-19  |  Covid-19-Entstof  |  Bevelsraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.