Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 57: Meer as 6 000 in Wes-Kaap herstel al

VLAK 4 | DAG 57

Dit is dag 57 van die nasionale staat van inperking.

So lyk die jongste syfers in SA:

Hier volg die jongste verwikkelinge:

22 Mei 21:07:11

Meer as 6 000 in Wes-Kaap herstel al 

Meer as 6 000 mense in die Wes-Kaap wat positief vir die koronavirus getoets is, het reeds herstel.

Die premier, Alan Winde, het gesê 6 126 uit die 12 519 bevestigde gevalle het reeds herstel. In dié stadium het 6 136 mense steeds die virus.

Winde het sy simpatie betuig met die families van die 257 mense in die provinsie wat reeds aan Covid-19 gesterf het.

Hy het verder gesê dit is goeie nuus dat die helfte van die mense wat positief vir die getoets is, reeds herstel het.

Dit is ook belangrik om te onthou dat 90% van alle Covid-19-gevalle nie gehospitaliseer hoef te word nie.

Winde het Wes-Kapenaars daaraan herinner dat sommige mense soos bejaardes en diegene met onderliggende mediese toestande baie ernstig siek kan raak.

Mense wat nie so siek raak nie, kan die virus aan hulle oordra.

“Ons moet ons gedrag verander om dié mense wat ons lief het te beskerm.”

Hy het gesê dit is verblydend dat 65% van die Wes-Kaapse gesondheidswerkers wat met die virus besmet was, intussen gesond geword het.

Tot dusver is 421 gesondheidswerkers met die virus geïnfekteer en 274 van hulle het reeds herstel.

“Ongelukkig het ses gesondheidswerkers in die Wes-Kaap reeds gesterf. Hulle was ’n dokter, drie verpleegkundiges en drie algemene gesondheidswerkers.” het hy gesê.

Hy het sy medelye met hul families uitgespreek en gesê die provinsie is hierdie ses gesondheidswerkers baie dank verskuldig vir hul diens. - Marelize Barnard

22 Mei 19:25:54

SA se jongste Covid-19-syfers:

Daar is nou 20 125 bevestigde koronavirus-gevalle in Suid-Afrika. Die Wes-Kaap het met 12 888 steeds die meeste bevestigde gevalle.

In die afgelope 24 uur is 17 599 toetse gedoen wat die totale getal toetse op 543 032 te staan bring.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, sê nog 28 mense het gesterf en die totale Covid-19-dodetal is nou 397.

Altesaam 10 104 mense het reeds herstel.

Gevalle per provinsie:

Oos-Kaap: 2 459

Vrystaat: 185

Gauteng: 2 521

KwaZulu-Natal: 1 735

Limpopo: 120

Mpumalanga: 98

Noordwes: 80

Noord-Kaap: 39

Wes-Kaap: 12 888

22 Mei 15:22:28

Oor alkohol en sigarette

Waarom word mense in hegtenis geneem as hulle met drank in hul motors betrap word? Die regulasies is duidelik dat geen alkohol vervoer mag word nie. Of dit nou in jou sak of mandjie is. Jy mag dit nie vervoer nie. As jy dit van die een plek na 'n ander vervoer, sal jy in hegtenis geneem word. Jy kan dit net in jou eie huis drink. 

Net so mag sigarette in jou huis gerook word. Dit is nie onwettig nie. Die enigste probleem is wanneer ons dit in jou voertuig kry en jy nie kan sê waar en wanneer jy dit gekoop het nie. As jy ons jou koopbewys wys, sal ons gaan en die persoon in hegtenis neem wat dit aan jou verkoop het. As jy 'n klomp sigarette in jou huis het, kan jy dit rook.

Die koop en verkoop van sigarette is 'n oortreding tot die toepaslike regulasies verander word. 

Dit is die einde van die nuuskonferensie.

22 Mei 15:18:41

Bykans 280 000 oortredings in net meer as 'n maand

Cele antwoord: In een stadium teen einde April is sowat 107 000 sake geopen, met 118 000 mense wat die regulasies oortree het. In net meer as 'n maand was daar bykans 280 000 oortredings, waaronder oortredings waarby sigarette en drank betrokke was. Ons het nie syfers vir elkeen van die spesifieke oortredings nie.

22 Mei 15:16:54

Meer vrae

Joernaliste vra vrae oor onder meer hoeveel mense vir die onwettige verkoop en koop van sigarette asook ander oortredings van die regulasies in hegtenis geneem is, en of die besit van sigarette nou 'n misdaad is. Ook waarom mense net drie ure per dag buite mag oefen.

22 Mei 15:14:43

Mense moet nie polisie probeer omkoop

Cele sê aan Sitole dat mense ook nie polisiebeamptes moet probeer omkoop nie. Volgens Sitole sal opgetree word teen polisielede én diegene wat hulle omkoop, of teen mense wat polisielede probeer omkoop.

22 Mei 15:13:10

Sitole aan die woord

Hy wil oor die aktiwiteite van gemeenskapspolisiëringsforums praat.

Sitole sê daar was dié week 'n virtuele vergadering wat onder meer daaroor gegaan het om die forums se aktiwiteite aanlyn voort te sit.

Ons sal nog bespreek hoe ons dit sal benader noudat ons na vlak 3 beweeg. Ons werk ook met Opod saam om die meganismes in plek te kry om die bewerings van omkopery van ons lede te ondersoek. Ons doen ook 'n beroep op mense om enige omkoop-aktiwiteite onder ons aandag te bring.

22 Mei 15:11:43

Oor nuwe rekrute

Die polisie wou vanjaar 7 000 nuwe rekrute begin oplei. Veral met die skole wat weer open, gaan dit belangrik word. Die akademiese jaar is ook ontwrig wat betref ons opleiding, maar ons sal maniere vind om dit op te los. Ons is egter nog besig met beplanning oor die kwessie. Hy vra vir Sitole om "ook vir sy geld te werk" deur van die vrae te beantwoord.

22 Mei 15:10:23

Afdwing van regulasies

Ons werk as die polisie sal ook net wees om die regulasies van die vlak 3-inperking af te dwing. Ek kan nie sê wanneer presies dit sal gebeur nie.

22 Mei 15:09:02

Oor Collins Khoza appèl

Ek kan nie sê teen watter deel van die Khoza-uitspraak geappelleer gaan word nie.

Meer oor:  Vlak 3  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.