Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 58: Jongste Covid-19-syfers vir SA

Vlak 4 | Dag 58

Dit is Dag 58 van die nasionale staat van inperking.

Die jongste Covid-19-syfers is pas bekend gemaak. 

21 343 - die getal bevestigde koronavirus-infeksies in SA

10 bykomende Covid-19-verwante sterftes is sedert gister bekend gemaak. 407 mense is tot dusver aan Covid-19 dood. 

Volg hier die jongste verwikkelinge:

23 Mei 21:34:12

Jongste Covid-19-syfers:

21 343 - die getal bevestigde koronavirus-infeksies in SA. Dit is 'n styging van 1 218 in die afgelope 24 uur.

10 bykomende Covid-19-verwante sterftes is sedert gister bekend gemaak. Dit bring die dodetal op 407 te staan. 

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het ook Saterdagaand die jongste syfers oor die Covid-19-pandemie bekend gemaak.

Totale getal infeksies wat oor die wêreld heen aangemeld is: 5 103 006. Daarvan is 109 536 die afgelope 24 uur aangemeld.

Totale getal sterftes wat aangemeld is: 333 401. Daarvan is 5 663 in die afgelope 24 uur aangemeld. 

23 Mei 20:59:11

Vlak 3 Sondag aangekondig?

Pres.Cyril Ramaphosa sal Sondagaand om 19:00 met die land praat oor die jongste verwikkelinge in Suid-Afrika se strategie om die verspreiding van Covid-19 te beheer.

Die presidensie sê in ’n mediaverklaring die president se toespraak, wat regstreeks uitgesaai sal word, volg op onlangse vergaderings van die kabinet, die nasionale koranavirus-bevelsraad en die presidensiële koördineringsraad, wat die vooruitsigte vir die afskaling van die staat van inperking van vlak 4 na vlak 3 oorweeg het.

“As deel van die ondersoek na moontlike vooruitsigte en ’n voortgesette assesering van die gesondheids-, maatskaplike en ekonomiese impak van die pandemie, het pres. Ramaphosa ook oorlegplegingsvergaderings gehad met die sake- en arbeidsektore, gemeenskapsafvaardigings van die nasionale ekonomiese ontwikkelings- en arbeidsraad, (Nedlac), leiers van politieke partye in die parlement, geloofsleiers, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke asook die toerismebedryf, wat die grootste enkele werkverskaffer in die land is.

Die president se toespraak sal ook regstreeks op Netwerk24 uitgesaai word. 

23 Mei 20:41:47

Pres. Cyril Ramaphosa sal Sondagaand om 19:00 aankondigings doen oor die land se strategie om Covid-19 te bestry. Meer besonderhede binnekort.  

23 Mei 16:55:23

Werk of studeer jy in die buiteland? Lees hier!

Noodsaaklike reis vir Suid-Afrikaners wat wil terugkeer na lande waar hulle werk of studeer, is goedgekeur. Die volgende vyf redes is geldig:

- Werk

- Studie

- Gesinshereniging

- Permanente verblyfreg wat opgeneem word

- Ontvang van mediese hulp

Dr. Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake, sê in ’n mediaverklaring Suid-Afrikaners wat wil terugkeer na die lande waar hulle woon, moet die volgende hê:

(a) ’n Geldige Suid-Afrikaanse paspoort

(b) ’n Brief wat toegang in die huidige omstandighede bevestig van die ambassade of ander diplomatieke / konsulêre verteenwoordiger van die land waarheen gereis word. Diegene wat per pad of met vlug-aansluitings reis, moet toestemming hê van elke land van deurgang. 

(c) Bewys van reismiddele soos vlieg- of buskaartjies en die beoogde vertrekdatum.

Suid-Afrikaners wat in dié kategorieë val en aan die kriteria voldoen, kan ’n e-pos stuur aan Covid19travel@dha.gov.za. 

Reisigers wat aan die kriteria voldoen, sal ’n e-pos met toestemming ontvang. Mense wat as ’n groep aansoek doen, kan een e-pos stuur met die stawende dokumente vir elke lid van die groep.

Tolvrye nommer vir navrae: 0800 60 11 90

23 Mei 15:22:37

Mnisi gee kontaknommers vir navrae:

Die departement se inbelsentrum: 0800 872 222

NSFAS: 080 006 7327

Epos: info@nsfas.org.za

Vir Seta-navrae: 012 312 5896 of ngubane.m@dhet.gov.za

Die nuuskonferensie word afgesluit.

23 Mei 15:21:36

Virus bly nog tot volgende akademiese jaar

Nzimande sê ter afsluiting van die nuuskonferensie dit is moeilik om te bepaal wanneer daar na die verskillende vlakke beweeg sal word en dit is waarom daar nie konkrete datums vir heropening van instellings gegee word nie, maar die proses sal deur wetenskaplike feite gelei word.

"Ons sal van tyd tot tyd aankondigings daaroor maak.

“Ons kan net hoop dat ons die virus kan oorwin. Maar ons sal heel waarskynlik tot volgende jaar daarmee moet leef totdat ons 'n entstof kry. Dit kan tussen 12 en 18 maande duur omdat dit eers getoets moet word.

“Suid-Afrika is deel van die proewe wat internasionaal gedoen word vir 'n entstof. Ons bou ook aan ons vermoë om die entstof plaaslik te kan vervaardig as dit die dag gekry word. Ook vir die res van Afrika.

“Maar tot dan moet ons aan alle maatreëls voldoen om onsself en ander te beskerm. Ons sal almal op die hoogte hou soos ons aangaan. Mense is ook welkom om enige tyd vrae te vra.”

Nzimande sê mense wat ander op opportunistiese en populistiese wyses mislei oor hoe om met die virus te handel, moet daarmee ophou.

“Baie van hulle blameer die president vir alles wat hy doen. Dit is manga-manga leiers omdat hulle nie beginsels het nie. Daarmee kritiseer ek ook nie studenteleiers nie.”

Manamela sê hulle het ook vergader met eienaars wat huisvesting aan studente verhuur, oor hoe die prosesse verder benader moet word.

“Daar was ook ouers wat kla dat hulle vooruit vir huisvesting en kos vir hul kinders betaal het en nou sit hulle by die huis. Ons het ‘n ondersoek daaroor laat doen en wag op 'n verslag voordat ons besluite sal neem.

“Ons hoofdoel is om toe te sien dat die akademiese jaar voltooi word. As daar reeds vooruit vir die jaar betaal is, sal ons verseker dat studente nie verder betaal wanneer hulle terugkeer nie. Ons sal later meer aanbevelings daaroor maak sodra ons ondersoeke afgehandel is.

“Ons het nie gekies om onder die pandemie te leef nie, maar ons sal toesien dat enige ooreenkomste wat tussen ons en tussen studente en die verskaffers van private huisvesting getref is, nagekom word. Ons is besig met gesprekke daaroor.”

23 Mei 15:14:44

Hoe dit hoërisiko-groepe raak

Dr. Ramneek Ahluwalia, uitvoerende hoof van die organisasie Higher Health, praat nou oor personeellede en studente wat aan onderliggende siektes ly en of hulle moet terugkeer na kampusse as dit heropen.

Hy sê onder meer dat daar veral gekyk moet word na personeel wat ouers is as 60 jaar, en studente wat aan ernstige onderliggende siektes ly.

Volgens hom het die departement van gesondheid en die departement van arbeid riglyne daaroor opgestel.

Daarom moet universiteite en ander tersiêre instellings ook reël dat ouers, personeellede en diegene wat onderliggende siektes het, van die huis af werk.

Soos die vlakke van inperking afgeskaal word, sal die verspreiding van die virus in gemeenskappe ook toeneem.

Daarom is dit belangrik dat personeel en studente wat in dié kategorieë val, aan die streng gesondheids- en veiligheidsmaatreëls, asook aan alle protokolle oor persoonlike beskermende toerusting, voldoen.

23 Mei 15:06:27

Hulpbehoewende studente 'kan net een keer druip'

Nzimande sê dan dat Higher Health ‘n baie belangrike rol speel, maar nie die departement van gesondheid vervang nie.

Dit is net ‘n instelling wat kampusse help om hul gesondheidsplanne in plek te kry en te handhaaf.

Hy sê baie studente vra dat hy die regering se beleid oor NSFAS-studente verduidelik. Veral omdat daar nou studente is wat opstandig is en wil hê die NSFAS-studente wat twee keer gedruip het, moet steeds ondersteun word.

“In die verlede het NSFAS nie vir alles betaal nie. Dit was destyds ook ‘n lening wat terugbetaal moes word. Sedert 2018 is dit ‘n beurs waar ons vir studies, kos, akkommodasie en selfs vir persoonlike sorg  betaal. Baie min lande het só 'n stelsel om arm studente te help.

“Ons kan sulke studente net toelaat om een keer te druip. As dit meer as een keer gebeur,kan ons hulle nie meer ondersteun nie. Ek kan daarom nie verstaan waarom studente wat meer as een keer gedruip het, nou wil beswaar maak omdat ons hulle nie meer verder kan help nie.

“Dit kan nie gebeur terwyl daar baie arm studente is wat baie goed doen nie en ander wat nie gehelp word nie, wat wil deurgaan. Ek het studente gevra om my te oorreed oor waarom ons studente wat meer as een keer gedruip het, moet aanhou ondersteun.

“As regering moet ons ook onthou dat minder as 12% van gr. 1-eerlinge uiteindelik universiteit toe sal kan gaan. Die meeste van dié mense sit by die huis en leef in armoede. Hulle moet ook op ‘n manier gehelp word.

“Nou vra die NSFAS-studente dat ons hulle moet toelaat om twee keer te druip. Dit kan nie wees nie. Ek het ‘n plig om hieroor te praat, want ek weet baie goed hoe die regering uit sy pad gaan om arm studente te help." 

Nzimande sê die regering is ook bewus van die lot van die vermiste middel-studente wie se ouers nie arm is nie, maar wat nie hul studies kan bekostig nie.

“Ons is besig met ‘n plan om bekostigbare lenings aan sulke studente beskikbaar te maak. Ons vra ook dat instellings en mense wat kan, moet help om skootrekenaars vir sulke studente te kan aankoop.”

Nzimande se reëlings vir die vervoer van studente oor provinsiale grense na hul instellings sal ook in plek gesit word.

23 Mei 14:53:04

Veiligheid by universiteite ook bron van kommer

Nzimande sê in antwoord op van die ander vrae dat hulle na aanleiding van ‘n voorval by die Fort Hare-Universiteit baie bekommerd is oor veiligheid op kampusse.

“Ons is ontwrig deur die pandemie, want ons wou ‘n beraad hou oor gesondheid en veiligheid op kampusse. Ons hoop werklik dat ons ná die pandemie met ons instellings en wetstoepassers saam kan werk in dié verband.

“Daar is niks so hartseer as ‘n ouer wat sy kind universiteit of kollege te stuur en daardie kind kom in ‘n kis huis toe pleks van met 'n graad. Dit is dus ‘n baie ernstig bron van kommer vir ons.

“Miskien moet ons 'n baie diep ondersoek doen na oor die oorsake van onstabiliteit op ons kampusse, oor waarom daar sulke geweld op kampusse is. Kampusse is deel van ons breër samelewing, maar ons moet iets daaraan doen.”

Hy sê ook dat hulle tans niks kan doen oor gradeplegtighede nie. “Ek onthou myne wat in 1980 was, baie goed. Dis 'n baie baie belangrike gebeurtenis en miskien moet ons vir nou ander maniere vind om dit te vier.”

Manamela sê dit is duidelik dat studente bekommerd is. “Baie dink ons het die akademiese jaar verloor, maar dit is nie die geval nie. Daarom maak ons al hierdie uitgebreide planne en doen stappe om die jaar te red of te herorganiseer.”

Hy sê die departement wil alle studente help wat data of skootrekenaars nodig het, maar dat hulle eerste fokus daarop om hulpbehoewende studente te help.

“Daar is baie ander studente wat ook staatshulp nodig het soos die vermiste middelgroep, maar ons moet fokus op die heel armstes. Die minister het ook aangedui dat universiteite reeds begin ingryp het en sodoende baie meer studente gehelp het om skootrekenaars te bekom.

“Die probleem is nie so groot soos ons gedink het nie en ons het geen bedoeling om enigiemand uit te laat nie, maar dit is regeringsbeleid om die kwesbaarste studente te help.”

23 Mei 14:42:23

Akademiese jaar kan dalk aangepas word as ons op vlak 4 bly

Buti Manamela, adjunkminister van hoër onderrig, wetenskap en tegnologie, antwoord op ‘n vraag oor die aanlyn onderrig van studente.

Hy sê dit is nie die enigste manier hoe studente tydens die inperking kan leer nie. “Ons het benadruk dat daar probleme sal wees. Studente het geregistreer om fisiek klasse by te woon. Maar ons moet in die tyd gebruik gemaak word van verskillende maniere vir studente om te kan leer.

“As studente nie aanlyn kan leer nie, sal daar ander maniere wees om hulle te ondersteun. Ons wil weer benadruk dat geen student agter gelaat sal word nie. Ons is nou nog in vlak 4 en as studente nie kan terugkeer nie, sal die akademiese kalender aangepas word sodat alle studente die jaar kan voltooi.

“Alle universiteite inplementeer die programme soos dit gepas is vir die soort studente aan wie hulle onderrig moet verskaf.

“Duisende studente verwag ook om fisiek te gradueer, maar elke universiteit sal besluit hoe hulle gradeplegtighede sal hanteer. Dit is jammer dat ons in die situasie is. Ons sien reeds hoe baie studente aanlyn hul grade kry. Dit is ongelukkig die tyd waarin ons leef wat dit veroorsaak.”

Manamela sê dit is ook duidelik gemaak dat universiteite moet besluit watter kursusse die prioriteit onder elke vlak van inperking moet wees vir hul onderskeie kampusse. “Alle rolspelers moet op leierskapsvlak betrek word. Ons sal nie voorskryf hoe dit gedoen moet word soos die studente ingefasseer word nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.