Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
DAG 64: Beperkings in onderskeie brandpunte sal verskil

Dit is dag 64 van die nasionale staat van inperking.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, vergesel van lede van sy adviesraad, het 'n voorlegging aangebied oor verwikkelinge rondom vlak 3 wat betref gesondheid.

Volg die stroom hier:


Lees die jongste verwikkelinge hier:

29 Mei 22:33:38

Die voorlegging is verby.

29 Mei 22:28:54

‘Verskillende beperkings kan vir die verskillende brandpunte geld’

Mkhize herhaal dat enige geografiese gebied wat meer as vyf positiewe gevalle per 100 000 mense het, as ’n brandpunt geklassifiseer moet word. 

Nog kwessies wat in ag geneem word, is die vlak van gereedheid van die gesondheidstelsel - soos hoeveel beddens daar in waakeenhede is. Wat die brandpunte betref, sal spanne vasstel wat die risiko-faktore is. 

Waar daar kluster-uitbrekings is, is daar bepaalde patrone met bewegings of gedragspatrone wat problematies is. 

Dan kan sekere beperkings geplaas word om die uitkoms te kry wat ons soek. 

Die beperkings sal van geval tot geval en van gebied tot gebied bepaal word. In ’n sekere gebied kan daar dalk te min isolasie-beddens wees en in ander gevalle kan infeksies in fabrieke ’n faktor wees. 

Ons het nie 'n vooropgestelde lys van berperkings nie. Die beperkings sal ontwerp word vir ’n gegewe gebied om die infeksiekoers af te bring.

29 Mei 22:19:03

Trump sê VSA breek alle bande met WGO

Pres. Donald Trump het Vrydagaand aangekondig dat die VSA permanent alle bande met die Wêreldgesondheidsorganisasie verbreek weens die WGO se hantering van die Covid-19-pandemie.

Trump meen die WGO het 'n marionet van China geword.

Trump het weer gesê dat hy nie meer finansiële bydraes aan die organisasie wil maak nie.

Die WGO het nie hervorm soos Trump versoek het in 'n brief wat op 18 Mei aan die direkteur-generaal van die WGO, Tedros Adhanom Ghebreyesus, gestuur is nie.

In die brief word die WGO 30 dae tyd gegun om hom tot hervorming te verbind.

Trump het gesê dat Chinese amptenare hul "verpligtinge oor die virus versaak het" en druk op die WGO toegepas het om die "wêreld te mislei" toe dit virus aanvanklik ontdek is.

"China het totale beheer oor die WGO," het hy gesê. - Reuters

29 Mei 22:15:50

Rakleeftyd van monsters

Kamy Chetty van die NGLD praat oor die rakleeftyd van monsters. 

Die kenners is bekommerd oor monsters wat ouer is as vyf dae. Daar word oorweeg om die monsters te verwerp. Daar is wel studies wat daarop dui dat dit langer kan hou as die monsters verkoel word.

In die stadium is daar egter geen uitsluitsel oor die kwessie nie. 

Kerrigan McCarthy van Nios sê as ’n pasiënt met longonsteking by die hospitaal aankom, sal hy in ’n spesifieke saal gehou word. 

As die resultate lank neem, neem dit langer vir ’n pasiënt om toegewys te word aan ’n saal vir spesifiek Covid-19 of ’n saal waar ander pasiënte behandel word. 

As die toets sloer, sal mense wat wag in isolasie moet bly vir ’n tydperk van 14 dae. Dit is belangrik om vas te stel of daar mense is wat dringender getoets moet word. Ons moet ook vasstel hoe ons gaan optree om die pandemie te bestuur as daar nie toetse beskikbaar is nie.

29 Mei 22:10:18

Pasiënte ná 14 dae gesond verklaar

Karim sê die oorspronklike kriteria om ’n pasiënt te diagnoseer, was een positiewe toets. 

Voordat hy gesond verklaar word, moes hy twee keer negatief getoets het. Die WGO het egter sy kriteria verander.

Dit is nie noodsaaklik om ’n negatiewe uitslag te kry om iemand gesond te verklaar nie. 

Ná 14 dae kan iemand gesond verklaar word. 

Wanneer iemand egter in die hospitaal opgeneem word, moet hy 14 dae wag nadat hy stabiel is voordat hy gesond verklaar kan word. 

Volgens Karim het die regering verskeie benaderings om te skat hoeveel gevalle en onbespeurde gevalle daar is.

Dit kan gedoen word deur sterftes te monitor.

Daar is ook ander metodes.

29 Mei 21:58:57

Daar word nou met onderwysdepartement saamgewerk oor opening van skole

Lesley Bamford, ’n kenner, sê hulle werk nou met die onderwysdepartement saam oor die heropening van skole. 

Party skole sal gereed wees om volgende week te heropen, maar ander nie. 

Mohern Archary, ook ’n kenner, sê uit beskikbare data lyk dit oor die algemeen dat kinders minder geneig is om Covid-19 oor te dra aan ander kinders en volwassenes.

Hulle raak meestal ook net matig siek. Daarom kan leerlinge op ’n gestruktureerde manier terugkeer skool toe.

29 Mei 21:55:24

Voorlopige aanduidings is dat teenliggame teen Covid-19 geproduseer word

Dit lyk voorlopig of mense wel teenliggame produseer teen Covid-19.

Volgens Karim wys die tweede vlaag in China dat pasiënte wat reeds Covid-19 gehad het en weer besmet word,nie weer siek word nie.

Ons weet egter nie of hulle weer die infeksie kry nie. 

Daar is nie bepalende data nie. Dit lyk in hierdie stadium dat die liggaam teenliggame teen Covid-19 produseer.

29 Mei 21:49:11

Mkhize besoek die Wes-Kaap volgende week

Mkhize sal volgende week die Wes-Kaap besoek. 

Pres. Cyril Ramaphosa sal dalk saamgaan. 

Die regering sal elke twee weke besluit op watter vlak van die inperking ’n bepaalde gebied moet wees. 

Dit neem soms tot twee weke voordat simptome wys en daarom is dié tydperk goed, sê Mkhize. 

Mkhize sê die regering se benadering is om oplossings te vind vir die agterstand in toetse. As daar na die data gekyk word, kan uitgewerk word wat die uitdagings is gegrond op die toetse wat reeds gedoen is. 

Die agterstand in die Wes-Kaap moet so gou moontlik uitgeskakel word. 

Volgens Mkhize moet dit gebeur dat kontakte dadelik geïsoleer en onder kwarantyn geplaas word.

’n Aggressiewe benadering kan die mate van verspreiding verminder. 

Mense moet ook inkoop en gesondheidsmaatreëls nakom. 

Volgens Mkhize is laasgenoemde belangriker vir die regering as die toetsstrategie.

29 Mei 21:46:06

29 Mei 21:43:45

Meer oor:  Vlak 3  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.