Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
OORSIG DAG 97: 8 124 nuwe gevalle aangemeld

Dit is dag 97 van die nasionale staat van inperking.

Pres. Cyril Ramaphosa praat met gemeenskappe en beantwoord mense se vrae. Kyk hier na die regstreekse uitsending:

So lyk Suid-Afrika se syfers Woensdagaand:

01 Jul. 21:04:43

01 Jul. 19:14:28

Dit is die einde van die imbizo.

01 Jul. 19:13:53

Ten slotte: Verander jou gedrag en was jou hande!

Ramaphosa sluit af en sê soos die infeksies en sterftes styg, is ons net soos baie ander lande besig om deur die troebel waters te gaan.

Ons as individue moet ons gedrag verander en na onsself en ons geliefdes kyk.

Mense moet na hul eie veiligheid kyk om hul lewens te red.

Ons wil die boodskap herhaal. Oor die eenvoudige dinge waaroor ons praat. Oor higiëne.

Die virus word versprei deur druppels wat ons deur ons monde en neuse in ons liggame kry.

Ons moet aanhou hande was en maskers dra om ons neuse en monde te beskerm.

Soos ek op baie plekke gesien het, is daar baie mense wat dit steeds nie doen nie.

As jy jou huis verlaat, bedek jou mond en neus en was jou hande soveel as moontlik. En handhaaf veilige afstande.

Om naby mekaar te staan, is baie gevaarlik. Die virus is gevaarlik en besmet enigiemand. Die infeksies sal styg. Ons moenie paniekbevange raak nie.

Ons hou aan om ons gesondheidstelsel te versterk. Dit is uitdagend maar ons doen dit.

Wat bevredigend is, is dat ons sterftekoers 1,8% is. Ander lande s'n is 5%.

Ek vra alle Suid-Afrikaners om hul gedrag te verander.

Ons het al begin om met die gevolge van die pandemie te handel. Ons het planne, strategieë en inisiatiewe van hoe ons dit gaan doen. Ons gaan nog imbizo's hou om die moeilike vrae van mense te beantwoord omdat die regering moet aanhou om verantwoordbaar te wees teenoor die mense van SA. Baie dankie.

01 Jul. 19:10:36

Pandemie bring geleentheid om ekonomie reg te ruk

Op nog 'n vraag antwoord Ramaphosa dat Covid-19 'n donker wolk vir die land is, maar dat dit ook 'n silwer rand het.

Ons moet kyk na die geleenthede wat die oomblik bied.

Ons kyk na verskeie geleenthede wat weens die pandemie ontstaan het.

Soos byvoorbeeld die herstel van die ekonomie. Die pandemie het die verwoestende effek van armoede, werkloosheid, honger en ongelykheid dramaties na die voorgrond gebring.

Ons moet na geleenthede kyk om die probleme op te los.

Dit is waarom ons gesê het dat die R500 miljard wat ons beskikbaar gestel het, die situasie sal stabiliseer. Ons moet egter nog 'n fase hê waarin alle rolspelers in die samelewing saam moet werk om 'n nuwe visie vir die land daar te stel.

Ons moet 'n nuwe pakt en visie vir die land daarstel wat kollektief deur al ons mense besit word. Ons mense moet dit ondersteun.

Aan Louis, 'n inbeller, wil ek sê die oomblik het vir ons baie geleenthede gebied om die visie te skep wat ons wil gebruik om vorentoe te beweeg.

01 Jul. 19:07:32

Heropening van skole 'n 'berekende risiko'

Sandile het gevra oor die reg op lewe en die heropening van skole.

Ramaphosa sê die land voldoen aan die reg op lewe.

Dit is belangrik en heilig vir ons. Terselfdertyd moet ons mense se lewensbestaan net soos hul lewens beskerm.

Daarom moet ons 'n balans vind.

Die heropening van skole is deeglik met onderwysers en alle ander belanghebbendes bespreek.

Ons het gedink dit sou 'n berekende risiko wees om miljoene kinders terug te stuur skool toe sodat ons nie die akademiese jaar verloor nie.

Ons het streng higiëniese praktyke - soos die dra van maskers en die verskaffing van water - ingestel. Daar was baie infeksies.

Die meeste daarvan is egter van die huise af gebring. Net so was daar baie infeksies in werksplekke. Maar dit is 'n virus waarmee ons moet saamleef.

Besmettes moet geïsoleer word en dit het ons herhaaldelik gesê. Die reg op lewe moet ten alle tye beskerm word.

Dit is heilig. Maar ons kon terselfdertyd nie almal weghou van normale aktiwiteite nie. Dit sou nie volhoubaar wees nie. Baie ander lande het dieselfde probleme.

01 Jul. 19:04:34

Daarom is alkoholverbod opgehef

Ramaphosa sê die nasionale koronavirus-bevelsraad het die kwessie oor die alkoholverbod deeglik bespreek.

Daar is besluit dat die alkoholverbod op vlak 3 opgehef moet word - net soos ander ekonomiese aktiwiteite.

Die rasionaal was dat sekere aktiwiteite nie vir ewig gesluit kon bly nie en die lewe moet kan aangaan met beperkinge.

Daar is beperkings ingestel.

Maar nadat ons die alkoholverbod opgehef het, het ons weer die lelike kant van ons sosiale lewe gesien. Daar was die misbruik van alkohol wat tot geslagsgeweld, ongelukke, meswonde en vuurwapengevegte gelei het.

Hospitale se trauma-eenhede loop sedert vlak 3 begin het, weer oor met sulke beserings.

Dit is baie jammer. Die ander deel wat ook jammerlik is, is dat ons een van die lande in die wêreld is wat die hoogste vlakke van alkoholverbuik het.

Ons moet 'n diep gesprek hieroor hê.

Ons kon dit nie verewig verbied nie. Alkohol is ook gevaarlik vir mense en daar is talle ander negatiewe effekte van alkohol.

Dit bekommer ons as nasie.

Jy wou ook weet wat die rasionaal agter die ophof van die aandklokreël was.

Op vlak 3 moet ons almal goeie redes hê om rond te beweeg.

Mense gaan werk toe, skool toe, gaan koop kos of gaan oefen.

Mense moet 'n rede hê om buite hul huise te wees. Bedags en saans. Ons het gemeen dit is genoeg, die aandklokreël is nie meer nodig nie.

Ek het nie die vraag oor padblokkades mooi gehoor nie, maar dit word steeds gedoen. Alhoewel dit nie meer so baie soos op vlak 5 gebeur nie.


01 Jul. 18:57:09

Die oproeper sê daar is nog tien minute oor en dat daar nou gekyk sal word na vrae wat op sosiale media gevra is.

Granville Scheepers wil weet wat die rasionaal was om die verbod op alkohol op te hef.

Sandile Khumalo vra op Twitter waarom die reg op lewe nie in ag geneem is toe skole heropen en die alkoholverbod opgehef is nie.

01 Jul. 18:55:10

Cyril antwoord 'n  vraag oor privatisering

Oor die kwessie van privatisering:  Ons leef in 'n land wat hom verbind het tot 'n gemengde ekonomie.

Daar sal die openbare sektore wees wat 'n sleutelrol in die ekonomie speel, asook die private sektor.

Sekere entiteite of maatskappye word deur die staat besit en ander deur die private sektor. Dit gebeur in baie lande.

Selfs die lande wat hulself sien as hoogs kapitalisities, het ook maatskappye wat deur die staat en die private sektor besit word.

Daar is diegene wat altyd vra dat dié of dat geprivatiseer word.

Ons is op 'n ontwikkelingstrajek in die land en glo daar is 'n paar maatskappye wat 'n noodsaaklike rol in die lewe van ons mense kan speel.

Ons is 'n ontwikkelende staat wat ons mense se lewe wil verbeter en daarom het ons maatskappye nodig wat ontwikkelingsgerig vir ons mense moet wees. 

Toe ons 'n demokrasie geword het, het minder as 50% van ons mense elektrisiteit gehad. Mense in diep landelike gebiede het destyds nie krag gehad nie omdat dit nie as winsgewend beskou is nie.

Ek kan onthou my ouma was een van daardie mense. Dit was eers ná 1994 dat ons deur Eskom elektrisiteit in sulke gebiede kon kry.

Maar soos ons Eskom gaan herstruktureer, gaan ons meer fokus op die ontwikkelingsrol wat Eskom moet speel. Daarom is daar ruimte vir staats- en private entiteite in ons land en ons glo dat sommige maatskappye in staatshande moet bly.

01 Jul. 18:51:01

Cyril sê waarom doodstraf afgeskaf is

Hy sê hy wil antwoord oor die doodstraf, hoewel hy nie die konteks gehoor het waarin dit gevra is nie.

Hy sê hy neem aan dat die inbeller wil hê die doodstraf moet teruggebring word.

Ramaphosa sê daar is 'n Handves van Menseregte in die Grondwet wat die reg op lewe insluit.

Hy sê die konstitusionele hof het bevind dat die reg op lewe teenstrydig is met die doodstraf en dit is waarom die doodstraf laat vaar is.

Ons is nie die enigste land wat dit gedoen het nie en al hoe meer lande raak ontslae van die doodstraf uit respek vir die reg op lewe.

Die argument hier is dat ons 'n grondwetlike demokrasie is en verbind is tot die Grondwet wat dié reg waarborg.

Ek verstaan as verskriklike misdade veral teen ons vroue en kinders gepleeg word, dat daar versoek word dat die doodstraf teruggebring word.

Ons verstaan waarom mense dié diep gevoelens ten opsigte van sulke misdade het.

Ons is egter gebind deur ons Grondwet.

Daar is ander maniere hoe ons oortreders van sulke misdade kan straf.

As iemand byvoorbeeld 'n vrou of kind verkrag of vermoor, sê ons dat die persoon lewenslange tronkstraf moet kry. 

As jy 'n vrou of kind vermoor, moet 'n lewenslange vonnis lewenslank beteken.

Die oortreder moet nooit weer uit die tronk kom nie omdat hy of sy iemand anders se basiese reg geskend het. Dit moet tronkstraf van harde arbeid wees.

01 Jul. 18:42:18

Wat van die doodstraf?

Volgens die omroeper wil 'n inbeller weet waarom die doodstraf nie teruggebring word nie.

Meer oor:  Vlak 3  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.