Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
COVID-OORSIG: Covid-19 eis al meer as 2 950 in SA

Dit is dag 99 van die nasionale staat van inperking.

Die jongste syfers soos Vrydagaand bekend gemaak:

  • Dr. Zweli Mkhize het Donderdagaand in sy daaglikse nuusverklaring wat die jongste Covid-19-syfers bevat, aangekondig 8 728 nuwe gevalle is op een dag in Suid-Afrika aangemeld.
  • Die departement van basiese onderwys het Donderdag bekend gemaak net leerlinge in gr. R, gr. 6 en gr. 11 keer Maandag terug skool toe.

Hier volg die jongste verwikkelinge.

03 Jul. 20:46:07

Die departement van gesondheid het Vrydagaand die jongste Covid-19-syfers bekend gemaak.

Daar is nóg 'n 108 mense dood wat die sterftesyfer op 2 952 te staan bring.

9 064 nuwe gevalle is aangemeld; daar is altesame 177 124 gevalle tot dusver aangemeld.

03 Jul. 20:20:44

Gautengse LUR het virus 

Tasneem Motara, LUR vir infrastruktuurontwikkeling en eiendomsbestuur in Gauteng, is positief getoets vir die koronavirus.

Motara, wat in die laaste tyd aan die voorpunt gestaan het om die provinsie se gesondheidsinfrastruktuur reg te ruk vir die stryd teen die pandemie, het haar resultate Vrydag gekry nadat sy Woensdag getoets is.

Motara sal ingevolge die protokolle van die Wêreldgesondheidsorganisasie twee weke in isolasie deurbring.

David Makhura, premier van Gauteng, en lede van die provinsiale regering het Motara Vrydag ’n spoedige beterskap toegewens.

03 Jul. 19:10:29

Brittanje beëindig kwarantyn vir toeriste van meer as 50 lande

Brittanje het sy verpligte Covid-19-kwarantyntydperk vir toeriste van meer as 50 lande opgehef, waaronder Duitsland, Frankryk, Spanje en Italië, maar nie vir Amerika nie.

Die regering se besluit, wat Vrydag aangekondig is en op 10 Julie in werking tree, maak dit ook vir miljoene Britte moontlik om somervakansies in dié lande te gaan hou sonder om hulle te bekommer oor enige kwarantynregulasies wanneer hulle terugkeer.

Vir mense wat van lande kom wat steeds as ’n hoë risiko beskou word, geld die oorspronklike regulasies van 14 dae in selfkwarantyn, ’n besluit waarmee lugdienste en reisagentskappe nie saamstem nie.

Boris Johnson, Britse premier, en sy regering het dae lank gedebatteer oor hoe die kwarantynregulasies verslap moet word.

Skotland, Wallis en Noord-Ierland, wat hul eie gesondheidsbeleid volg, het nog nie hul planne bekend gemaak nie.

“Vandag het ons die volgende stap gedoen om ons groot nasie met omsigtigheid te heropen,” het Grant Shapps, Brittanje se minister van vervoer, gesê.

Ander Europese lande het, soos wat die verspreiding van die koronavirus op die vasteland afgeneem het, reise ná meer as drie maande heropen. – Reuters

03 Jul. 19:08:50

Polisekantore in Laudium, Norwood sluit weens virus

Polisiekantore in Norwood en Laudium in Gauteng is Vrydag tydelik gesluit nadat polisielede positief vir die koronavirus getoets is.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, sê ’n gemeenskapsdienssentrum is tydelik by Blue Room, 200 m van die Norwood-polisiekantoor in Paterson-straat, ingerig.

“Mense word aangeraai om 10111 te skakel in geval van noodgevalle of klagtes wat die polisie moet hanteer. Die telefoonlyne by Norwood en Laudium sal vir die duur van die ontsmetting van die kantore buite werking wees,” sê Peters.

Die Laudium-polisiekantoor is ook Vrydag gesluit nadat twee polisielede positief getoets is.

“Lede sal ’n gemeenskapsdienssentrum uit die Laudium-burgersentrum op die hoeke van 6de Laan en Tangerine-straat bestuur,” sê Peters.

Dit is nie seker wanneer die polisiekantore heropen nie.

03 Jul. 18:13:54

Só lyk Gauteng se jongste syfers:

In Gauteng is nou 49 937 aangemelde gevalle van mense wat die koronavirus onder lede het.

Dit beteken daar was 3 993 nuwe gevalle in 24 uur. In die provinsie het 14 097 pasiënte reeds van die virussiekte herstel.

Volgens ’n verklaring van die Gautengse gesondheidsdepartement is die sterftesyfer 282 nadat 38 mense in die laaste 24 uur in die provinsie dood is.

So lyk die situasie in Gauteng se streke:

• Johannesburg: 24 244

• Ekurhuleni: 10 797

• Tshwane: 7 895

• Sedibeng: 1 919

• Wes-Rand: 3 160

• Nie-toegeken: 1 922

03 Jul. 14:55:24

03 Jul. 14:55:15

03 Jul. 14:55:06

03 Jul. 14:54:50

03 Jul. 14:54:43

Klerksdorp-burgersentrum gesluit

Die burgersentrum in Klerksdorp is tydelik gesluit nadat ‘n werknemer positief vir Covid-19 getoets is.

Die Matlosana-munisipaliteit in die gebied sê in ‘n verklaring die kantore word nou eers behoorlik ontsmet en dat die hoofgebou weer Maandag sal oopmaak.

Die munisipaliteit is ook deurgaans in kontak met die departement van gesondheid.

Noordwes het volgens die jongste statistiek wat Donderdag bekend gemaak is, nou 4 788 bevestigde koronavirusgevalle. 865 mense in die provinsie het herstel en sewe is aan die virussiekte dood.

Die getalle van bevestigde infeksies in Noordwes styg ook nou skerp. Dit het vanaf Woensdag- tot Donderdagaand met 406 gevalle toegeneem. – Susan Cilliers

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.