Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dam van nood kan breek, waarsku Helpende Hand

Die nood onder hulpbehoewende mense in die Vrystaat is te midde van die staat van inperking geweldig hoog, waarsku Kobus Venter van Solidariteit Helpende Hand in die provinsie.

Venter het op die eerste dag van die inperking steeds rondgery om kos soos mieliemeel by mense in Bloemfontein af te laai, maar hy is baie bekommerd oor die nood in die platteland.

Sarie Els, hoof: inwonersake van Athalia Uitreik, met mieliemeel wat sy van Helpende Hand gekry het vir die inwoners. Athalia het tans 11 huise en 260 inwoners. Altesaam 90% van hulle kry net Sassa-toelaes.Foto: Verskaf

“My streek sluit plattelandse dorpe in wat ook erg gebuk gaan onder die inperking. Baie van die mense is dagloonwerkers wat nou by die huis sit. Karwagte kon elke dag se sowat R100 gebruik om kos te koop, maar daardie geld is nou weg.

“Ek het toestemming om te mag rondbeweeg, maar ons vrywilligers mag nie en daarom is dit so moeilik om op die platteland te help.”

Venter sê hulle maak deurentyd innoverende planne. Hulle kyk al selfs om kos deur Takealot te laat aflewer. Dis nog nie amptelik nie, maar hy oorweeg ’n proeflopie volgende week.

“Ek het so ’n benoudheid oor my vandag, die navrae stroom in, die platteland kry swaar. Vanoggend het ek reeds weer oproepe gekry . . . ons probeer gate toestop uit ’n lekkende dam. As die wal breek, is daar moeilikheid,” waarsku hy.

Helpende Hand het besluit om die Bybel as ’n riglyn te gebruik om te verseker dat mense in nood tydens die inperkingstydperk genoeg kos kry. Daarom is projek Josef Silo’s begin.

Talle minder gegoede inwoners van die Vrystaat word in die tyd van inperking deur Helpende Hand met kos gehelp. Hier ontvang Louis Prescott (44) van die Omega-geloofsentrum in Bloemfontein 'n sak mieliemeel. Foto: Verskaf

Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, sê die hulporganisasie gaan deurentyd op die beginsel werk om “reg te gee” met die wete dat die publiek gerus kan wees dat dit wat hulle ook al skenk, reg uitgedeel en aangewend gaan word.

Noëth sê die naam van die projek spruit uit die Bybel toe Josef opdrag gekry het om tydens die sewe jaar van oorvloed in Egipte kos bymekaar te maak en te berg vir die sewe jaar van hongersnood wat sou volg.

“Ons bedoeling met Josef Silo’s is dus om voorsiening te maak vir die moeilike tye wat ons nou ervaar én voorsorg te tref vir moeilike tye wat kan kom nadat die 21 dae van inperking verby is.

“Helpende Hand het gevestigde strukture en ’n lys van waar die nood onder ons Afrikaanse gesinne groot is. Ons voed reeds die afgelope 13 jaar duisende kinders by hul skole. Dié kinders is nou by die huis, maar moet kos kry. Ons voedingsprojek moet voortgaan terwyl die land ingeperk is.”

Noëth sê armoede kan nie soos die land “afgeskakel” word nie. “Honger kan nie afskakel nie en dus werk Helpende Hand nou nog harder om te verseker dat veral ons behoeftige kinders, bejaardes en gestremde mense die kos en sorg kry wat hulle benodig.”

Hy sê Helpende Hand weet waar die nood is en het 15 maatskaplike werkers landwyd wat daagliks die situasie monitor en die stelsel opdateer waar nood onverwags opduik.

“Die komende 21 dae gaan nie alleen ’n uitdaging bied nie, die tye wat daarna volg, gaan ook. Dus versoek ons die publiek om te help waar hulle kan, maar om reg te help en die regte kanale te gebruik om dit te doen.”

* ’n Lys van artikels wat benodig word en ook die afsetpunte oor die land heen is op die webblad www.josefsilos.co.za beskikbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.