Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Danie Gerber en sy dogter saam in kwarantyn, bid saam
Danré, Elsabé, Danie, Elanie en Julie Gerber. Foto: Verskaf

Die oud-Springbok-rugbyspeler, Danie Gerber, se dogter, Elanie, is ook positief getoets vir die Covid 19-virussiekte. Gerber se vrou, Elsabé, se toets was negatief.

Elanie Gerber het Sondagaand met Netwerk24 gesels en gesê sy en haar pa is in kwarantyn by hul huis.

’n Goeie vriendin van Elsabé het aangebied dat Elsabé vir die tydperk wat sy van haar gesin geskei moet wees, in haar huis net om die hoek van die Gerbers tuisgaan.

Die vriendin is vir die inperkingstyd by haar familie in Johannesburg.

Elanie sê dit gaan onder die omstandighede goed met haar en pa.

Vir haar ma is dit moeilik om van haar gesin geskei te wees, maar tans is dit die beste.

“Vandag voel ek baie slegter as gister. Met my pa gaan dit maar so op en af.” Sy sê Danie se simptome het Dinsdag begin en teen Woensdag was hy baie siek. Teen Donderdag het die gesin hul huisdokter, dr. Elanie van der Merwe, ontbied.

Elanie sê aangesien sy aan hemochromatose ly, het sy eers die simptome aan dié toestand toegeskryf, maar later besef als is nie pluis nie.

As die duiwel in jou oor wil fluister en jou paniekerig maak, sê vir hom: ‘Jy gaan dit nie regkry nie.'

Sy ervaar geweldige naarheid, skeelhoofpyne, moegheid en het Sondag ’n koorsuitslag op haar lyf gehad hoewel sy nie koorsig gevoel het nie. Hul eetlus is ook swak, maar hulle probeer peusel.

Geen medikasie is vir die Gerbers voorgeskryf nie en hulle gebruik slegs parasetamol vir pyn en verskeie vitamiene om hul immuniteit op te bou.

“Ons drink ook baie vloeistowwe, maar veral warm tee met suurlemoen, gemmer en heuning,” sê sy.

Elanie sê sy kan nie die uitstekende werk van hul huisdokter en die departement van gesondheid genoeg beklemtoon nie.

“Regtig, hulle is net amazing. Wat hierdie mense doen en hoe hulle die situasie in die Oos-Kaap hanteer, is absoluut ongelooflik. Dr. Van der Merwe bel ons die heeltyd om te hoor hoe dit met ons gaan. Sy bel ook my ma om seker te maak dat sy oukei is.

“Ek het regtig net lof vir al die gesondheidswerkers.”

Sy sê sy en Danie het vanoggend saam huisgodsdiens gehou, na ’n kerkuitsending geluister en gebid.

“Dit is belangrik om positief te bly en sterk te wees in jou geloof. As die duiwel in jou oor wil fluister en jou paniekerig maak, sê vir hom: ‘Jy gaan dit nie regkry nie.’ ”

Sy sê net die idee dat jy die virus onder lede het, het ’n invloed op jou denke en dit kan jou onderkry, daarom moet jy ondersteuning hê en aan jou geloof vashou. “Dit is die klein dingetjies, soos een van my goeie vriendinne wat my vanoggend gebel het en vir my die mooiste gebed gedoen het. Ek het daarna soveel beter gevoel en ’n rustigheid ervaar.”

Meer oor:  Danie Gerber  |  Kwarantyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.