Al die ander oud-Bokke wat verlede week saam met Danie Gerber op die 1981-reünie was, is nog gesond en pas hulself mooi by hul huise op.
Dit is volgens Henning van Aswegen, die oud-loskopstut en organiseerder van die 1981-reünie-gholftoernooi, wat op 20 en 21 Maart in Jan Kempdorp, Noord-Kaap, plaasgevind het.
“Danie het my in die week gebel en gesê dat hy siek voel.
“Nadat ons uitgevind het hy het positief getoets vir die virus het ons almal wat by die reünie was op ons WhatsApp-groep laat weet.”
Volgens Van Aswegen is almal in die groep nog perdfris en gesond.

Danie Gerber verlede Saterdag by die 1981-reünie in Jan Kempdorp. Foto: Charné Kemp
Die groep het by die Border-hotel, waarvan Van Aswegen mede-eienaar is, in Jan Kempdorp tuisgegaan.
Dit is dieselfde hotel waar die egpaar Henk en Berna Kruger op 14 Maart ’n troue bygewoon het.
Berna het aan Netwerk24 bevestig dat sy en haar man ’n troue daar bygewoon het.
Die egpaar het voor die troue op 10 en 11 Maart ontbytsessies wat by die Divine Restoration Ministries-sentrum in Bloemfontein aangebied is, bygewoon. Vyf buitelandse sprekers het ook dié sessies bygewoon.
Nadat pres. Cyril Ramaphosa die ramptoestand afgekondig het en gevra het dat alle buitelanders wat onlangs die land binnegekom het moes aanmeld vir toetse, het dié buitelanders positief vir die virus getoets.
Die kerk het al die gaste wat die ontbytsessies bygewoon het gekontak en hulle gevra om hulself te laat toets.
Berna Kruger het haarself op 20 Maart laat toets en het haar uitslae op 22 Maart ontvang. Sy was positief. Haar man, Henk, het later die week sy uitslae ontvang en was ook positief.
Bennie Liebenberg, mede-eienaar van die hotel, het bevestig dat geen ander inwoners tydens die reünie in die hotel gebly het nie.

Die oud-Bokke saam met die organiseerders en almal wat verlede Saterdag aan die Legends-gholftoernooi in Jan-Kempdorp deelgeneem het. Foto: Charné Kemp
Liebenberg sê hulle het die hotel Dinsdag gesluit en alle werknemers huis toe gestuur.
“Ons is daagliks in kontak met die werkers en hulle is almal nog gesond en by hul huise.”
Van Aswegen is onseker oor waar Danie met die virus besmet kon word.
“Dit kon enige plek gewees het, want Danie word nogal gereeld na praatjies en geleenthede genooi.
“Hy het self gesê hy was op ses vlugte voordat hy by die reünie aangekom het.”
Die reünie slaan twee vlieë met een klap.
“Dit is eintlik ’n geldinsameling vir die gholfklub, maar dien dan ook as ’n geleentheid vir ons om as vriende weer ’n bietjie by mekaar uit te kom.
“Ons klok daagliks by mekaar in op die groepie om seker te maak dat almal nog gesond is,” sê Van Aswegen.
“Dit is ’n ernstige ding dié.
“Alle Suid-Afrikaners moet hul deel doen om van hier af veilig en gesond te bly.”