Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Data oor Covid-19 en TB, MIV skiet te kort – Nios

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê daar is ’n tekort aan data oor die impak van Covid-19 op mense wat tuberkulose (TB) of MIV/vigs onder lede het.

Sodanige inligting is veral belangrik omdat so baie Suid--Afrikaners TB en/of MIV/vigs het en daar aanduidings is dat diegene wat aan chroniese toestande ly, erger deur dié koronavirussiekte geraak kan word.

Nios het Dinsdag in ’n verklaring gesê hy het prosesse ingestel om inligting oor Covid-19, MIV/vigs en TB vinnig in te samel en sal meer inligting bekend maak namate data beskikbaar word.

In Suid-Afrika is sowat 7,7 miljoen MIV-positiewe mense, waarvan meer as 5,1 miljoen antiretrovirale terapie (ART) ontvang.

In 2018 is die gevalle van TB op 301 000 geraam en dit word daagliks by sowat 600 mense in Suid-Afrika gediagnoseer.

Hoewel TB ’n ernstig uitwerking op die lugweg het, is dit behandelbaar en kan dit vroeg gediagnoseer word om pasiënte se lewe te red, volgens Nios.

’n Illustrasie van die virus wat die siekte Covid-19 veroorsaak.Foto: iStock

Tot soveel as 60% van pasiënte met TB het ook MIV onder lede en sowat 20 000 tot 30 000 mense sterf jaarliks weens dié siekte, wat op twee tot drie sterftes elke uur neerkom.

Daarby is daar 11 000 tot 12 000 gevalle van weerstandige TB wat jaarliks in die land aangemeld word.

Griep veroorsaak jaarliks die dood van 4 000 tot 10 000 mense in Suid-Afrika. Veral swanger vroue wat MIV-positief is, is hiervoor vatbaar, luidens die verklaring.

“Die griep-inenting is veilig en doeltreffend, voorkom sterftes en word aangeraai vir alle swanger vroue, MIV-lyers, babas en jong kinders, TB-pasiënte en mense met chroniese toestande soos diabetes en hart- en longsiektes.”

Nios beveel aan dat mense met MIV/vigs en TB dieselfde voorsorgmaatreëls tref as wat voorgestel word om die oordrag van die koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, te verhoed.

Risiko vir MIV/vigs- en TB-lyers

Dit is nog nie bekend of mense met MIV of TB ’n groter of soortgelyke risiko het om Covid-19 op te doen of sieker raak as gevolg daarvan nie.

Daar is net inligting beskikbaar oor gevalle van Covid-19 waar lyers ook ander virale infeksies soos die griepvirus onder lede het.

“Hoewel data oor die risiko van MIV-pasiënte om griep op te doen beperk is, kom dit voor asof dié mense nie ’n groter risiko het om griep te kry nie. Hul risiko is dieselfde as vir die res van die bevolking.”

MIV-positiewe mense, selfs diegene wat behandel word, het egter ’n groter risiko om ernstige komplikasies op te doen nadat hulle met die griepvirus geïnfekteer is, veral diegene met ’n baie swak immuunstelsel.

“Die beskikbare data dui ook daarop dat TB-lyers wat met die griepvirus geïnfekteer raak, erger siek raak. ’n Hoë voorkoms van chroniese longskade is goed aangeteken onder mense wat voorheen suksesvol vir TB behandel is. Dié mense het swakker longfunksie as die algemene bevolking en het dus ’n groter risiko van ernstig siektes.”

Volgens Nios is daar die moontlikheid dat mense wat simptome van sowel TB as Covid-19 het, die siektes makliker kan oordra omdat dit deur die lugweë versprei word. Daarom is dit belangrik dat voorsorgmaatreëls nagekom word.

Daar is ook aanduidings dat antiretrovirale middels vir MIV/vigs in laboratoriums ’n uitwerking het op die virus wat Covid-19 veroorsaak, maar dit is nog nie bekend of dit besmetting kan verhoed of die erns van gevalle van Covid-19 onder MIV-lyers kan verminder nie.

Dié studies is “heeltemal eksperimenteel”, luidens Nios se verklaring.

Meer oor:  Nios  |  Miv  |  Data  |  Tb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.