Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Delta-variant: Inenting in Europa moet versnel óf ...

Inentingsprogramme in Europa moet vinniger geskied. Dit is te midde van voorspellings dat die deltavariant van die koronavirus teen einde Augustus vir tot 90% van alle nuwe gevalle in die Europese Unie verantwoordelik sal wees, berig The Guardian.

Talle Europese leiers hou die stygende infeksiekoers weens die deltavariant in hul land dop en in Brittanje het Boris Johnson, premier, die verslapping van inperkingsmaatreëls reeds van 21 Junie tot 19 Julie uitgestel weens die skerp styging in gevalle weens die variant.

In Moskou is die deltavariant, wat eerste in Indië geïdentifiseer is, reeds vir 90% van alle nuwe gevalle verantwoordelik, het Sergei Sobjanin, burgemeester, Woensdag gesê.

Angela Merkel, Duitse bondskanselier, het op dieselfde dag gesê Duitsland is “op dun ys en dat die pandemie nog nie verby is nie” weens die deltavariant wat ook daar infeksies dryf.

Die Pfizer- en Moderna-entstof teen Covid-19 bied genoegsame beskerming teen die deltavariant van die koronavirus,. Foto: Reuters

Bent Høie, Noorweë se minister van gesondheid, het ook Woensdag gesê die variant kan teen aanstaande maand die oorheersende een in Noorweë wees.

Die Europese Unie (EU) se agentskap vir siektebeheer sê in ’n somber waarskuwing daar is steeds te veel mense in die meer kwesbare groepe in die EU wat nog nie ingeënt is nie, berig The Guardian.

Dr. Amesh Adalja, assistent-professor verbonde aan die Johns Hopkins-sentrum vir gesondheidsveiligheid, het aan Bloomberg-TV gesê die deltavariant versprei makliker in gebiede en lande waar daar ’n lae inentingskoers is.

In antwoord op die vraag of die verband tussen infeksies, hospitaliserings en sterftes nou in byvoorbeeld Engeland verbreek is weens die hoë inentingsyfer in Engeland, het Adalja geantwoord solank Engeland voortgaan met inentings, sal daar nie meer ’n verband tussen infeksies, hospitaliserings en sterftes wees nie.

“Die deltavariant wurm homself in in gebiede of lande met ’n lae inentingskoers en dan is hospitale weer onder enorme druk, mense word verskriklik siek en sterf,” sê sy.

“Die sleutel daartoe om nie ’n verband tussen infeksies, hospitaliserings en sterftes te hê nie, is om met inentingsprogramme voort te gaan, al is ons moeg, al sien ons nie juis vordering nie.”

Adalja sê daar moet voortgegaan word om gebiede en lande met inentingsprogramme te help.

Baie EU-lande is besig om streng inperkingsmaatreëls te verslap en reise met ’n Covid-paspoort toe te laat.

Die deltavariant wurm homself in in gebiede of lande met ’n lae inentingskoers en dan is hospitale weer onder enorme druk, mense word verskriklik siek en sterf.

Dr. Andrea Ammon, direkteur van die Europese sentrum vir siektevoorkoming en -beheer (ECDC), sê mense wat nog net een dosis van ’n entstof gehad het, loop steeds die gevaar om besmet en gehospitaliseer te word, berig The Guardian.

Volgens die ECDA se modelleringsmodel sal daar ’n skerp toename in infeksies wees indien die huidige inperkingsmaatreëls nie behou word en inentingsprogramme stoom optel nie.

Altesaam 33,9% van volwassenes in die EU is volgens die ECDC reeds ten volle ingeënt en 57,1% het een dosis entstof ontvang.

Sy maan dat veral jong volwassenes wat nog nie in aanmerking kom vir immunisering nie, ’n gevaar kan inhou vir weerbares wat nog nie ten volle ingeënt is nie en dodelik siek kan word of self sterf as hulle met die deltavariant besmet word.

Volgens die ECDC bied twee van die entstowwe wat in Europa gebruik word – Pfizer en Moderna – ’n hoë vlak van beskerming teen die variant en sy gevolge.

In Portugal, wat ’n vierde golf van die pandemie weens die deltavariant vrees, is inperkingsmaatreëls verskerp nadat meer as 60% van nuwe gevalle aan die variant toegeskryf is, berig thenationalnews.com.

Dié variant is 40% tot 60% aansteekliker as die oorspronklike virus en word in verband gebring met ’n hoër vlak van hospitalisering.

Soumya Swaminathan, hoofwetenskaplike van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het Vrydag reeds gesê die deltavariant is goed op pad om die oorheersendste variant ter wêreld te word.

Dr. Mike Ryan, uitvoerende direkteur van die WGO se noodprogramme, het Maandag gewaarsku dat die deltavariant dodeliker is in hoe dit oorgedra word en dat die variant “uiteindelik die kwesbaarste individue sal opspoor, wat ernstig siek en gehospitaliseer sal word en sterf”, berig cnbc.com.

Ryan sê wêreldleiers en gesondheidsamptenare kan help om die kwesbaarstes te beskerm deur entstof te skenk.

“Ons kan hulle beskerm en die feit dat ons dit nog nie gedoen het nie, is soos die direkteur-generaal van die WGO (Tedros Adhanom Ghebreyesus) al gesê het, ’n ‘katastrofiese morele mislukking op globale vlak’.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Pandemie  |  Inentings  |  Delta-Variant  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.