Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Departement die josie in oor korona-fopnuus

Al werk jy, moet jy net eers stop en na hierdie boodskap kyk en dit aanstuur aan ander mense, want ’n paar skywe suurlemoen in ’n glas vol louwarm water kan jou lewe red.

Dít is die nuwe slenter rondom die dodelike koronavirus (Covid-19) wat tans die ronde doen om mense “op te voed” oor hoe hulle teen die virus kan oorleef.

Dr. Lwazi Manzi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê egter dié boodskap is onwaar.

“Dit is fopnuus. Dit is fopnuus. Hierdie boodskap is fopnuus! NEEM ASSEBLIEF KENNIS DAT DIT FOPNUUS IS,” het Manzi Maandagoggend in ’n verklaring in hoofletters uitgestuur.

Foto ter illustrasie
Foto ter illustrasie (Foto: iStock)

Dié fopnuusboodskap begin met die skrywer, ene Laila Ahmadi van China, wat haarself voorstel en sê sy werk by die fakulteit van mediese wetenskap by die Zanjan-Universiteit.

“Koronavirus kom in alle lande aan. Talle lande het nie die toerusting om die virus te bespeur nie. Gebruik dus soveel natuurlike vitamien C as moontlik om jul immuunstelsel sterker te maak.”

Ene Ahmadi gee dan die versekering dat hulle nie bekommerd hoef te wees nie, omdat vitamien C van baie dinge ontslae raak.

Ahmadi sê ook in die inskrywing dat daar nie op die oomblik enige inenting teen die virus is nie en daar nie ’n spesifieke behandeling is nie.

“Ongelukkig is die virus baie gevaarlik omdat daar genetiese mutasie is. Dit lyk asof die virus ontstaan het nadat ’n slang en vlermuis se gene gekruis het. En die virus kan soogdiere, insluitend mense, affekteer,” lui die fopnuusboodskap.

Dié boodskap haal dan ene prof. Chen Horin, die uitvoerende hoof van die weermag se hospitaal in Beijing, aan wat mense aanmoedig om suurlemoenskyfies in louwarm water te gooi omdat dit jou lewe kan red.

“Warm suurlemoen maak tot selfs kankerselle dood! Die suurlemoen word in drie dele opgesny en dan word dit in ’n koppie gevoeg. Gooi warm water by en drink dit daagliks omdat dit almal sal bevoordeel.”

Ahmadi sê in die inskrywing dat warm suurlemoen as ’n teenmiddel vir alle kankers werk en alle kankerselle kan vernietig.

Die boodskap eindig deur te sê dat dié navorsing in akademiese groepe gepubliseer is.

Akkurate inligting – was jou hande!

Die amptelike inligting oor die virus, wat mense se longe affekteer, soos deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) uitgestuur, is dat mense vir simptome moet uitkyk wat insluit dat hulle sukkel om asem te haal.

Net soos griep, is koronavirusse ’n asemhalingsiekte wat kan versprei wanneer ’n pasiënt wat die virus opgedoen het, hoes of nies

Die WGO sê mense moet vasstel of hulle koors het, of hulle hoes en sukkel om asem te haal, want dit mag dalk simptome van Covid-19 wees.

Die WGO doen ’n beroep op mense om hul hande gereeld te was en hul neus en mond toe te hou wanneer hulle nies en hoes.

Mense moet ook seker maak hulle maak hul vleis goed gaar en dat hulle hul eiers kook. Vermy ook enige kontak met mense wat hoes of nies.

Meer oor:  China  |  Departement  |  Fopnuus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.