Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Derde golf is hier, maar SA nie gereed

Met die derde Covid-19-vlaag op hande is Suid-Afrika minder voorbereid as ooit om die pandemie die hoof te bied en onnodige sterftes te voorkom.

Gesondheidswerkers het Vrydag in twee rye van vyf
Gesondheidswerkers het Vrydag in twee rye van vyf vloere lank gestaan om die laaste van die Sisonke-navorsingsprogram se entstowwe te kry. ’n Halfmiljoen gesondheidswerkers het met die program die Johnson & Johnson-entstof gekry en nog soveel word van Maandag af met Pfizer ingeënt. Dr. Sibongiseni Dhlomo, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor gesondheid, het Vrydag sy kommer uitgespreek oor die omstandighede by sentrums in die laaste dae van die program. Te veel mense het opgedaag en veiligheidsregulasies is dikwels nie nagekom nie. Foto: Deon Raath

Verskeie dokters en ander kenners met wie Rapport die afgelope paar dae gepraat het, is erg krities oor die regering se voorbereidings vir die derde vlaag.

Die feit dat staatsdiensvakbonde – wat verpleegsters insluit – dreig om teen 23 Junie met ’n loonstaking te begin, beteken dat selfs méér landsburgers se lewe in die derde golf op die spel gaan wees.

Teen Vrydag was daar eensgesindheid onder mediese kenners dat die derde golf reeds begin het, met hospitale in die Vrystaat en die Noord-Kaap wat reeds steier onder die druk.

Volgens die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) se data het die Vrystaat, Noordwes, die Noord-Kaap en Gauteng nou die hoogste infeksiekoers.

Met 30,9 infeksies per 100 000 mense in die Noord-Kaap en 16,5 per 100 000 in die Vrystaat bevind dié provinsies hulle beslis in ’n derde golf. Noordwes s’n was 8,5 en Gauteng 7,8 per 100 000.

Agt dokters wat na 300 pasiënte moet omsien.

Wat statistici egter meer bekommer, is dat die infeksiekoers in veral Noordwes en Gauteng besig is om dramaties te styg.

Tussen Woensdag en Vrydag het die infeksiekoers in Gauteng verdubbel (van 3,9 tot 7,8 per 100 000), terwyl dit in Noordwes met 47% geklim het (van 5,8 tot 8,5 per 100 000). Die infeksiekoers in die Noord-Kaap, die provinsie met die hoogste infeksiekoers, styg steeds skerp.

Vrydag is 3 141 nuwe gevalle van Covid-19 landwyd aangemeld – die hoogste daaglikse toename sedert begin Februarie, toe die daaglikse syfer begin afplat het ná die tweede golf van infeksies.

Nog ’n syfer wat wetenskaplikes en beleidsbeplanners fyn dophou, is die getal Covid-19-toetse wat positief is. Dit is op die oomblik 7,5%, teenoor 3,7% in April en 4,3% in Maart.

Dr. Cloete van Vuuren, hoof van interne geneeskunde by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein, sê die Vrystaat sukkel om die toename in pasiënte te hanteer.

Die nasionale departement van gesondheid bly egter hoop dat die derde vlaag kleiner as die tweede vlaag sal wees omdat die land reeds ’n mate van kudde-immuniteit opgebou het.

Die kommer oor die derde vlaag volg ook te midde van nuwe syfers die afgelope week wat wys Suid-Afrika se werklike sterftekoers weens Covid-19 is amper 1,5 keer hoër as die amptelike syfers.

Deur syfers van die gemiddelde getal sterftes voor die pandemie te vergelyk met die getal sterftes die afgelope jaar het navorsers van die Mediese Navorsingsraad tot die gevolgtrekking gekom 133 000 mense in Suid-Afrika is reeds weens die virus dood. Die amptelike syfer is maar 55 000.

Baie sterf onnodig

Die internasionale mediese hulporganisasie Médecins Sans Frontières (MSF) het ook gewaarsku baie hospitale gaan ewe hoë sterftekoerse as tydens die tweede vlaag aanteken omdat daar intussen geen poging was om beter voor te berei op ’n derde vlaag nie.

’n Verslag deur dié organisasie oor die omvang van die tweede golf in die Oos-Kaap en die tekortkomings van die gesondheidstelsel daar bied skokkende leesstof. Dit sluit in:

* Pasiënte wat dood is omdat die suurstofpypies na hul neus of suurstofmasker losgekom het en daar nie ’n verpleegster naby was om dit terug te sit nie;

* Pasiënte wat van dehidrasie of nierversaking dood is omdat daar nie drinkwater langs hul bed was of hulle nie gehelp is om water te drink nie;

* ’n Pasiënt wat dood is toe hy in die middel van die nag wou toilet toe gaan, geval het en aan ’n suurstoftekort dood is; en

* ’n Veldhospitaal in die provinsie waar agt dokters na 300 pasiënte moes omsien.

MSF sê hoewel sommige hospitale (soos die Ngwelezana-hospitaal in Empangeni in KwaZulu-Natal) wel beter voorbereid is, is talle nié.

Uit gesprekke met verskeie rolspelers blyk dit voorbereidings soos dié in Empangeni is die uitsondering. Met die derde golf op hande spartel die regering se gesondheidsbeplanners steeds in die vlakwater rond, skynbaar min gepla dat hulle binnekort nie meer vaste grond onder hul voete gaan voel nie.

Inentingsprogram

Niks illustreer dié feit beter as die regering se stotterende inentingsprogram nie.

Nie eens al die mediese personeel wat vir inentings kwalifiseer, is al ingeënt nie. Die land se inentingskoers is van die swakste ter wêreld – per capita selfs slegter as dié van Indië, ’n land wat nou etlike weke steier onder ’n derde vlaag.

In Suid-Afrika is minder as een persoon per 100 al ingeënt. Indië staan op 13 en Brasilië amper op 25.

Voorbeelde van die onvermoë en slegte beplanning om die burgery in te ent sluit in:

* Chaos met die inentingsprogram beteken slegs 130 van die beplande 3 357 inentingsentrums sal môre oop wees vir die sowat halfmiljoen gesondheidswerkers wat nog nie in die Sisonke-navorsingsprogram geholpe geraak het nie; en

* Die massa-inentingsveldtog vir landsburgers bo die ouderdom van 60 jaar wat veronderstel was om môre te begin, is eers uitgestel. Wanneer dit gaan begin, is steeds nie duidelik nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het die afgelope week vir “geduld en samewerking” gepleit en gesê die provinsiale owerhede sal begin om bejaardes in ouetehuise met die  Pfizer-entstof in te ent. Lede van die ministeriële advieskomitee het aan Rapport gesê die rede daarvoor is dat slegs 1,1 miljoen van die 5 miljoen landsburgers bo 60 tot op datum vir die inenting geregistreer het.

* Die lae registrasiekoerse veroorsaak verdere chaos omdat elke botteltjie drie dosisse entstof bevat en daar spesifieke voorskrifte is vir die berging daarvan. Die sentrums wat entstowwe toedien moet dus presies weet hoeveel pasiënte gaan opdaag. Die regering se bewusmakingsveldtog om mense aan te moedig en in te lig hoe om te registreer is egter “nie-bestaande” is aan Rapport gesê.

“Dis dae voor die regering se entstofprogram moet begin en daar is geen duidelikheid oor presies hoe dit nou gaan werk nie,” sê prof. Fran­cois Venter, ’n kenner van oordraagbare siektes van die Universiteit van die Witwatersrand.

Teen Woensdag was net minder as ’n derde van Wes-Kapenaars bo die ouderdom van 60 jaar geregistreer en 22% in Limpopo. Nie een van die ander provinsies het ’n registrasiekoers van meer as 20% nie – in die Noord-Kaap is dit minder as 7%.

* Die rampspoedige registrasieproses word ook toegeskryf aan die entstoftraagheid onder veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners. Dié traagheid word verder aangevuur deur prominente partyleiers soos dr. Pieter Groenewald van die VF Plus en eerw. Kenneth Meshoe van die ACDP – albei bo 60 – wat gesê het hulle weier om die entstof te neem. Dié uitsprake word deur medici as hoogs onverantwoordelik beskryf.

Craig Comrie, hoofbeampte van die mediese skema Profmed, sê hy gee onder meer ook die regering se gebrekkige kommunikasie die skuld vir die feit dat mense vertroue in die program verloor.

* Volgens die regering se jongste teikens wil hulle 40 miljoen Suid-Afrikaners (teen ’n koers van 136 000 per dag) teen Februarie volgende jaar ingeënt hê. Die land slaag op die oomblik net-net daarin om 5 500 mense per dag in te ent.

Nie genoeg beddens

Daar is steeds ’n akute tekort aan beddens en personeel wat toegerus en opgelei is om suurstof en hoëdruk-suurstof aan die siekste pasiënte te verskaf

“ ’n Ventilator is ’n moordwapen in die verkeerde hande. Jy het 12 hoogs opgeleide verpleegsters per bed hiervoor nodig wat skofte werk en dokters wat weet wat hulle doen,” sê Van Vuuren.

Probleme met mediese geriewe kom landwyd voor:

* In die Vrystaat is vroeër drie noodhospitale met meer as 10 000 beddens teen ’n koste van miljoene rande opgerig. Al drie is intussen gesluit en ten spyte van die groot nood tans, is nie een van dié fasiliteite weer geopen nie, sê Ma­riette Pittaway, gesondheidswoordvoerder van die DA in die Vrystaat.

  • Die brand by die Charlotte Ma­xeke-hospitaal in Johannesburg in April plaas ook baie druk op ander hospitale in die provinsie. Meer as 800 pasiënte moes ná die brand na 17 ander gesondheidsgeriewe oor die provinsie heen geplaas word.
  • Jack Bloom, DA-gesondheidswoordvoerder in Gauteng, sê die Vaaldriehoek ervaar tans ’n geweldige oplewing in Covid-19-gevalle, maar die 300 ekstra beddens by die Kopanong-hospitaal in Vereeniging sal eers in September voltooi wees. Bouwerk aan die nuwe sale by die hospitaal het op 29 Junie verlede jaar begin en dit moes teen November in gebruik geneem word. Die bouwerk is vertraag weens werkstakings en kontraktuele geskille en die kontrak moes weer geadverteer word. Dit sal in Junie hervat word.
  • In die Oos-Kaap het die gesondheidsdepartement niks gedoen om voor te berei vir die derde vlaag nie, sê Jane Cowley, DA-woordvoerder oor gesondheid in die provinsie.
  • “Al die gesondheidspersoneel wat ’n jaar gelede aangestel is om Covid-19-gevalle te hanteer is in Maart afgedank en die enigste veldhospitaal in die Oos-Kaap in Gqeberha (Port Elizabeth) is gesluit.

    Die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth – die provinsie se belangrikste Covid-19-hospitaal – se bedryfsbegroting is van R502 miljoen tot R332 miljoen besnoei.

    Die Covid-19-saal in dié hospitaal het tydens die kruin van die tweede vlaag leeg gestaan omdat daar nie genoeg dokters en verpleegsters was om dit te beman nie.

    * In KwaZulu-Natal is daar sedert die tweede vlaag ook niks gedoen om personeeltekorte en ander probleme op te los nie, sê Rishigen Viranna, die DA se gesondheidswoordvoerder.

    Die provinsiale departement het gesê hulle gaan ’n plan bekend stel om van vrywilligers gebruik te maak as daar personeeltekorte is, maar niks het daarvan gekom nie. Daar bestaan ook geen noodplan as hospitaalpersoneel siek word nie, sê hy.

    Minstens twee hospitale – die St. Francis-hospitaal in Ulundi en die St. Mary’s Kwamagwaza-hospitaal in Melmoth – is nie toegerus om hoëdruk-suurstof aan die siekste pasiënte te verskaf nie.

    Lesse geleer

    Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging, sê dit was tydens die eerste en die tweede vlaag duidelik dat daar ’n tekort is aan spesialiste in hoësorg-geneeskunde, dat hospitale nie toegerus is om hoëdruk-suurstof aan pasiënte te verskaf nie en ’n beheersentrum ontbreek om ambulanse in kennis te stel waar beddens by watter hospitale beskikbaar is.

    Sy sê meer lewens sal tydens die derde golf gered word as hierdie probleme getakel word.

    “In baie gevalle gaan dit oor die basiese goed soos of ’n hospitaal water het wat lewens kan red. Daar is verskeie hospitale waar dit nie eens in plek is nie.”

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.