Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Diabetiese oogsiekte kan goedkoop behandel word

Daar is nuwe hoop vir mense in lae- en middelinkomstelande wat aan diabetiese oogsiekte, een van die voorste oorsake van blindheid, ly.

In ’n doktorale studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) is bevind dat ’n relatief goedkoop medisyne genaamd bevacizumab die siekte doeltreffend en koste-effektief kan behandel.

Dr. Jose Fernando Arevalo se studie wys daar is nuwe hoop vir mense wat aan diabetiese oogsiektes ly. Foto: Universiteit van Stellenbosch

“Ons het gevind dat wanneer bevacizumab in die oë ingespuit word, dit help om diabetiese oogsiekte te behandel en blindheid te voorkom in mense wat in lae- en middelinkomstelande woon,” sê dr. Jose Fernando Arevalo, voorsitter van die departement oogheelkunde aan die Johns Hopkins-Universiteit se skool vir geneeskunde in Baltimore, Amerika.

Arevalo, hoof van die Pan-Amerikaanse Oogheelkunde-vereniging, het Dinsdag sy doktorsgraad in oogheelkunde op die US se gradeplegtigheid ontvang.

Hy sê die vinnige toename in die voorkoms van diabetes beteken dat teen 2040 meer mense diabetiese oogsiekte kan ontwikkel en daarom moet goedkoper maniere gevind word om die toestand te behandel. Diabetiese oogsiekte raak mense met tipe 1- en tipe 2-diabetes. Dit lei tot ’n verlies aan visie wat hoofsaaklik deur die opbou van vloeistof in die retina en die abnormale groei van bloedvate in die oog veroorsaak word.

Arevalo sê die doel van die navorsing was om vas te stel of inspuitings met bevacizumab, wat onder die handelsnaam Avastin verkoop word, kan help om die komplikasies van diabetiese oogsiekte in lae- en middelinkomstelande te bestuur.

In baie hoë-inkomstelande word bevacizumab-inspuitings en ander duurder medisyne gebruik. Bevacizumab word ook gebruik om kanker te behandel en is beskikbaar in lae- en middelinkomstelande.

In verskeie ondersoeke by mediese sentrums in 13 Latyns-Amerikaanse lande het Arevalo gekyk na die doeltreffendheid van nie-goedgekeurde bevacizumab-inspuitings as behandeling vir diabetiese oogsiekte.

Hy sê die navorsing het getoon inspuitings met bevacizumab, wat minimale newe-effekte het, is doeltreffend teen die opbou van vloeistof in die retina en die abnormale groei van bloedvate in die oog.

Bevacizumab help ook om die proteïen wat die abnormale groei van bloedvate stimuleer en klein aneurismes en verhoogde lekkasies van vloeistof in bloedvate veroorsaak, in toom te hou.

In die studie van 1 265 pasiënte wat 4 303 ooginspuitings van 1,25 mg of 2,5 mg bevacizumab ontvang het, is bevind die prosedure is veilig. Tans word slegs die laer dosis van 1,25 mg aanbeveel.

Dié vloeistowwe word deur middel van ’n skandering van die lae in die retina en ’n kleurstoftoets van die retinale vate gemeet.

Arevalo sê die eerste inspuitings met bevacizumab stabiliseer of verbeter die helderheid of skerpheid van visie deur die opbou van vloeistowwe in die retina te verminder.

Dié vloeistowwe word deur middel van ’n skandering van die lae in die retina en ’n kleurstoftoets van die retinale vate gemeet.

Hy sê daar moet egter baie versigtig te werk gegaan word met die toediening van 2,5 mg of meer bevacizumab omdat dit in gevalle van gevorderde diabetiese oogsiekte daartoe kan lei dat die retina van die omliggende weefsel wegbeweeg of selfs dié situasie vererger.

Arevalo sê die studie het gewys bevacizumab-inspuitings kan gebruik word voor minimale indringende operasies om vloeistof uit die oog te verwyder in pasiënte waar die retina van omliggende weefsel wegbeweeg het.

Bevacizumab-inspuitings voor operasies kan ook bloeding tydens operasies verminder en die chirurg in staat stel om die oog beter te sien. Dit kan ook komplikasies tydens en ná chirurgie verminder.

Meer oor:  Gesondheid  |  Diabetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.