Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Die emosionele tol van ’n Covid-19-waaksaal
Nog ’n Covid-19-pasiënt is op pad. Verpleegpersoneel met volle beskermende drag berei inderhaas ’n bed in die Covid-19-waaksaal in die Universitas-hospitaal voor. Suurstof is van kardinale belang. Die eenheid is met die beste toerusting in die wêreld toegerus. Foto: Mlungisi Louw

“Dit is ’n oorlogsfront dié. Ons is gewikkel in ’n oorlog teen ’n onsigbare vyand.”

So sê dr. Nicholas Pearce, hoof van die Covid-19-eenheid van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein, as hy na die span kyk wat met beskermende pakke spook om tientalle baie siek Covid-19-pasiënte aan die lewe te hou.

’n Baie siek Covid-19-pasiënt lê Donderdag in die Covid-19-waakeenheid in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein, gekoppel aan lewensondersteunende toerusting. Hier word elke dag geveg om mense met die virussiekte aan die lewe te hou. Foto: Mlungisi Louw

Dié oorlog eis ’n geweldige tol onder die hospitaal se personeel. Sewe van die personeel is aan die front dood en 462 is al positief vir die virus getoets.

Die sewe se name – Monika Rakhosi en Lala Phethoka, skoonmakers, susters Wandi Potsane en Cynthia Sebolai, Modiehi Makhele, kombuishulp, Sibongile Mtshayi, assistent-direkteur van arbeidsverhoudinge, en Teboho Benjamin Tau, ’n verpleër – is op ’n ererol in die hospitaal aangebring.

Die tweede vlaag van die virus het die Vrystaat pas getref. Maandag was die ergste dag nóg met die meeste Covid-19-pasiënte wat in die Universitas-hospitaal opgeneem is.

Nog ’n baie siek Covid-19-pasiënt word inderhaas na die Covid-19-waakeenheid van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein gestoot waar hy waarskynlik dadelik hoëdruk-suurstof sal kry of aan ’n ventilator gekoppel sal word. Foto: Mlungisi Louw
Hy glo die Vrystaat het nog nie die piek van die tweede vlaag bereik nie.
Die Universitas-hospitaal het ’n ererol vir gesondheidspersoneel wat aan Covid-19 dood is. Tot dusver is sewe personeellede dood en is 462 reeds positief getoets. Foto: Mlungisi Louw

Pearce glo die Vrystaat het nog nie die piek van die tweede vlaag bereik nie. “Ons is bekommerd hieroor. Ons data is nog nie so hoog soos Kaapstad s’n nie. Ons het nog ’n ent om te gaan. Die piek is gewoonlik ’n ruk ná die Wes-Kaap.”

Hulle het al 60 tot 70 pasiënte hier behandel, met die meeste van vyf nuwe pasiënte per aand, maar dit is af na twee nuwes elke aand.

Hy hoop die eerste dosisse entstof is volgende week hier. Hulle berei reeds die eenheid voor om die inentings te doen.

Die Universitas-hospitaal se waakeenheid vir Covid-19-pasiënte is in die Idalia-koshuis se saal ingerig met rye en rye pasiënte wat aan suurstofmaskers of ventilators gekoppel is.

As Pearce sy blik oor die saal gooi, sien hy die kritieke inligting op ’n pasiënt se ventilator dat hy in erge nood verkeer.

“Hy gaan binne ’n uur dood wees.”

Nóg ’n pasiënt se lyf trek saam en krul op die bed weens asemnood.

Hy kry kennis van ’n seuntjie wat ook in die Covid-19-saal opgeneem moet word. Hy het die doppie van ’n pen ingesluk en positief vir die virus getoets voor die doppie verwyder kon word.

Die emosionele las is erg, maar die personeel wissel elke ses uur.
Kommunikasie met die familie van Covid-19-pasiënte, wat weens maskers en ventilators moeilik praat, is van kardinale belang vir die pasiënt en familie. Dr. Dalene van Jaarsveld, palliatiewesorg-spesialis in die Covid-19-eenheid in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein, probeer die familie van elke pasiënt opspoor. Indien die pasiënt kan praat, maak sy ’n video-oproep, maar die probleem is dat baie familie nie data het nie. Hier praat sy Donderdag in die waakeenheid in die hospitaal met ’n pasiënt. Foto: Mlungisi Louw
Die Universitas-hospitaal het ’n ererol vir gesondheidspersoneel wat aan Covid-19 dood is. Tot dusver is sewe personeellede dood en is 462 reeds positief getoets. Foto: Mlungisi Louw

Pearce sê die emosionele las is vir hom erg, maar die personeel wissel elke ses uur. Dit is te warm in die beskermende pakke in die saal om langer op ’n keer uit te hou.

Covid-19 se sterftesyfer is hoog en hulle wil elkeen red. Dit eis sy tol.

“Met Covid is dit onmoontlik om elkeen te red. Baie mense gaan dood. Jongmense gaan dood, ma’s sterf. Vaders, broers, susters sterf. Dit is onmoontlik om hul geliefdes te sien en hulle sterf alleen.”

“Dit is net ons, die dokters en verpleegpersoneel, wat hier is. Ons hou hul hande vas as hulle sterf. Dit is aaklig,” sê ’n emosionele Pearce.

Die verskil met ander siektes soos kanker is die volume sterftes en die feit dat mense so vinnig sterf. Die eenheid is egter trots daarop dat hy baie mense se lewens hier red.

“Dokters en verpleegsters wil almal red. Ons is trots op wat ons baie vinnig hier bereik het. Ons het van die beste toerusting in die wêreld waarmee ons baie mense kon red.”

Die hospitaal gebruik 6 ton suurstof elke dag met die waakeenheid wat alleen 2,5 ton suurstof per dag gebruik. Hulle het ’n tenk wat 34 ton suurstof berg, wat hulle drie dae hou.

Pearce sê sy span is van die beste.

“Dit is ’n spanpoging hierdie. Niemand kan hierdie oorlog alleen veg en wen nie.”

Meer oor:  Dokters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.