Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dié fietse ‘ontwerp om kruiwaens te vervang’

Die vervaardiger van die opspraakwekkende Oos-Kaapse “motorfiets-ambulanse” sê hy het nog nie ’n sent gemaak uit die fietse wat die departement van gesondheid by hom koop nie.

Brian Harmse, vervaardiger van die fietsklinieke, in sy fabriek in King William’s Town. Agter hom is 85 fietse wat wag om in klinieke omskep te word.

Hy het ook niks om weg te steek nie.

Brian Harmse, eienaar van Fabkomp, het hom in die oog van ’n politieke orkaan bevind nadat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op 12 Junie die bekendstelling in Oos-Londen bygewoon het van die ingevoerde motorfietse wat omgebou is om pasiënte van onherbergsame en verafgeleë gebiede van die Oos-Kaap te vervoer.

Kritici het onder meer gesê die R10 miljoen wat vir die motorfietse begroot is, is te veel, dat pasiënte se waardigheid aangetas word, en dat die Oos-Kaapse departement van gesondheid ’n wanvoorstelling gemaak het deur die fietse as ’n komponent van dié provinsie se stryd teen Covid-19 te bemark.

Mkhize self het die projek aanvanklik gesteun, maar later aangedui die fietse voldoen nie aan die minimum vereistes vir die vervoer van pasiënte nie.

Dit is veronderstel om mense in onbegaanbare gebiede na ’n kliniek te neem.

Die Oos-Kaap verdedig egter die projek. Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid, het verlede week gesê die motorfietse moet pasiënte vervoer wat weens apartheid ver van dorpe woon.

Rapport het by Harmse gaan kers opsteek.

Hy sê hy het die fietse-idee gekry toe hy in 2013 ’n foto gesien het van ’n 61-jarige man in die dorp Willowvale wat deur familielede in ’n kruiwa na die hospitaal gestoot word en dat die bohaai daaroor alles op ’n misverstand berus.

Op die dag van die bekendstelling, sê Harmse, is vyf fietsambulanse vertoon en een motorfietskliniek.

Vier van die fietsambulanse was vir Kenia bestem.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, klim op een van die fiets-ambulanse.

Dié soort fietsprodukte is al deur Unicef aan die meeste lande in Afrika voorsien, sê Harmse.

Hy het getender om 100 mobiele klinieke te lewer wat onder meer medisyne na afgeleë gebiede kan neem – lank voor die uitbreek van Covid-19.

Hy het boonop getender vir mobiele “klinieke” en nie ambulanse nie. Die departemente van vervoer en gesondheid het sy fabriek in King William’s Town besoek, waar 160 mense werk, om seker te maak alles is in orde. Toe wen Harmse die tender.

Hy het egter nog nie bestellings gekry nie en geen sent nie.

“Die motorfietse is nie ambulanse nie. Dit is veronderstel om mense in afgeleë, onbegaanbare gebiede na ’n kliniek te neem of na ’n ambulans wat hulle na ’n hospitaal sal neem. Dis gebou vir grondpaaie, nie vir teer nie. So, dit vervang nie ambulanse nie, maar moet kruiwaens vervang wat mense na mediese hulp vervoer.”

Die foto van ’n man in ’n kruiwa wat met ’n tou getrek word, op die voorblad van die Daily Dispatch in 2013, het Harmse getref. “Ek het gedink ons moet beter as dit doen,” het hy die afgelope week gesê.

Die fietse word ingevoer en hier met sywaentjies toegerus en kos sowat R85 000, onderhoud inkluis.

Harmse sê hy het Jane Cowley, DA-woordvoerder oor gesondheid in die Oos-Kaap, genooi om na die fietse en sywaens te kom kyk. Sy bly egter skepties.

Cowley sê sy is bekommerd dat die projek begin is tydens die Covid-19-pandemie, terwyl verpleegsters en dokters sterf weens die gebrek aan beskermende toerusting. Die departement is boonop bankrot.

“Die DA vermoed die departement het buite sy mandaat opgetree met die fiets-tender en het nie prosesse gevolg nie. Ek het ’n parlementêre vraag hieroor gevra om vas te stel of dit die geval is, in welke geval hul optrede dan korrupsie sou wees.”

Oscar Mabuyane, Oos-Kaapse premier, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê sy regering gaan voort met die projek wat verlede jaar op ’n kabinetsvergadering bespreek is as ’n “innoverende ingryping vir primêre gesondheidsorg in landelike gebiede”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.