Noodsaaklike werkers in sorgsentrums, tronke, die gasvryheid- en toerismebedryf asook onderriginstellings sal onder dié tel wat in die tweede fase van die entstofprogram in Suid-Afrika teen die koronavirus ingeënt sal word, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Saterdagaand in ’n reeks twiets bekend gemaak.
In die eerste fase van inentings sal ’n beoogde 1,25 miljoen gesondheidswerkers ingeënt word, in die tweede fase 15,6 miljoen mense en in die derde fase 22,5 miljoen mense.
In die tweede fase sal onder andere noodsaaklike werkers in die polisiediens, mynwerkers, veiligheidspersoneel, begrafnisondernemers, onderwysers en diegene wat by grensposte en hawens werk, ingeënt word.
Mense wat in sorgsentrums werk, asook diegene in aanhoudingsentrums, skuilings en tronke, sal ook in fase 2 ingeënt word.
Diegene ouer as 60, met ’n teikengetal van 5 miljoen mense, sal ook tydens fase 2 ingeënt word. Mense ouer as 18 met onbeheerbare diabetes, chroniese longsiektes, kardiovaskulêre siektes, niersiektes, MIV en tuberkulose sal ook tydens fase 2 ingeënt word. Die teikengetal hier is 8 miljoen mense.
In fase 3 moet 22,5 miljoen mense ouer as 18 ingeënt word.