Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dié met koors sal nie na SA vlieg, sê Chinese gesant

Geeneen van die Suid-Afrikaners wat met ’n huurvlug deur die Suid-Afrikaanse regering in Wuhan, China, gehaal gaan word, sal toegelaat word om op die vliegtuig te klim as hy of sy ’n koors het nie, sê Lin Songtian, die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika.

Hy het Vrydag op ’n mediakonferensie van twee uur lank by die Chinese ambassade in Pretoria gesê China wil nie hê die koronavirus moet op dié manier na Suid-Afrika versprei nie.

Daarom sal streng maatreëls geld wanneer die Suid-Afrikaners op die vliegtuig klim.

Hy wys ook daarop dat dit ’n strafregtelike oortreding in China is as iemand wat wetende ’n siekte onder lede het, dit nie verklaar nie.

Dit is nog nie bekend wanneer die Suid-Afrikaners in Wuhan teruggebring word nie. Lin wou ook nie sê wanneer dit sal gebeur nie.

Lin Songtian, die Chinese ambassadeur in Suid-Afrika, Vrydag op ’n mediakonferensie by die Chinese ambassade in Pretoria. Foto: Sarel van der Walt

Hy sê die Chinese regering het begrip daarvoor dat die meer as 150 Suid-Afrikaners in Wuhan na hul land wil terugkeer.

Die ambassadeur glo ook Suid-Afrika is gerat om na die Suid-Afrikaners om te sien wanneer hulle terug is.

Hy sê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, is op die hoogte van sake. “Hy is gereeld met ons en die Wêreldgesondheidsorganisasie in verbinding. Die minister is ’n baie knap man.”

Lin sê daar is onder andere sowat 3 000 Suid-Afrikaanse studente wat in China studeer, en 200 Suid-Afrikaners in Wuhan.

“Hulle is veilig daar en ek is baie trots om te sê nog nie ’n enkele een van hulle is positief getoets vir die virus nie.”

Hulle was saam met Wuhan se sowat 10 miljoen mense in kwarantyn omdat die Chinese regering die virus daar in sy spore wou stuit en keer dat dit versprei.

Lin sê wetenskaplikes het nog nie presies vasgestel wat die oorsprong van die virus is nie. China verwerp bewerings dat dit doelbewus deur ’n Chinese laboratorium vrygestel is.

“Daar is selfs bewerings dat die Amerikaners hiervoor verantwoordelik is. Ons weet nie wat die bron hiervan is nie. Kom ons steur ons nie aan gerugte nie en wag om te hoor wat is die bevindings van wetenskaplikes wat oor die wêreld heen besig is om te probeer vasstel wat die waarheid is,” sê die ambassadeur.

Hy benadruk China is een van die groot slagoffers van die virus. Meer as 3 000 mense in dié land is al aan die virus dood.

Maar, sê Lin, China is op die punt om die virus te oorwin. “Ons is seker ons sal hom oorwin. Ons het aan die wêreld gewys die virus kan oorwin word. Die virus kan voorkom, beheer en oorwin word.

“Die verspreiding van die virus in China is gestop danksy doeltreffende bestuur en ’n wetenskaplike benadering.

“Die getalle van nuwe gevalle van mense wat positief toets is in China drasties en aanhoudend aan die afneem.

“In 26 van die 28 provinsies van China is daar tans niemand wat die siekte onder lede het nie.

“Net drie mense het die laaste paar dae weens die virus gesterf.”

Meer as 52 000 mense in die land het die virus onder lede gehad. Sedert 20 Februarie is net 150 gevalle aangemeld van mense wat positief getoets is.

“Ongelukkig het die virus nou oor die hele wêreld heen versprei en dit is kommerwekkend. Dit is nou tyd vir die wêreld om saam te staan in die stryd teen die virus. Ons sal ons kennis met die res van die wêreld deel. Natuurlik ook met Suid-Afrika,” sê Lin.

“Ons móét saamwerk. Die virus ken en respekteer nie grense nie.”

Meer oor:  Lin Songtian  |  Wuhan  |  Koronavirus  |  Ambassadeur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.