Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Dierekwak se ongetoetste brousels gevaarlik’

Die Raad van Veeartsenykunde sê hulle het al “verskeie klagtes” gekry oor ’n voormalige wiskundeonderwyser van Centurion wat ’n verskeidenheid dieredoepas op die internet verkoop.

Pierre van Niekerk se Facebook-blad en YouTube-kanaal waarin hy gratis raad oor dieregesondheid uitdeel, is uiters gewild, met meer as 80 000 volgelinge, maar sy kritici sê hy is ’n kwak wat ongetoetste tuisgemaakte brousels verkoop wat potensieel skadelik is.

Pierre van Niekerk Foto: Deon Raath

Van Niekerk sê egter hy is geen paloeka nie: Hy is besig met sy meestersgraad oor die weerstandigheid van bloubosluise.

Van Niekerk sê hy het ’n reeks produkte vir diere “in samewerking met chemici” ontwikkel.

“Pierre se Mix” van blomswael, sink­salf, olyfolie en Allergex is uitstekend vir seerplekke en wonde en verrig wondere. Ander produkte sluit in ’n reinigingsmiddel om op matte te gebruik nadat jou huisdiere daarop geürineer het en ’n outomatiese dipstelsel vir beeste. Hy sê daar is ’n groot behoefte aan sy produkte en inligting.

“Ek gee mense gratis raad. Nie almal kan veeartsenydienste bekostig nie. Mense hardloop ook vir enigiets na die veearts.”

Taryn Bright, ’n veearts van Fourways in Johannesburg, is een van dié wat oorlog verklaar het teen Van Niekerk. Sy sê hy is “baie aggressief” en het al gedreig om haar vir naamskending te dagvaar.

“Hý moet eerder in sy spore gestuit word. My grootste bekommernis is die fasade wat hy as kundige voorhou. Ek verstaan dat mense nie altyd geld het vir veeartsenydienste nie, dat die ekonomie maar moeilik is en veeartsenydienste ’n luuksheid is.”

Pierre van Niekerk met van sy produkte “wat soos soetkoek verkoop”. Foto: Deon Raath

Sy sê daar is al by die Suid-Afrikaanse raad vir veeartsenykunde gekla, maar die raad kan net optree indien die persoon ’n veearts is.

“Die medisyneraad moet optree, want wat indien iemand sy lewe verloor deur ’n ongeregistreerde brousel te drink?”

Van Niekerk trek net sy skouers op.

“Ek het ’n regsmening ingewin. Ek is nie ’n veearts nie en dus nie geregistreer nie. Hulle kan niks aan my doen nie. My dieremieks teen immuniteit is getoets, dit verkoop soos soetkoek.”

Linda Scrace, ’n bestuurder van ’n diereskuiling in Krugersdorp, sê van Van Niekerk se brousels word ook deur siek mense gebruik.

“Baie siek diere moet eintlik reguit na die veearts geneem word. Om net eenvoudig Van Niekerk se produkte en voorgestelde behandeling vir siek diere te gebruik, lei net tot uitgestelde lyding en soms die dood. Dit is gelykstaande aan dieremishandeling en daar is weekliks sulke gevalle.”

Van Niekerk sê sy “miekses” sit brood op die tafel vir sy werknemers. Hy het 100 verspreidingspunte landwyd.

Dinamarie Stoltz, direkteur van regsake van die Suid-Afrikaanse raad vir veeartsenykunde, het bevestig dat verskeie klagtes al oor Van Niekerk ontvang is. Sy sê medisyne moet by die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) geregistreer word.

Prof. Helen Reesie, Sahpra-voorsitter, sê die klagtes teen Van Niekerk gaan ondersoek word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.