Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dok aangekla ná hy meisie van aborsie afraai

’n Dokter wat van onprofessionele gedrag aangekla word omdat hy ’n minderjarige meisie afgeraai het om ’n aborsie te kry, gaan Maandag vra dat die klag teen hom teruggetrek word.

Dr. Jacques de Vos

Dr. Jacques de Vos (32) moet Maandag voor die Raad op Gesondheidsberoepe (RGB) verskyn op aanklag van onprofessionele gedrag.

Dit is omdat hy glo onder meer pamflette en teksboodskappe versprei het wat teen aborsie gemik is en die jong vrou by 2 Militêre Hospitaal afgeraai het om die prosedure te ondergaan.

Martus de Wet, De Vos se regsverteenwoordiger, het egter aan Rapport gesê hulle gaan Maandag vra dat die hele saak geskrap word.

Hy sê hy twyfel of daar werklik ’n formele klagte oor De Vos was, want die RGB verskaf dit bloot nie.

‘Ons weet nie wié dryf die ding en op grond van wat nie. Dit wil voorkom asof hy geviktimiseer word. ’

De Vos wil ook meer besonderhede oor die pasiënt hê, soos hoe ver sy swanger was, of sy uiteindelik die aborsie gehad het en met watter prosedure.

Volgens De Wet het die voorsitter van die tugkomitee by sy vorige verskyning die RGB opdrag gegee om al die nodige inligting en dokumentasie teen 30 Augustus aan De Vos te verskaf sodat hy behoorlik kan voorberei.

De Wet sê hulle het sommige dokumente gekry, maar nie naastenby alles nie.

Priscilla Sekhonyana, woordvoerder van die RGB, sê hulle hét alle dokumente gestuur, maar oor sommige inligting wat De Vos versoek, sal hulle eers getuienis voor die komitee lewer.

De Wet sê die RGB is besig met ’n heksejag teen sy kliënt wat al erg benadeel is in die proses.

Hy was besig om sy internskap by die hospitaal te voltooi toe die bom in 2016 gebars het.

Volgens De Wet het sy kliënt nie eens ’n verhoor by die hospitaal gehad nie.

Aangesien die hospitaal nie sy internskapdokumente wil afteken nie en hom nie wil toelaat om sy internskap te voltooi nie, kan hy nie as dokter praktiseer nie.

Sy internskap moes twee en ’n half jaar duur omdat hy gestremd is.

De Vos het diepaartrombose en het die verhoor tot dusver in ’n rolstoel bygewoon.

De Wet sê sy kliënt gaan beslis regstappe oorweeg indien hy nie skuldig bevind word nie.

“Hy het al twee jaar inkomste verloor. Daar is juis ’n gebrek aan dokters en nou hierdie oponthoud.

“Hy is ’n man in ’n rolstoel. Sy waardigheid is geskend.

“Ons het nie ’n probleem met die verhoor nie. Wees net regverdig. Ons weet nie wié dryf die ding en op grond van wat nie. Dit wil voorkom asof hy geviktimiseer word. Hy is bereid om te staan, baie staan saam hom.”

Doctors for Life wat teen aborsie gekant is, is een organisasie wat hom ondersteun. Hulle sê dokters wat om geloofsredes teen aborsie gekant is, word dikwels geviktimiseer.

’n Aanlyn skarefinansieringsprojek vir De Vos se regskostes staan tans op sowat R84 000.

Meer oor:  Jacques De Vos  |  Aborsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.