Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dokter moet 'God speel' te midde van chaos in PE-hospitale

Swanger vroue wat in hospitaalgange kraam, siek pasiënte wat in ’n oorvol hospitaal op matrasse lê, desperate pasiënte wat aan die lewe klou terwyl hulle vir ’n doktor wag, groeiende afvalhope van gebruikte mediese toerusting, en vuil en bebloede hospitaalvloere.

Dit is net van die tonele wat reeds in die Dora Nginza- en die Livingstone-hospitaal in Nelson Mandelabaai begin afspeel terwyl Covid-19 sy kloue daagliks al hoe dieper in die Oos-Kaap slaan.

Een dokter in die kraamsale by die twee hospitale moes God speel toe hulle aan hul eie genade oorgelaat is.

Die jongste syfers toon daar is 25 195 bevestigde gevalle in die Oos-Kaap, met 397 sterftes.

Met die toename in mense wat aan Covid-19 ly, begin dié twee hospitale uit hul nate bars.

Die onlangse staking deur werkers by die twee hospitale – onder andere verpleegsters, portiere en skoonmakers – het gesondheidsdienste op sy knieë gedwing.

Bekommerde dokters, verpleegsters, paramedici en skoonmakers met wie Netwerk24 gepraat het, sê hulle is bevrees die “koronavirusstorm” waaroor dr. Zweli Mkhize, nasionale minister van gesondheid, onlangs gewaarsku het, is op hande.

’n Verpleegster by die Dora Nginza-hospitaal wat anoniem wil bly, sê veral die kraamafdeling by die hospitaal is negatief deur die staking geraak.

Volgens die verpleegster het sommige swanger vroue wat op mediese hulp gewag het, in die hospitaal se gange begin kraam.

Dit maak nie saak wat hul griewe is nie, om pasiënte in die steek te laat is onvergeeflik.

“Daar was net ’n handjievol dokters en sowat twee verpleegsters aan diens. Dokters moes bontstaan om alles self te doen.

“Die werkers wat nie opgedaag het nie weier om in gebiede met Covid-19-pasiënte te werk alvorens dit ontsmet word.”

By die Livingstone-hospitaal is oppervlakke wat nie deeglik ontsmet word nie ook die rede hoekom werkers nie opdaag nie.

Dit het daartoe gelei dat daar nie deeglike sifting gedoen word van mense wat by die hospitaal aandoen nie.

Vullishope wat gebruikte mediese toerusting insluit, bebloede hospitaalvloere, besmette sale, kantore en badkamers is aan die orde van die dag, volgens ’n paramedikus wat daagliks pasiënte by die hospitaal aflaai.

“Met die basiese dinge wat nie reg is nie, soos die reiniging van die hospitaal en die sifting, gaan die verspreiding van die virus daar verdriedubbel,” meen die paramedikus.

Sizwe Kupelo, woordvoerder van die provinsiale gesondheidsdepartement, het die werkers wat hul poste verlaat het, ten sterkste veroordeel.

Hy het verwys na die Dora Nginza-hospitaal en die Frere-hospitaal in Oos-Londen.

“Dit maak nie saak wat hul griewe is nie, om pasiënte in die steek te laat is onvergeeflik. Dit plaas swanger vroue en hul babas in gevaar.

“Een dokter in die kraamsale by die twee hospitale moes God speel toe hulle aan hul eie genade oorgelaat is.”

Kupelo het benadruk dat die departement meer werkers ontplooi het by hospitale om die werklading te verlig, en dat werkers wat pasiënte verlaat in hul uur van nood, hul ampseed oortree.

Volgens die VF Plus het die openbare gesondheidsektor in Suid-Afrika reeds sy sterfdatum bereik en is Covid-19 nie alleen die oorsaak van die dood nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.