Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dokter se toets negatief; en toe draai hy by die dood om

’n Dokter van Vredenburg het by die dood omgedraai nadat hy aanvanklik negatief vir die koronavirus getoets is – en toe drie dae lank bewusteloos in die waakeenheid gelê het met Covid-19.

Dr. Louis Muller saam met personeel in sy praktyk. Links is Freda Meiring (skoonmaker), Chrissie Hume Trautman (praktykbestuurder), Kitty Grobler (verpleegkundige) en Verusca Franzman (ontvangsdame). Foto: Verskaf

Dr. Louis Muller (36), algemene praktisyn in Vredenburg in die Wes-Kaap, het sy negatiewe toetsuitslag op 26 Mei ontvang nadat hy in kontak was met ’n positiewe persoon.

“Ek het die protokol gevolg en geselfisoleer totdat ek my negatiewe uitslag ontvang het.”

Volgens Muller het hy nie klassieke griepsimptome, soos lyfseer en koors, ondervind nie, maar kortasem en “deurmekaar” geraak. Toe hy weer sien, word hy in die waakeenheid van die Vredenburg Life-hospitaal wakker.

Muller is op 29 Mei in die waakeenheid opgeneem en op ’n ventilator geplaas. Die dokter wat hom behandel het, het sy ouers dringend van Mbombela laat kom om hom te groet.

Genadiglik het hy herstel.

Oor die aanvanklike negatiewe toets sê Muller dié toets is in die “venstertydperk” van die virus se inkubasietydperk gedoen. Nadat hy siek geword het, is hy weer getoets en het die positiewe uitslag op 1 Junie ontvang.

“Ek het eers besef dat ek wel positief getoets is toe ek in die waakeenheid wakker word. Ek kan ook nie baie onthou sedert ek wakker geword het nie. Ek het eers die daaropvolgende week tot verhaal begin kom.”

Muller sê hy was vir sowat drie dae in ’n koma.

Hy is op 2 Junie ontslaan en moes toe tuis isoleer.

Hy sê hy is dankbaar vir al die ondersteuning en gebede van kollegas en vriende.

“ ’n Vreemdeling het ’n WhatsApp-groep vir my begin waar baie mense vir my gebid het. Ek het soveel onvoorwaardelike liefde en vriendskap ontvang. Elke keer as ek aan my ervaring dink, rol die trane teen my wange af; trane van blydskap en dankbaarheid.”

Ek het eers besef dat ek wel positief getoets is toe ek in die waakeenheid wakker word.

Hy is verheug om terug by die werk te wees.

“Ek is steeds kort van asem, maar met elke asemteug besef ek dat ek vir ’n rede in Vredenburg geplaas is, om my vriende en die gemeenskap met dankbaarheid te dien.”

Hy kan nie genoeg dankie sê nie. “Dankie aan my Vader in die hemel, my liefste ouers, al die engele wat oor my gewaak het, die mediese span in die Vredenburg Life-hospitaal, en elke pasiënt wat vir my drukkies gee. Ek is geseënd. Ek is waarlik geseënd.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.