Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Dokters moet kies wie leef

Hospitale in Gauteng steier weens ’n “massiewe toename” in Covid-19­-gevalle en gesondheidswerkers waarsku dat daar binne die volgende week reeds ’n akute tekort aan beddens kan wees wat toegerus is om hoëdruk-suurstof aan die siekste pasiënte te verskaf.

’n Graf vir ’n Covid-19-sterfgeval in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Dokters, verpleegsters en paramedici sê aan Rapport hulle moet reeds “kies” wie se lewe om te red en daar heers groot verwarring oor waar beddens beskikbaar is.

Teen Saterdag het Gauteng 57 995 aktiewe Covid-19-gevalle gehad, waaronder 1 000 gesondheidswerkers wat die afgelope week positief getoets is. Nuwe gevalle verdubbel elke tien dae.

Die 87 033 Covid-19-gevalle wat sedert Maart in Gauteng aangeteken is – insluitende 29 038 mense wat reeds van die virus herstel het – is ’n bietjie minder as die 115 000 gevalle wat volgens projeksies van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) teen 13 Julie in Gauteng sou voorgekom het.

Sover is 554 mense in Gauteng aan Covid-19 dood. Die Nios het op 24 Junie voorspel dat dié getal teen 13 Julie 730 sou wees.

Saterdag is ’n bietjie meer as 3 100 hospitaalbeddens in die provinsie deur Covid-19-pasiënte beset. Hoewel die getal beddens wat vir Covid-19-behandeling geskik is – 1 496 in staatshospitale en 6 805 in private hospitale – ruim lyk, beteken die toename in gevalle dié beddens gaan nie lank hou nie. Nie al die beddens is boonop reg toegerus nie.

Die hele gesondheidstelsel beleef nou ’n krisis.

“Die hele gesondheidstelsel beleef nou ’n krisis,” sê dr. Francesca Conradie, adjunkdirekteur van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se MIV-navorsingseenheid. “Pasiënte word nie opgeneem nie omdat niemand weet waar beddens beskikbaar is nie. Die inligting behoort aanlyn beskikbaar gestel te word sodat mense kan weet waarheen om te gaan.

“Ons begin om te min suurstof in openbare hospitale en klinieke te kry en dokters en verpleegsters moet nou besluit wie suurstof kry om pasiënte aan die lewe te hou en wie nié.”

Die krisis is vererger omdat meer as 1 000 gesondheidswerkers en ander werkers by hospitale die afgelope week positief getoets is, sê Conradie.

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê baie hospitale beskik nie oor die infrastruktuur om by genoeg beddens hoëdruk-suurstof te lewer nie. “Dokters moet nou besluit of hulle ’n jong man met MIV of ’n 80-jarige tannie met hoë bloeddruk hoëdruk-suurstof moet gee.”

’n Dokter by die Kalafong- en Steve Biko-hospitaal in Tshwane sê die skielike toename in Covid-19-gevalle is “vreesaanjaend”.

“Daar is nie meer beddens in die waakeenhede nie. Dis letterlik ’n geval waar jy moet wag vir iemand om dood te gaan sodat daar vir jou ’n bed oopgaan.”

Volgens haar is die probleem dikwels die tekort aan beddens met hoëdruk-suurstof.

“Hoe sieker jy raak, hoe meer suurstof het jy nodig. So, aanvanklik kry jy vryvloeiende suurstof deur pypies in jou neus. Jy haal self asem. Maar wanneer jy sieker word, het jy hoëdruksuurstof nodig wat dieper by jou neus en longe ingaan omdat jy begin sukkel om self asem te haal. Die volgende stap is ventilasie, waar ’n masjien jou help met asemhaling. Die probleem met pasiënte op ventilators is dat hulle ook ’n toegewyde gesondheidswerker nodig het om die behandeling te monitor, en dis ’n groot probleem met ons huidige personeeltekorte,” sê sy.

’n Paramedikus aan die Oos-Rand sê Covid-19-pasiënte wat ernstig siek is, word nog nie weggewys nie, maar daar is “geen waarborg” dat ’n ventilator beskikbaar gaan wees as jy ’n chroniese siekte soos diabetes of ’n hartprobleem het nie. Dit verminder pasiënte se oorlewingskanse.

’n Dokter by ’n private hospitaal aan die Wes-Rand sê gesondheidswerkers se moreel is laag omdat nie alle pasiënte gehelp kan word nie.

“As jy ’n bed in die waakeenheid nodig het, is daar ’n groot kans dat jy nie een sal kan kry nie en kan sterf. Dis so eenvoudig soos dit. En ek praat nie hier net van Covid-19-gevalle nie, ek praat ook van mense wat ernstige beserings in ongelukke opdoen of goed soos hartaanvalle kry.”

‘As jy nou in ’n groot ongeluk is, sal ek moet nee sê.’

’n Pretoriase spesialis sê die hospitaal waar hy werk, is “vol” en hy het instruksies van die bestuur gekry om selfs ernstige gevalle wat van buite Gauteng verwys word, weg te wys. “So, as jy nou in ’n groot ongeluk is en jou rug breek of breinbeserings opdoen en oorgeplaas moet word, sal ek moet nee sê, ons het nie plek nie. Dis die realiteit en daar is geen meer onderskeid tussen private en openbare hospitale nie. Ons werk nou saam in Gauteng en jy moet gaan waar daar vir jou plek is,” waarsku hy.

Weens vertragings in toetsuitslae moet verpleegpersoneel boonop alle pasiënte hanteer asof hulle positief is terwyl hulle op uitslae wag. Mzi Gcukumana, woordvoerder van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens (NHLS), het bevestig dat agterstande in Gauteng die grootste in die land is.

Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom by Wits, sê as die pandemie nie onder beheer gebring word nie, gaan ’n tekort aan beddens in openbare en private hospitale ontstaan.

“Wat ons nou sien, is ’n massiewe toename in nuwe gevalle. Oor sowat tien dae gaan ons ’n groot toename sien in die behoefte aan beddens, en aan sterftes. Tans is daar nie genoeg dienste om die pandemie te hanteer nie.”

Terwyl die Wes-Kaap vroeg al veldhospitale met suurstofpunte by beddens ingerig het wat hoësorgpasiënte kon akkommodeer toe gewone hospitale onder druk was, is Gauteng se veldhospitale volgens Van den Heever sonder dié infrastruktuur.

“Daar is geen suurstoftoevoer daar nie en kliniese personeel sukkel om ’n plan reg te kry om dokters, verpleegsters en suurstof by die beddens te kry. Dis ’n mislukking in die voorkomingstrategie sowel as die behandelingstrategie. Die regering het vir niks voorberei nie.”

Die regering het Vrydag gesê veldhospitale word ingerig by Nasrec (1 000 pasiënte), Diepsloot (500), Soshanguve (500), Midrand (500), Daveyton (720) en die Tshwane-skouterrein (700). Konstruksie aan laasgenoemde moet nog begin.

’n Dokter by ’n private hospitaal het aan Rapport gesê talle private hospitale se waakeenhede is reeds vol en beddens in gewone sale word nou van ventilators voorsien.

Die Mediclinic Morningside in Sandton het Vrydag nog net twee waakeenheidbeddens oorgehad. Richard Brett, hospitaalbestuurder, het bevestig hulle het suurstof vir twee weke.

Martina Nicholson, Netcare-woordvoerder, sê sommige van hul hospitale is onder druk weens ’n skerp toename in Covid-19-opnames, maar in die algemeen “sukkel ons nie” en daar is genoeg suurstof.

Dr. Charl van Loggerenberg, hoof van noodgeneeskunde van Life Healthcare, sê teen Vrydag het hulle 656 positiewe gevalle in hul hospitale in Gauteng behandel. Die skerpste toename in gevalle was aan die Oos- en Wes-Rand. “Al ons geriewe het steeds kapasiteit. Die bestuurs by elke hospitaal is voortdurend in kontak met mekaar en met ander hospitaalgroepe om te verseker dat ekstra beddens beskikbaar is.”

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het Vrydag gesê die provinsie het “genoeg hospitaalbeddens vir die afsienbare toekoms” danksy samewerking met die private sektor en dat 64% van die provinsie se hoësorgbeddens Donderdag vol was.

Masuku het egter aan News24 gesê provinsiale hospitale kan “binne die volgende week” hul kapasiteit bereik.

Hy verwag ’n piek in infeksies teen vroeg Augustus en dat die provinsie teen September eers uit die “gevaarsone” sal wees.

Hy het intussen sy vroeëre opmerking teenoor eNCA teruggetrek dat 1,5 miljoen grafte in Gauteng gegrawe gaan word en ook bevestig dat geen tenders vir die grawe van grafte uitgeloof is nie.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag gesê ’n “noodbesluit” is geneem om in “letterlik elke hospitaal in Gauteng addisionele beddens aan te bring”.

“Ons is ook ingelig oor die tekort aan personeel en werk daaraan. Sover kon ons amper 680 personeellede mobiliseer om van private verpleegagentskappe oor te kom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.