Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Dokters skets nié dieselfde prentjie as LUR’

Die uitlating van Nomagugu Simelane-Zulu, LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal, dat daar genoeg beddens in dié provinsie is om mense te behandel wat siek is aan Covid-19, is misleidend en teenproduktief.

Só sê dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama).

Coetzee sê daar is ’n ernstige tekort aan mediese personeel, suurstof en persoonlike beskermingstoerusting (PBT) in KwaZulu-Natal.

Simelane-Zulu het Woensdag op ’n media-inligtingsessie van die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid gesê dit is onwaar dat daar ’n tekort aan hospitaalbeddens en plek in lykshuise in KwaZulu-Natal is weens die tweede vlaag van die koronavirus.

Dr. Angelique Coetzee

Sy het gesê dit is valse bewerings wat op sosiale media gemaak word en dit maak mense paniekerig en verward.

Die brandpuntgebiede in die provinsie is die eThekwini-metro, die Umgungundlovu-distrik, die Ugu-distrik, die Harry Gwala-distrik, die King Cetshwayo-distrik en die Ilembe-distrik.

Meer as 4 000 mense is al in KwaZulu-Natal dood aan Covid-19.

Simelane-Zulu het toegegee die situasie is nie normaal nie en ver van ideaal. “Maar om te beweer daar is nie genoeg hospitaalbeddens of plek in die lykshuise nie, is agterbaks, misleidend en totaal onnodig.”

Coetzee het Donderdagoggend in ’n verklaring van Sama gesê gegrond op die terugvoering van dokters op grondvlak is dit is nie waar net 66% van die beddens in KwaZulu-Natal wat vir Covid-19-pasiënte bedoel is, beset is nie.

Dit is eerder 66% van álle beskikbare beddens.

Coetzee sê Sama het verslae ontvang dat daar pasiënte is wat op banke, draagbare en op stoele wag om opgeneem te word.

Onbesette beddens beteken net iets as daar genoeg mediese personeel is om die mense wat in dié beddens lê, te behandel, sê sy.

Sama is baie bekommerd oor die situasie.

“Sonder opgeleide dokters en verpleegpersoneel kan iemand wat in ’n bed lê, netsowel nie in een gewees het nie.

“Ons het deurlopend ons kommer uitgespreek oor die ernstige tekort aan gesondheidswerkers in KwaZulu-Natal,” sê Coetzee.

Dit lyk nie of dié probleem al opgelos is nie.

“Ons hoor elke dag stories van dokters in die provinsie dat hulle oorwerk en op die randjie van uitbranding is.

Sonder opgeleide dokters en verpleegpersoneel kan iemand wat in ’n bed lê, netsowel nie in een gewees het nie.

“Wat ook kommerwekkend is, is die gebrek aan hulpbronne soos suurstof en PBT.”

Coetzee sê Sama ontvang daagliks e-pos en oproepe oor dié tekorte.

“Daar was ook al berigte dat van die PBT wat afgelewer is, nie aan die maatstawwe voldoen nie. Dit beteken die toerusting breek wanneer dit gebruik word en bied nie die nodige beskerming nie.”

Coetzee sê Sama se inligting kom regstreeks van dokters wat hul eie lewens op die spel plaas in die voorste linies teen die pandemie.

“Hulle het geen belang daarin om ’n politieke storm te ontketen nie. Al wat hulle wil doen is om die beste moontlike behandeling aan hul pasiënte te verskaf in omstandighede wat vir hulself veilig is.”

Coetzee sê die land kan dit nie bekostig om hom in ’n situasie te bevind waarin hy voorgee alles loop klopdisselboom terwyl dit nie so is nie.

“Dit sal nie probleme oplos nie. Dit sal dit eerder moeiliker maak om in die toekoms iets daadwerklik aan die pandemie te doen.”

Meer oor:  Sama  |  Nomagugu Simelane-Zulu  |  Lur  |  Angelique Coetzee  |  Kwazulu-Natal  |  Covid-19  |  Nuwe Variant  |  Tweede Vlaag  |  Dokters  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.