Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Drankbedryf help in Oos-Kaap by brandpunte van virus

Terwyl die drankbedryf deels die skuld kry vir die opswaai in koronavirusgevalle in die Oos-Kaap, het die bedryf hulp in die provinsie se brandpunte aangebied.

Dit kom nadat verteenwoordigers van die provinsie se drankbedryf die afgelope naweek met die Oos-Kaapse regering vergader het oor die styging in nuwe infeksies in die provinsie.

Die Nelson Mandelabaai-metro en Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, waar gesamentlik 8 326 van die provinsie se 11 721 aktiewe gevalle voorkom, word steeds as die brandpunte beskou.

Die nie-nakoming van Covid-19-regulasies by sommige drank-afsetpunte, veral by tavernes, word as een van die bydraende faktore vir die styging in infeksies gesien.

Dit is elke eienaar van ’n drankafsetpunt se verantwoordelikheid om aan die regulasies te voldoen sodat ondernemings en lewens gered kan word.

Benewens die drankbedryf se onlangse skenking van R30 miljoen se mediese voorraad, wat beskermde kleredrag insluit, het verteenwoordigers ná die naweek se vergadering onderneem om 80 gemeenskapspatrolleerders op te lei en agt polisiekantore in Covid-19-brandpunte van die provinsie te ontplooi.

Hulle sal saam met die polisie en forums vir gemeenskapspolisiëring drankafsetpunte identifiseer wat nie die vasgestelde regulasies nakom nie.

Drankwinkels wat die regulasies oortree, sal by die polisie, asook die Oos-Kaapse drankraad aangemeld word vir verdere ondersoek en vervolging.

Die stap volg kort nadat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verlede week op sy besoek aan die metro gesê het die druk wat weens drankverwante trauma by hospitale ervaar word, het ’n probleem geword. Hy het gesê daar word op verslae gewag sodat besluit kan word watter aanbevelings nodig is om die druk te verlig.

Mvusiwekhaya Sicwetsha, woordvoerder van die Oos-Kaapse premier, het die drankbedryf in ’n verklaring bedank vir hul “proaktiewe benadering”.

“Dié stap en toewyding van die drankbedryf sal help om die infeksiekoers af te bring.

“Dit is elke eienaar van ’n drankafsetpunt se verantwoordelikheid om aan die regulasies te voldoen sodat ondernemings en lewens gered kan word.”

Hy het bygevoeg die Oos-Kaapse regering werk ook nou saam met verskeie maatskaplike vennote en sakelui wat moontlik in die stryd teen ’n tweede vlaag van infeksies kan help.

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Infeksies  |  Koronavirus  |  Drankbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.