Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Drankie permanent verbied as Cele sy sin kry

’n Bier ná werk of ’n drankie langs die vleisbraaivuur is dalk iets van die verlede as Bheki Cele, minister van polisie, sy sin kry.

Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner, sê hoewel ’n permanente verbod op die verkoop van drank indring teen die gees van vrye demokrasie, kan hy nie sien hoe so ’n verbod ongrondwetlik sal wees nie.

Dit kom nadat Cele Dinsdag op ’n ampsbesoek aan Secunda in Mpumalanga gesê het ernstige misdaad soos moord, poging tot moord en inbraak het beduidend afgeneem sedert die staat van inperking ingetree het, wat ook ’n verbod op die verkoop van drank behels.

Cele sê sy verjaardagwens is dat die verkoop van alkohol permanent onwettig bly.

“Wel, ek bestuur nie die land nie, maar as jy kyk na die misdaadstatistieke weens die feit dat mense nie rondloop in sjebeens en onbeheers drink nie . . . dit laat misdaad daal,” sê Cele.

Wel, ek bestuur nie die land nie, maar as jy kyk na die misdaadstatistieke weens die feit dat mense nie rondloop in sjebeens en onbeheers drink nie . . . dit laat misdaad daal.

Ontleders sê Cele is egter naïef om te dink ’n verbod op alkohol gaan die land se misdaadprobleme oplos, en meen dat die polisie eerder ’n manier moet kry om misdaad te bestry sónder om die vryhede van landsburgers in te perk.

De Vos sê al sou ’n drankverbod nie noodwendig teen die Grondwet indruis nie, sou so ’n benadering deur die regering paternalisties van aard wees.

“Die minister sê basies dat sekere mense nie hulself kan beheer nie en dat mense nie hul eie keuses kan maak nie,” sê De Vos.

Die minister sê basies dat sekere mense nie hulself kan beheer nie en dat mense nie hul eie keuses kan maak nie.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê gegewe die tydsberekening daarvan, is Cele se uitlating om drankverkope permanent te verbied, “uiters onsensitief”. Mathekga wys daarop dat baie Suid-Afrikaners juis nie nou toegang het tot alkohol terwyl hulle in ’n stresvolle situasie weens Covid-19 verkeer nie.

“Wat die inperkingstydperk eintlik gedoen het, is om die gebreke in die staat bloot te lê. Hoekom kan die polisie nie doeltreffend werk sonder dat mense se vryhede ingeperk word nie?” vra Mathekga.

Volgens hom moet Cele en ander regeringslui wat voortaan soortgelyke uitlatings maak, met agterdog bejeën word.

“Die staat moet eerder die maatskaplike oorsake van misdaad takel, as om die simptome te dokter. Vir baie mense is alkohol ’n ontvlugting. Gaan die staat nou vir dié mense ballet-teaters bou sodat hulle van hul omstandighede kan ontvlug?” vra Mathekga.

Nicholas Babaya, ’n ontleder verbonde aan die Instituut vir Rasseverhoudinge, sê dis te vroeg om te sê of ’n afname in ernstige misdaad regstreeks aan die verbod op alkohol toegeskryf kan word. Ander faktore – soos mense wat nie sonder geldige redes op straat mag wees nie – moet ook in ag geneem word.

“Dis wel so dat die misbruik van alkohol in Suid-Afrika in baie gevalle met geweld gepaardgaan. Die minister is egter naïef deur te dink ’n verbod op alkohol gaan ons misdaadprobleme oplos.”

As Cele sy sin kry, sal die gevolg wees dat onwettige handel in drank skerp toeneem, waarsku Babaya. Hy sê Amerika het in die 1920’s alkohol verbied, maar dit het bloot gelei tot nuwe probleme wat gepaardgaan met onwettige dwelms.

“ ’n Mens kan sien Cele hou van die nuwe mag wat hy het. Ek sien geen fout daarmee om ’n bier ná werk te drink nie,” sê Babaya.

Dis wel so dat die misbruik van alkohol in Suid-Afrika in baie gevalle met geweld gepaardgaan. Die minister is egter naïef deur te dink ’n verbod op alkohol gaan ons misdaadprobleme oplos.

* Cele het Dinsdag verder ’n beroep op gewone Suid-Afrikaners, asook die media, gedoen om hul feite na te gaan voordat hulle fopnuus op sosiale media versprei.

“Ek wil die media versoek, en ek wil nie baklei nie, ek versoek dat julle ons help om akkuraat berig te doen. Wanneer julle verkeerd berig, vra om verskoning,” sê Cele.

Hy het gevra dat die media nie net negatief oor die polisie berig nie, maar ook positief waar dit welverdiend is.

Prof. Lizette Rabe, verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se joernalistiek-departement, sê hoewel die media nie verhewe bo kritiek is nie, het hy juis nou ’n belangrike rol om krities verslag te doen oor owerhede soos die polisie omdat vergrype onder die nuwe rampmaatreëls kan plaasvind.

“Die media se rol bly dít om die waarheid akkuraat te weerspieël. Joernaliste hoef nie uit hul pad te gaan om positiewe stories oor die polisie te gaan soek nie. As goeie stories nie op die radar verskyn nie, was daar dalk nie goeie stories nie,” sê Rabe.

Volgens haar bly dit egter belangrik dat die media, veral nou, hul feite nagaan en wegbly van sensasie omdat mense juis nou meer angstig is.

Meer oor:  Koronavirus  |  Drankverbod  |  Bheki Cele  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.