Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Drankverbod nie nou heroorweeg, sê Ramaphosa

Pres. Cyril Ramaphosa sê die regering oorweeg dit nie in dié stadium om weer ’n verbod op die verkoop van alkohol in te stel nie nadat drankmisbruik glo die afgelope week tot ’n toename in hospitalisering gelei het.

Hy het Vrydag as deel van ’n besoek aan die Wes-Kaap oor Covid-19 op ’n nuuskonferensie gesê noudat drank weer op vlak 3 van die staat van inperking verkoop mag word, is hospitale voller weens motorongelukke en ander voorvalle wat met drank verband hou.

 Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa en Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sit Vrydagmiddag in een van die minibustaxi’s by die Gene Louw-verkeerskollege wat in die provinsie se Red Dot-veldtog gebruik word om gesondheidsorgwerkers te vervoer. Foto: Christiaan du Plessis

“Dit was nog altyd ’n risiko om die verbod op te hef. Suid-Afrika is ongelukkig een van die lande waar die hoogste drankgebruik voorkom.

“Ons oorweeg nog nie weer ’n drankverbod nie, maar ons vra dat Suid-Afrikaners hulself moet gedra. In ’n oorlogsituasie (met verwysing na die pandemie) moet ons sekere plesiertjies opgee,” sê Ramaphosa.

Volgens hom sal hy binnekort weer ’n “familiebyeenkoms” hou deur die nasie toe te spreek omdat vlak 3 van die staat van inperking reeds sekere goed aan die regering uitgewys het.

“Ons sal dit analiseer en vergader,” sê Ramaphosa.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en pres. Cyril Ramaphosa tydens ’n vergadering van provinsiale en nasionale kabinetslede by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum. Foto: Christiaan du Plessis

Hy het weer eens erken dat die regering foute met die staat van inperking gemaak het, maar sê daar is ook besluite geneem wat deur mense gesteun word.

“Ek het in die biblioteek gaan soek, maar daar is geen handboek oor Covid-19 nie. Ons moes in die krisis ’n vliegtuig in die lug bou terwyl ons vlieg,” sê Ramaphosa.

Hy het die Wes-Kaapse regering gelukgewens met sy planne wat hy ter tafel gelê het, hoewel hy sê die provinsie moet vir meer beddens beplan en beter kontak-nasporing met Covid-19 doen.

Die provinsiale regering moet ook volgens Ramaphosa duideliker boodskappe oor gesondheidsmaatreëls aan gemeenskappe oordra en toesien dat hy meer gesondheidsorgwerkers kry.

Ramaphosa sê die fokus moet daarop wees om die koers van nuwe infeksies te laat afneem. Hy het verwys na die Witzenberg-distrik, die eerste brandpunt buite die Kaapstad-metro waar die infeksies ná ingrypings afgeneem het.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het aan Ramaphosa gesê dit was ’n voorreg om die innoverende maniere waarop die provinsie die virussiekte bekamp, vir hom te wys.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek Vrydag die media toe by die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell. Foto: Christiaan du Plessis
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Drankverbod  |  Covid-19  |  Inperkings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.