Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Duisende by NWU ingeënt

Bykans 6 000 mense is sedert 16 Julie by die Noordwes-Universiteit (NWU) teen Covid-19 ingeënt.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, sê die inentings word op die NWU se Potchefstroom- en Mahikengkampus gedoen.

Die inentings het op Vrydag 16 Julie begin en dit geskied net naweke.

In ’n verklaring sê die NWU dat die Great Hall in Mahikeng en die Dampad-eetsaal in Potchefstroom deur Noordwes se provinsiale regering as inentingsentrums geïdentifiseer is.

Dr. Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-raad, word Saterdag in Potchefstroom teen Covid-19 ingeënt. Foto: Willie du Plessis

Jacobs sê sowel die entstof van Pfizer as Johnson & Johnson (J&J) word by die NWU toegedien.

Die eerste naweek van inentings – 16 tot 18 Julie – is 3 208 mense by die NWU teen die koronavirus ingeënt.

Altesame 1 200 dosisse van die J&J-entstof is in Mahikeng aan ontvangers in die ouderdomsgroep 35 jaar en ouer toegedien, en in Potchefstroom is 2 008 dosisse Pfizer-entstof toegedien.”

Van 23 tot 25 Julie is nog 2 772 toegedien, wat die totaal op 5 980 te staan gebring het.

Ontvangers van die entstof sluit in lede van die publiek asook personeellede van die NWU en hul gades of lewensmaats.

“Die inentings was oorspronklik net vir geregistreerde NWU-personeellede, hul gesinne en huishulpe bedoel, maar namate die inligting mondelings en deur sosiale media versprei is, het talle lede van die publiek wat geregistreer is om inentings te ontvang, ook in die ry kom staan. Ons sal niemand wegwys nie,” sê Jacobs.

Hy sê personeellede van die Vanderbijlpark-kampus word ook by die ander twee kampusse bygestaan.

Prof. Awie Kotze, dekaan van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe wat in beheer is van die inentingsveldtog, sê in die NWU se verklaring goeie terugvoer word ontvang van sowel die sentrums as op sosiale media.

“Dit was wonderlik om die passie, doeltreffendheid en vriendelikheid te ervaar van elke persoon wat by hierdie veldtog betrokke is. Dit was so bemoedigend om te sien hoeveel mense gekom het om ingeënt te word.”

“Die goeie samewerking met Noordwes se provinsiale regering het ons in staat gestel om hierdie diens doeltreffend te lewer.”

Dr. Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-raad, het ook Saterdag sy inenting in Potchefstroom ontvang.

“Dit was vinnig en pynloos. Ek is baie beïndruk met hoe die proses hier verloop het. Ek is ook baie beïndruk met die feit dat mense vrywillig hier by die sentrum uithelp. Dit sluit studente in. Dit wys die universiteit se verbintenis tot die gemeenskap,” sê Tyobeka.

Hy het Saterdag die J&J-entstof ontvang en sy vrou is ook ingeënt.

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier, het al die NWU-personeellede, -studente en -belanghebbendes bedank dat hulle as vrywilligers gehelp het. “Ons as die NWU-familie is trots op die wonderlike werk wat gedoen is om te verseker dat almal wat kwalifiseer, hul inenting ontvang. Met hierdie mate van toewyding en doeltreffendheid lewer ons as die NWU-familie ’n groot bydrae om die pandemie te help hanteer,” sê hy in ’n verklaring.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Pandemie  |  Inentings  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.