Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Duisende in Gauteng van straat gehaal
’n Soldaat begelei Vrydag ’n hawelose in Johannesburg.

Die regering en organisasies sonder winsbejag staan bont om die duisende hawelose mense in Gauteng van die strate te verwyder te midde van die uitbreking van die virussiekte Covid-19.

Die polisie het opdrag gekry om soveel mense moontlik van die strate af te kry tydens die staat van inperking. Die departement van maatskaplike ontwikkeling en ander organisasies swoeg om soveel slaapplek en kos te voorsien.

Sekere skuilings het bloot nie plek om vir groot groepe hawelose en weerlose mense te sorg sonder om die gevaar van infeksie onder inwoners te waag nie.

Dr. Thérèse Maarschalk, ’n direksielid van MES, ’n nieregeringsorganisasie (NRO) wat verskeie skuilings landwyd het, sê ’n groot groep haweloses is Vrydagmiddag, op die eerste dag van die staat van inperking, byna by hul tak in Hillbrow afgelaai.

Willem Eksteen, nog ’n direksielid van MES, sê die reëls oor die aantal inwoners by so ’n skuiling is egter baie streng en van die haweloses moes weggewys word na ander plekke.

MES het egter ’n spesiale skuiling ingerig vir sowat 30 vroue en gestremde mense.

MES het egter ’n spesiale skuiling ingerig vir sowat 30 vroue en gestremde mense.

Elkeen van die mense is ondersoek vir moontlike simptome, soos koors. Hulle is ook ingelig oor die belangrikheid daarvan om hul hande te was om die verspreiding van die virus te voorkom.

“Dit is uiters belangrik om met hawelose mense te praat oor Covid-19 en wat dit is. Baie haweloses word op straat bymekaargemaak en op plekke afgelaai sonder dat die konteks of rede daarvoor aan hulle verduidelik word,” sê Eksteen.

Hy sê sommige haweloses kry onttrekkingsimptome wanneer hulle by die skuiling bly weens hul afhanklikheid van of verslawings aan dwelms.

Die hulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (Sanca) is Vrydagaand ingeroep om dié met onttrekkingsimptome by te staan.

Eksteen sê die veiligheid van MES se personeel en die mense wat daar woon is uiters belangrik en daar word verseker dat ’n gesonde afstand tussen mense gehou word sodat onderlinge infeksie nie plaasvind nie.

Hawelose mense word Vrydag deur ’n soldaat in ’n straat in Johannesburg weggelei. Foto’s: Felix Dlangamandla

Dít is maar net die verhaal van een van talle skuilings in Gauteng.

Thabiso Hlongwane, woordvoerder van die departement van maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, sê personeel is oral in die provinsie om seker te maak mense het kos en skuiling.

“Maatreëls is ingestel en skuilings is geïdentifiseer. As jy werk met ’n groot aantal hawelose mense wat instroom, kan ’n mens nie ’n akkurate getal verskaf van mense wat hulp nodig het nie.”

Hlongwane sê daar is byvoorbeeld ’n skuiling in ’n gemeenskapsaal in Lyttelton, Centurion, waar daar tans 880 mense gehuisves word. Daar is nog ’n plek in Centurion waar na sowat 200 mense omgesien word.

“Die departement verskaf wel kos, skuiling en komberse aan ons mense in Gauteng.”

Hy sê daar is skuilings oor die provinsie heen waarheen haweloses kan gaan om by die reëls van die inperking te hou, maar dat dit moeilik is om alle haweloses en hul bewegings na te gaan.

Hlongwane sê streng maatreëls geld in dié skuilings om seker te maak dat mense nie mekaar aansteek met die virus nie.

Hlongwane sê streng maatreëls geld in dié skuilings om seker te maak dat mense nie mekaar aansteek met die virus nie.

“Die polisie is beveel om mense van die strate af te kry. Hawelose mense is dus opgelaai en na aangewese skuilings geneem.”

As so ’n skuiling reeds vol is, sal die hawelose mense na ’n volgende skuiling geneem word, sê Hlongwane.

Hy sê ’n mediakonferensie sal later vandeesweek gehou word met volledige inligting oor die stand van sake met hawelose mense.

Die Heilsleër (Salvation Army) het intussen bevestig hy werk saam met die departement van maatskaplike ontwikkeling om kos aan haweloses in Pretoria te voorsien.

Lede van die Heilsleër verskaf twee maaltye per dag tydens die staat van inperking aan sowat 450 mense in Marabastad, 300 in Prin­cess­park en 150 in Francesstraat.

Meer oor:  Gauteng  |  Covid  |  Hulp  |  Korona  |  Vroue  |  Gestremdes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.