Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
E-sigarette nie so onskadelik soos mense sê – SA kenner

Navorsers by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) sê elektroniese sigarette bevat gifstowwe, waarvan sommige nie in tradisionele sigarette voorkom nie en dit is nie so onskadelik soos beweer word nie.

Daar is egter nie op die oomblik tekens dat mense in Suid-Afrika dieselfde longsiektes kry of doodgaan soos in die VSA nie, sê dr. Catherine Egbe, ’n navorser van die MNR wat spesialiseer in navorsing oor tabak, alkohol en ander dwelms.

Die Amerikaanse Mediese Vereniging het Maandag gewaarsku dat Amerikaners dadelik moet ophou om e-siagrette te gebruik omdat dit moontlik gelei het tot vyf sterftes en 450 gevalle van mense wat longsiektes gekry het.

“Die rede hoekom daar nie tans tekens hiervan in Suid-Afrika is nie, kan wees omdat betreklik min mense e-sigarette gebruik – sowat 3% van mans en 2% van vroue ouer as 15 jaar, volgens die demografiese en gesondheidsopname (van Statistieke Suid-Afrika) van 2016,” sê Egbe.

“Maar dit kan net wees dat dit nog nie bewustelik as ’n oorsaak gesien word nie. Dit is moontlik dat dokters in Suid-Afrika e-sigarette nie as ’n moontlike risikofaktor beskou as hulle die oorsake van longsiektes ondersoek nie.”

Foto ter illustrasie.Foto: Argief

Egbe sê dokters in die VSA het tot onlangs ook die tekens daarvan misgekyk.

“Ons gebruik dié geleentheid om dokters in Suid-Afrika te vra om hul pasiënte uit te vra oor die gebruik van e-sigarette wanneer hulle simptome van longsiekte toon. Dit sluit pasiënte in wat mengsels gebruik wat olies bevat met tetrahydrocannabinol (THC). THC is van dagga afkomstig.”

Egbe sê alle Suid-Afrikaners en die regering moet daarop let dat e-sigarette nie so onskadelik is as wat die bedryf wil hê mense moet glo nie.

“Ouers moet bewus gemaak word van die risiko’s vir kinders as hulle tabak- of nikotienprodukte gebruik, insluitend e-sigarette wat nie nikotien bevat nie.”

Egbe sê die MNR, saam met ander navorsers en die Nasionale Raad teen Rook, waarsku al ’n geruime tyd dat e-sigarette aan kinders in Suid-Afrika bemark word.

“E-sigarette bevat baie van die chemikalieë in tradisionele sigarette. Maar ’n studie wat daarop gemik is om die onlangse vlaag van sterftes onder e-sigaretrokers te probeer verstaan, het bevind dat dit die propileen-glikol en plantaardige gliserien in e-sigarette is wat veroorsaak dat longe ‘ophou werk’.”

Egbe waarsku dat e-sigarette op sigself gevaarlik is en dat dit nie met tradisionele sigarette vergelyk moet word nie.

“Dit maak dit nie minder gevaarlik vir die gebruiker nie. Alles wat vir die liggaam skadelik is, moet vermy word,” sê Egbe.

“Ten minste het ons nog nie daarvan gehoor dat mense baie vinnig aan gewone sigarette doodgaan nie, maar dit lyk of dit nou met e-sigarette gebeur. Dit behoort mense aan te moedig om baie versigtig te wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.