Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eers verskoning, nou sê MNR hy sal Gray nie ondersoek

Skaars ’n dag nadat die Mediese Navorsingsraad (MNR) die regering om verskoning gevra het oor die kritiek van prof. Glenda Gray, die organisasie se president en uitvoerende hoof, het die MNR se raad besluit om haar nie te ondersoek nie.

Die MNR het Dinsdagoggend in ’n verklaring gesê die MNR se raad het die saak met Gray bespreek en bevind sy het nie die organisasie se beleid oortree nie.

Daarom sal hy nie ’n verdere ondersoek teen haar instel nie.

Gray, ’n subkomiteevoorsitter van die ministeriële raadgewende komitee oor die Covid-19-pandemie, het verlede week in ’n onderhoud met News24 gesê die inperkingsmaatreëls is “onsinnig en onwetenskaplik” en sommige maatreëls is “uit hul (die regering se) duim gesuig”.

Sy is wêreldwyd bekend vir haar navorsing oor die oordrag van MIV.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het haar uitlatings later in ’n verklaring veroordeel.

Prof. Glenda GrayFoto: Argief

Gray het die raad ná dié se verklaring Dinsdagoggend in ’n afsonderlike verklaring bedank vir die “vereiste dringendheid” waarmee hy opgetree het.

Sy sê sy bly verbind tot die organisasie en sal die regering aanhou help in sy stryd teen die Covid-19-pandemie.

Die MNR se verskoning aan die regering Maandag het gevolg op ’n brief van dr. Anban Pillay, uittredende waarnemende direkteur-generaal van die departement van gesondheid.

Hy het in dié brief aan prof. Johnny Mahlangu, voorsitter van die MNR, gesê Gray het “vals bewerings” teen die regering gemaak.

Pillay wou hê ’n ondersoek moet teen Gray gedoen word omdat haar bewerings volgens hom skadelik is vir die regering se optrede teen die koronavirus.

Die MNR se verskoning aan die regering het tot groot kritiek van wetenskaplikes, akademici en politici gelei wat gesê het Gray se reg tot akademiese vryheid is aangetas. Altesaam 250 senior Suid-Afrikaanse akademici (insluitende rektore) het hulle in ’n verklaring by Gray geskaar.

Die MNR sê in sy verklaring van Dinsdagoggend hy het Gray, Mkhize en die ministeriële raadgewende komitee oor die pandemie aangemoedig om die uitlatings wat Gray gemaak het op ’n vriendskaplike wyse te bespreek in die beste belang van alle partye en die land.

Gray het in haar verklaring Dinsdagoggend gesê sy bedank almal wat haar in dié “ongelukkige en moeilike tyd” ondersteun het – veral dié wat aangedring het op haar reg tot akademiese vryheid, wat tot voordeel van die land en sy mense is.

Dr. Alfred Thutloa, kommunikasiehoof van die MNR, het in antwoord op ’n vraag van Netwerk24 oor of die MNR se besluit gevolg het op veral die druk van wetenskaplikes en akademici, gesê die besluit is geneem ná konsultasie met Gray en dat daar bevind is sy het geen reëls van die organisasie oortree nie.

Hy wou egter nie kommentaar lewer op die vraag waarom die MNR die regering dan in die eerste plek om verskoning gevra het nie.

Die departement van gesondheid het nog nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Mediese Navorsingsraad  |  Glenda Gray  |  Kritiek  |  Verskoning  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.