Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Eerste tenders vir NGV uitgereik

Die eerste tenders vir die omstrede nasionale gesondheidsversekering (NGV) is uitgereik.

Die departement van gesondheid soek voorstelle van die private sektor oor hoe om vyf programme – sommiges wat tans katastrofies deur staatshospitale behartig word – reg te ruk.

Net drie van die land se grootste administrateurs van mediese fondse het opgedaag vir die inligtingsessie om sake te gesels, verneem Rapport.

Kundiges het in reaksie gesê dié NGV-planne lyk glad nie soos die ideologiese prentjie van ’n funksionerende geïntegreerde gesondheidsdiens vir almal nie, maar is eerder ’n uitkontraktering van bestaande pligte van die staat teen bykomende koste.

Die regering soek private maatskappy om onder meer die volgende te doen:

* Bestralingsdienste vir kankerpasiënte: Luidens die tenderdokument is daar meer as 9 000 voorkeur-kankerpasiënte wat tans in die steek gelaat word deur vier staatshospitale in KwaZulu-Natal en Gauteng. Sommige hospitale het glad nie toerusting of die nodige dokters om kankerpasiënte te behandel nie. Die regering belowe al vir jare ingryping en die Menseregtekommissie het al betrokke geraak.

Die suksesvolle tenderaar sal namens die regering private praktisyns kontrakteer om bestralings van pasiënte van die Inkosi Albert Luthuli-, Addington-, Charlotte Maxeke- en Steve Biko- hospitaal te behartig.

* Skooldienste: Luidens die tenderdokument het die regering vroeër arm skole besoek om te kyk watter kinders dienste soos optometrie en tandheelkunde benodig. Die regering het ’n lys van name van kinders wat mediese hulp nodig het, maar “baie” van die gevalle is nooit opgevolg nie. ’n Private maatskappy moet verpleegsters, tandartse, oogkundiges en dokters bymekaar kry om die werk verder te voer.

* Psigiatriese dienste: Ná fiasko’s met psigiatriese pasiënte in Gauteng en ander provinsies, moet ’n private maatskappy vasstel waar die regering dienste moet lewer en wie dit moet lewer. Weens geldelike beperkings moet hulle eers net 51 psigiaters en 71 kliniese sielkundiges kontrakteer om dienste in 29 distrikte te lewer. Daar word vereis dat elkeen van dié gekontrakteerdes ’n minimum van vyf pasiënte per dag moet sien.

Die bodproses se sluitingsdatum is reeds aangeskuif vanaf 16 Julie tot 24 Augustus. Die begindatum vir die dienste was al 1 Julie tot 2020.

Prof. Alex van den Heever, gesondheidsekonoom aan die Universiteit van die Witwatersrand, noem dit uiterlike vertoon van die departement om die indruk te wek dat hy iets doen om gesondheidsorg reg te ruk. Hy sê die voorstelle wat gevra word, behels geen sistemiese ingryping nie, is ondeurdag en ’n mens kry die idee die departement weet nie wat hy moet doen nie en daarom word dit nou in ’n tender gevra.

Van den Heever sê die hele doel van die NGV is dat dié fonds die verkryging moet doen. Maar nou vra die regering private groepe om die verkryging te doen.

“Waarom kan die departement nie bloot die programme implementeer en bestuur nie? Waarom moet ons dan ’n NGV skep?”

Casper Venter van die konsultantegroep HealthMan sê die doktersgroepe wat hulle verteenwoordig is nie vooraf ingelig oor die tender nie en daarom het net die mediesefondsadministrateurs opgedaag vir die inligtingsessie. Die projekte is om “vure dood te slaan en politici gelukkig te hou”, sê Venter.

Volgens hom lyk dit of daar sowat R60 miljoen per program sal wees van nou tot einde 2020 “waarmee baie min gedoen sal kan word”.

Die departement van gesondheid het by navraag gesê daar is geen weerspreking tussen die NGV-tenders en die konsepwetgewing oor die NGV wat tans beskikbaar is vir openbare kommentaar nie. Die tesourie het R4 miljard op mediumtermyn beskikbaar gestel vir die ontwikkeling van die NGV.

Die departement ontken dat daar ’n duplisering van sy funksies en die voorgestelde kontrakte is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.