Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Ek het Covid-19 oorleef vir my kleinkinders’

’n Rekeningeklerk van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad was so vasberade om haar kleinkinders te sien grootword dat sy Covid-19 oorleef het, ondanks ’n oormag van komorbiditeite wat teen haar tel.

Pauline Ruiters, ’n rekeningeklerk in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad, wat Covid-19 ná ses dae op suurstof afgeskud het. Foto: Verskaf
Netwerk24Foto: Verskaf

Pauline Ruiters, wat ly aan hoë bloeddruk, diabetes en asma, was byna ’n week lank in die Melomed-hospitaal in Mitchells Plain op suurstof voordat sy uiteindelik op 14 Mei ontslaan is.

“Die gedagte dat ek nie my kleinkinders sal kan sien grootword nie, het by my gespook toe ek met Covid-19 in die hospitaal lê en sukkel om asem te kry.

“Ek móés net baklei – vir hulle,” sê Ruiters.

Die beloning vir haar uithouvermoë was dat sy weer haar drie kleinkinders, Zara (10), Zana (2) en AJ (2), in haar arms kon hou.

“Toe ek hoor ek is negatief, was die eerste ding wat ek gedoen het om my kinders en kleinkinders drukkies te gee. Ek is baie liefderik en hou graag my mense vas.”

Ruiters was nie die enigste in haar gesin wat Covid-19 opgedoen het nie. Die virussiekte is ook ’n week ná haar by haar oudste seun, Nathan Maxwell (29), Zara en Zana se pa, gediagnoseer. Hy werk ook in die Tygerberg-hospitaal, maar in die trauma-afdeling.

“Sy simptome was nie so ernstig soos myne nie. Die diagnose van Covid-19 is nie net fisiek nie, maar dit is ook emosioneel uitputtend. Al is jy nie siek nie, lewe jy met die wete dat jy die virus het. Soms kan jy jouself verbeel dat jy simptome het. Dit het met Nathan gebeur.”

Ruiters, wat in Rocklands in Mitchells Plain woon, sê sy het ’n hoë koors gehad. Toe haar kollegas haar aanraai om getoets te word, was sy so bang dat sy in trane was en gebewe het.

“Dit is ’n baie ongemaklike toets, en ek moes dit twee keer deurgaan. Een keer nadat my koors so hoog was, en een keer voordat ek gehospitaliseer is omdat die eerste toets se uitslae steeds nie beskikbaar was nie.”

Sy beskryf Covid-19 as ’n “alleensiekte”.

“Jy voel totaal en al alleen. Selfs die verpleegsters in die hospitaal was bang, en ek verstaan dit. Dit is menslik. Maar ’n mens voel regtig uiters alleen.”

Ruiters sê as dit nie vir die oproepe van kollegas, familie en vriende was nie, sou sy moontlik nie uit die hospitaalbed opgestaan het nie.

“Nathan het vir my ’n video gestuur van hoe sy dogtertjies vir my dans. Dit het my so baie moed gegee.

“Daar was ook een spesifieke suster in die hospitaal wat haar oor my en die ander pasiënte ontferm het. Sy het by ons kom sit en gesels. Ek het dit so waardeer, want ’n mens mis dit om iemand in die gesig te kyk en te gesels.”

Ek het ook my vriendin se raad gevolg en myself gedwing om iets te eet. Dit het my laat aansterk.

Ruiters sê sy het vreeslik gesukkel om asem te haal, en kon skaars van haar bed na die badkamer loop.

“Een van die dokters het voorgestel dat ek op my maag lê met my arms langs my sye. Dit het my baie gehelp.”

Sy het ook daagliks vir haarself doelwitte gestel, soos dat sy eers tot by ’n sekere punt sal stap, en die volgende dag ’n bietjie verder.

“Ek het ook my vriendin se raad gevolg en myself gedwing om iets te eet. Dit het my laat aansterk.”

Ruiters voeg by: “Ek het nog nooit in my lewe só hard en só baie gebid nie. Dit was ’n wonderwerk van bo dat ek kon huis toe gaan.”

Terug by die huis moes sy en Nathan op die onderste verdieping bly waar hulle onder meer hul eie kombuis gehad het, terwyl sy vrou en kinders bo gebly het.

Almal in die huis, en ook Ruiters se jongste seun, Ethan (20), is vir die virus getoets, maar was negatief. Ruiters sê sy was die blyste oor Zana se negatiewe uitslag, aangesien sy ’n geruis op die hart het.

Ruiters, wat al 13 jaar by die hospitaal werk, is sedert 10 Junie weer op haar pos, en sê sy het dit vreeslik gemis om saam met haar kollegas te werk en hulle elke dag te sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.