Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Ek het reeds kanker – ek soek nie Covid óók nie!’

Ál wanneer Ilse de Lange van Pretoria haar huis verlaat tydens die inperking teen die koronavirus, is vir haar tweeweeklikse “chemo-skemerkelkie” by die Wilgers-hospitaal.

Ilse de Lange op haar 59ste verjaardag terwyl sy chemoterapie in die Wilgers-hospitaal kry.

As ’n kankerlyer waag sy dit nie in ’n winkel nie omdat sy weens haar swakker immuunstelsel ernstig siek kan raak as sy Covid-19 sou opdoen. Haar man, Fred, doen hul inkopies.

Ovariumkanker is in 2014 by De Lange (59), ’n oudjoernalis van The Citizen, gediagnoseer.

Sy het die Oscar Pistorius-moordverhoor destyds vir haar koerant gedek, al was sy baie dae siek en moeg weens chemoterapie. Sy het ’n aggressiewe soort kanker wat terugkeer ná behandeling. “Met dié behandeling koop ek tyd vir myself.”

Deur die jare het sy vier soorte chemoterapie en drie operasies gekry en is drie keer met bestraling behandel. Sy het verlede jaar ophou werk. “Die chemoterapie wat ek tans kry, werk. My kankertelling daal.”

‘Jy kan kies om k*k te voel of minder k*k.’

’n Bonus is dat dié soort chemoterapie nie haar hare laat uitval nie. “As jy jou hare kan behou, voel jy minder siek.”

Sy sê lockdown-chemo is baie anders as chemoterapie in normale omstandighede. Sy en haar medepasiënte span maar hulle humorsin in, al lê daar ’n nuwe gevaar vir hulle en loer.

“Jy het klaar kanker, jy wil nie Covid-19 ook hê nie. Een pasiënt het gesê: jy kan kies om k*k te voel (met kanker én Covid-19) of minder k*k (met net kanker).”

Die atmosfeer in die onkologie-afdeling van die hospitaal is vreemd sedert die virus die land getref het.

“Almal voel die spanning meer, want jy is ’n hoërisikopasiënt. Jou immuunstelsel moet reeds die kanker beveg én dit word deur die chemoterapie onderdruk. Dis moeilik om die vrees vir die virus te besweer,” sê sy.

Hulle mag nie besoekers ontvang nie.

“Die familiegevoel is nou weg. Die koffievrou wat die lekker cappuccino’s vir ons aandra, is nie daar nie.Toe ek vir my eerste lockdown-chemo gegaan het, het niemand gepraat nie. Ook nie almal in die vertrek ken mekaar nie. Jy voel die afstand intens.”

Gewoonlik is die onkologie-afdeling ’n gemoedelike omgewing. “Jy ontmoet die ongelooflikste mense as jy chemoterapie kry. Ons deel baie en lag saam. Ek het baie goeie vriende op dié manier gemaak.”

Mense voel weens die inperking dat hulle beheer verloor het. Maar, sê De Lange, kanker het jou lankal geleer jy kan nie als beheer nie.

“Al waaroor jy beheer het, is jou houding en jy leer vinnig dat jy baie beter vaar as jy positief is. Dit het my maklik vier jaar geneem om vrede te maak met my sterflikheid. Nou leef ek van dag tot dag in die Here se hande. Ek is bly oor elke dag en die son wat skyn.”

Meer oor:  Chemoterapie  |  Joernalis  |  Kankerlyer  |  Covid-19  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.