Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Entstof-apartheid’ is ’n werklikheid, sê WGO-hoof

Die wêreld is in ’n situasie van entstof-“apartheid” in die koronaviruspandemie – en dis nie net pres. Cyril Ramaphosa wat so dink nie.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het Maandag op die Parys-vredesforum se lentevergadering gesê die risiko van entstof-“apartheid” bestaan nie net nie, dié situasie is reeds ’n werklikheid.

Ramaphosa het verlede week in sy weeklikse nuusbrief ook verwys na hierdie “apartheid” ten opsigte van die entstowwe omdat intellektuele eiendomsreg armer lande se toegang daartoe belemmer.

’n Gesondheidswerker staan in Germiston, Gauteng. Die tweede fase van die land se inentingsprogram het Maandag begin. Foto: Gallo Images

Ghebreyesus het gesê die WGO het ’n beroep gedoen op lande om entstowwe te deel omdat baie lande meer entstowwe bekom het as wat hulle nodig het.

Daar is lande wat nog geen entstowwe ontvang het nie.

“Daar is selfs lande wat al begin het om kinders in te ent, terwyl gesondheidswerkers in armer lande nog nie toegang daartoe het nie.”

Dit is “ ’n morele probleem”, het Ghebreyesus gesê.

Hy het ook verwys na die nuwe variante wat voorkom. Die WGO het reeds voorheen gewaarsku dat ’n gebrek aan voldoende inenting ’n bose kringloop kan veroorsaak. Hoe meer die virus in ’n bevolking sirkuleer, hoe beter is die kanse dat entstowwe nie doeltreffend teen die nuwe variante sal wees nie.

Hy het weer beklemtoon indien die pandemie nie oral aggressief beveg word nie, sal dit nie beëindig kan word nie.

Daar is selfs lande wat al begin het om kinders in te ent, terwyl gesondheidswerkers in armer lande nog nie toegang daartoe het nie.

Hy het ook gewaarsku as ’n oplossing nie vir die kwessie oor intellektuele eiendomsreg gevind word nie, sal die entstof-“apartheid” voortduur. Die probleem is dat lande wat toegang tot die entstowwe het, dit nie deel nie, het hy gesê.

Ramaphosa het in sy weeklikse nuusbrief gesê as die internasionale gemeenskap werklik tot menseregte en gelykheid verbind was, sou die toegang tot entstowwe as in die internasionale openbare belang beskou gewees het.

Suid-Afrika en Indië het die Wêreldhandelsorganisasie versoek om die intellektuele eiendomseiendomsreg op entstowwe tydelik op te hef sodat alle lande toegang daartoe kan kry.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO. Foto: Reuters

Volgens Ramaphosa geniet die voorstel die steun van meer as 100 lande, onder meer die VSA.

Die WGO het Maandag op sy mediakonferensie in Genève bekend gemaak dat die wêreld se getal nuwe koronavirusgevalle en Covid-19-sterftes die tweede week agtereenvolgens gedaal het.

Ghebreyesus het gesê sommige lande wat reeds goed met die inenting van hul bevolking gevorder het, het die houding dat die pandemie verby is. Dít terwyl ander lande met hernude vlae sukkel.

“Die pandemie is nog lank nie verby nie,” het hy gesê.

Volgens die jongste beskikbare inligting op Our World in Data, wat Covid-19-inentings wêreldwyd monitor, het Israel reeds 5,10 miljoen mense (58,89% van sy bevolking) ingeënt. Chili het 7,49 miljoen mense (39,20% van sy bevolking) en die VAE het 3,84 miljoen mense (38,79% van sy bevolking) ingeënt.

In die VSA is reeds 123,28 miljoen mense (38,86% van sy bevolking) en in Brittanje 20,1 miljoen mense (29,61% van sy bevolking) ingeënt.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Maandagaand gesê data word nog verwerk om vas te stel hoeveel mense Maandag ingeënt is nadat die tweede fase van die land se inentingsprogram begin het.

Teen Sondag was 478 733 gesondheidswerkers in die land ná fase een ingeënt.

Die inenting van mense ouer as 60 het Maandag in die tweede fase begin. Gesondheidswerkers sal ook steeds ingeënt word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.