Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Entstof: 'Só keer ons bedrog'

Die aankoop van entstowwe teen die koronavirus word deur die regering gesentraliseer om die moontlikheid van korrupsie en bedrog uit te skakel.

So het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Maandag op sy besoek aan hospitale in KwaZulu-Natal gesê en beklemtoon die regering sal die enigste aankoper van entstowwe wees.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. Foto: Getty Images

“Die regering onderhandel direk met die vervaardigers. Só kan ons die proses monitor en ook verhoed dat korrupsie en bedrog intree, soos in die verlede,” sê Mkhize.

Hy het Maandag blitsbesoeke afgelê aan die Prince Mshiyeni Memorial-hospitaal, die King Dinuzulu-hospitaal, die KwaMashu Poly-kliniek en ’n private hospitaal in Umhlanga.

Hy sê die regering sal binnekort aankondigings doen oor verdere ooreenkomste wat met entstofvervaardigers aangegaan is. “Dinge lyk baie belowend. Ons sal inligting aan die publiek gee sodra die ooreenkomste gesluit is,” sê hy.

Die land se eerste besending entstowwe word voor die einde van die maand in die land verwag nadat die regering ’n ooreenkoms met die Serum-instituut van Indië aangegaan het om 1,5 miljoen dosisse van die AstraZeneca-Oxford-entstof te bekom.

Dié dosisse sal gebruik word om gesondheidsorgwerkers in te ent.

Kommer oor genoeg entstowwe

Intussen blyk daar kommer te wees oor die regering se vermoë om genoeg entstowwe suksesvol aan te koop, asook oor die beskikbaarstelling daarvan.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het vroeër vandeesmaand gesê dat die provinsiale regering hier hard aan die werk is om entstowwe vir Wes-Kapenaars in die hande te probeer kry, bykomend tot die pogings van die nasionale regering.

Mkhize sê egter dat die Wes-Kaap se pogings om ’n entstof aan te koop, onnodig is.

“Ek is bewus van gesprekke wat plaasgevind het. Ek het aan die Wes-Kaap gesê dat dit nie nodig is om self entstowwe aan te koop nie, omdat die regering toesig hou oor die proses,” sê hy.

Hy sê die Wes-Kaapse regering sal trouens die regering moet kan oortuig oor waarom dit in die beste belang van die land is dat hy sy eie entstowwe wil aankoop.

“Die provinsies hoef nie self entstowwe aan te koop by verskaffers nie. Hulle kan die geld eerder gebruik om die virus op ander gebiede te beveg.

“Geen provinsie het die gesag om ooreenkomste met vervaardigers aan te gaan nie,” sê Mkhize.

Wat as daardie 1,5 miljoen entstowwe nie hier uitkom nie? Dan sit ons met 'n probleem.
Alan Winde

Winde het Maandag aan Netwerk24 gesê hy sal voortgaan met gesprekke om ’n entstof vir die Wes-Kaap te verseker. “Ek is besig om oproepe te maak en om te kyk waar ek entstowwe kan kry. Ek wil die ekonomie weer aan die gang kry. Ek soek entstowwe vir die Wes-Kaap omdat ek in die beste belang van die provinsie wil optree, maar as ek nóg entstowwe (meer as net vir die Wes-Kaap) kan kry, sal ek Mkhize se plan ondersteun en hom inlig van die situasie,” sê Winde.

Hy sê daar sal altyd ’n risiko verbonde wees aan ’n enkele aankoper van die entstof (soos die regering). “Wat as daardie 1,5 miljoen entstowwe nie hier uitkom nie? Dan sit ons met 'n probleem.”

Winde sê die Wes-Kaap is ook reeds besig om die logistiek gereed te kry vir die verspreiding van entstowwe, en dat ’n plan byna gefinaliseer is.

Regering moet sy geloofwaardigheid verbeter 

Dr. Angelique Coetzee, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama), sê die private sektor sal ook die regering se entstof-proses fyn dophou. “Daar is niks wat ons kan doen aan die regering wat as die enkele aankoper dien nie. Dit is wat gaan gebeur. Die regering sal egter sy geloofwaardigheid moet verbeter ná die vorige skandale.”

Sy sê dit sal veral belangrik wees om te sien of die regering die beskikbaarstelling van entstowwe sal kan bemeester, veral met die oog op die beplande Nasionale Gesondheidsversekering (NGV). “Dit is die eerste stap na die beplande NGV-program,” sê sy.

Intussen het Mkhize gesê daar is vroeë tekens dat infeksies in die land afneem tydens die tweede vlaag.

Te vroeg om fees te vier 

Hy sê al die provinsies toon nou ’n buiging in die kurwe, maar dat dit nog hopeloos te vroeg is om fees te vier.

“Hoewel ons nou sien dat die daaglikse getalle afneem, beteken dit nie die piek is bereik nie. Neigings wys dat gevalle kan afneem en dan weer drasties kan toeneem.

“Dit is nou in ons hande oor wat die volgende paar weke inhou, maar daar is vroeë tekens dat ons ’n afplatting in gevalle binne die volgende twee tot drie weke sal sien.”

Hy sê die volgende week sal egter van kritieke belang wees in die geveg teen die virus. “Ons sal dan kan sien watter impak die feestyd op die land se getalle sal hê,” sê hy.

sterftes, SA, covid-19
Meer oor:  Angelique Coetzee  |  Zweli Mkhize  |  Koronavirus  |  Tweede Vlaag  |  Entstof  |  Regering  |  Covid 19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.