Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Entstof gou in land verwag
Mmamoloko Kubayi-Ngubane Foto: GCIS

Suid-Afrika se nasionale inentingsprogram sal van Vrydag af weer deeglik momentum kry wanneer ’n besending van 300 000 dosisse entstof uit Amerika in die land aankom.

Dié entstof van Johnson & Johnson (J&J) is die eerste van 2 miljoen dosisse wat binne die volgende paar dae stuksgewys in die land sal aankom.

Die plan is om ook onderwysers van aanstaande week af in te ent met ’n deel van dié entstof wat binne die volgende tien dae tot twee weke stuksgewys in die land sal aankom, het dr. Nicholas Crisp, adjunk-direkteur-generaal van gesondheid, Donderdag aan LP’s in die portefeuljekomitee oor gesondheid gesê.

Hy het saam met Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, en dr. Sandile Buthelezi, direkteur-generaal, verslag gedoen oor die Covid-19-situasie in die land.

Kubayi-Ngubane neem waar sedert dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, verlede week deur pres. Cyril Ramaphosa weens die Digital Vibes-tenderskandaal op spesiale verlof geplaas is.

Sy het ook die regering se erge kommer oor die huidige derde vlaag van koronavirusinfeksies uitgespreek.

“Gauteng is ons grootste bron van kommer. Die (Covid-19-)vure brand hoog daar,” sê sy.

“Toe ons daar was, het ons benadruk dat ons weer massatoetsing van mense in gemeenskappe daar wil sien vanweë die lesse wat ons uit die eerste en tweede vlaag geleer het.”

Sy het Suid-Afrikaners oor die land heen versoek om intussen streng aan die niefarmaseutiese gesondheidsmaatreëls te voldoen soos om maskers te dra, hande te ontsmet en gesonde afstande te handhaaf.

Die minister sê sy het dit onlangs op ’n vergadering met provinsiale LUR’e vir gesondheid ook benadruk dat toetsing, opsporing, isolasie en behandeling van die virus steeds kritiek bly.

Die beskikbaarheid van hospitaalbeddens en voorrade soos suurstof en so meer word ook deurgaans gemonitor.

Die LUR’e het volgens haar gevoel dit is nog voortydig om veldhospitale op te rig.

“Ons sal dus vir nou die kapasiteit van private en staatshospitale monitor.”

Kubayi-Ngubane is verder bekommerd oor die stadige pas waarteen mense ouer as 60 registreer om ingeënt te word. Nog net sowat 60% het dit gedoen.

Sy het ook die massasaamtrek wat die EFF Woensdag, op Jeugdag, in Centurion gehou het, as “onverantwoordelik” beskryf omdat dit in ’n superverspreidergebeurtenis kan ontaard.

Covid-19 in syfers in SA

• 95 772 aktiewe Covid-19-gevalle was teen Woensdagaand bevestig in die land.

• 8 727 mense is tans met Covid-19 in hospitale. Dit is die meeste sedert Februarie vanjaar.

• 3,3% is die nasionale sterftekoers nadat 136 nuwe sterftes Woensdag aangemeld is.

• 58 223 sterfgevalle is tot nou toe aangemeld.

• 1 774 312 gevalle van die virus is in geheel tot nou toe in Suid-Afrika aangemeld.

• 13 246 nuwe gevalle is net Woensdag aangemeld.

• 91,3% is die nasionale herstelvlak.

• 1 973 074 gesondheidswerkers en mense van 60 en ouer is tot dusver ingeënt.

Julius Malema, EFF-leier, het dit op dié saamtrek duidelik gemaak dat sy party nie sal voldoen aan vlak 3-regulasies nie totdat hulle “ ’n entstofplan sien om ons uit die pandemie te lei”.

Die EFF dreig ook om by die kantoor van die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (Sahpra) te betoog.

Crisp het verder aan LP’s gesê die 2 miljoen besmette J&J-dosisse wat by die Aspen-aanleg in Gqeberha (Port Elizabeth) vernietig moet word, is “frustrerend” omdat dit die inentingsprogram erg vertraag het. Dié program vir die inenting van die oorblywende gesondheidswerkers en mense ouer as 60 duur intussen voort met die Pfizer-dosisse.

Hy sê die regering het intussen saam met J&J, asook die gesondheidsowerhede hier en in Amerika, reeds vervaardigde J&J-entstowwe in Amerika geïdentifiseer.

“Die eerste 300 000 dosisse daarvan sal teen môre aankom. Kort daarna sal die volgende besending van 700 000 aankom en dan nog 500 000.”

Die verlore 2 miljoen J&J-dosisse sal in die geheel binne die volgende tien dae tot twee weke vervang wees.

“Die probleem is dat die eerste 1,5 miljoen van daardie 2 miljoen dosisse reeds ontdooi het.”

Dit beteken dat hul raklewe kort is en dit baie vinnig gebruik moet word.

Crisp glo die nuwe besendings sal inentings binne die volgende twee weke landwyd meer as verdubbel.

Hy sê hulle werk saam met die departement van basiese onderwys om van Woensdag af alle onderwysers in die staat- en private sektor, asook personeel van skoolbeheerliggame, met die nuwe besendings J&J-dosisse in te ent. Sowat 499 000 mense in die basiese-onderwys-sektor is hiervoor in die visier.

Daar sal ook ’n parallelle proses wees om polisiebeamptes, soldate en mense in ander noodsaaklike dienste en bedrywe in te ent.

Volgens Crisp is 20 maatskappye ook gereed om hul werknemers in te ent.

Meer oor:  Amerika  |  Covid-19  |  Virus  |  Inentingsprogram  |  Entstof  |  Pandemie  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.