Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
‘Entstof sal waarskynlik ook teen nuwe variant werk’

Daar is aanduidings dat die entstowwe wat teen die koronavirus ontwikkel word en vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees, ook doeltreffend sal wees teen die nuwe variant van die virus wat die land tans op hol het.

So het dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, Sondag gesê.

Dr. Anban Pillay

Nog navorsing is egter nodig om dit volledig te bevestig.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het Vrydag aangekondig dat dié nuwe variant baie vinniger versprei en waarskynlik die hoofdrywer is van die tweede vlaag van infeksies wat veral baie in provinsies soos die Oos-Kaap, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal versprei.

Prof. Shabir Madhi, entstofkundige en voormalige direkteur van die Instituut vir Oordraagbare Siektes, het Sondag gesê hoewel “baie eksperimente” nog gedoen sal moet word, teiken die ontwikkelde entstowwe ’n spesifieke komponent van die virus wat nie deur die mutasie na die nuwe variant geraak is nie.

“Net die tyd sal leer of dit wel enige impak op die entstof sal hê.”

Mkhize het Suid-Afrikaners aangeraai om hulself teen die nuwe variant te beskerm deur steeds maskers te dra, hul hande te was en gesonde afstande te handhaaf totdat ’n entstof in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Eerste besending entstowwe

Pillay sê die eerste besending entstowwe wat Suid-Afrika deur die internasionale Covax-entstofprogram (gemik op 187 arm en middelklaslande) sal ontvang, sal waarskynlik “laat in die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal” beskikbaar wees.

Rapport het Sondag berig dat die eerste besending egter net genoeg sal wees vir 3% van die bevolking, sowat 1,7 miljoen mense.

Pres. Cyril Ramaphosa het egter vroeër gesê genoeg entstof sal gekry word om 10% van die bevolking in te ent.

Pillay meen Ramaphosa is reg.

“Entstowwe sal deur Covax vir 10% van bevolkings gekoop word. Ons sal egter nie die hele 10% onmiddellik kry nie.

“Die entstowwe word deur verskillende vervaardigers geproduseer. Ons eerste besending sal dus net 3% van die bevolking dek. Daarna sal ons die res van die 10% in fases kry namate verskillende vervaardigers hul produkte eers in elke land sal moet laat goedkeur.”

Entstowwe sal deur Covax vir 10% van bevolkings gekoop word. Ons sal egter nie die hele 10% onmiddellik kry nie.

Hy het bygevoeg dat gesondheids- en noodsaaklike werkers en ander hoërisikogroepe met die eerste besending geprioritiseer sal word.

Madhi sê egter daar heers nog kommer oor Suid-Afrika se gereedheid om die entstof doeltreffend te versprei sodra dit aankom.

“Veral omdat die eerste besending ’n baie beperkte getal sal wees. Die logistieke planne om dit veral eerste aan gesondheidswerkers en ander hoërisikogroepe te versprei, moet daarom gereed wees.”

Mkhize het Vrydag bevestig dat “administratiewe en tegniese” kwessies daartoe gelei het dat die betaling van Suid-Afrika se deposito van R327 miljoen aan die Covax-entstofprogram vertraag is.

Covax-betalings

John Steenhuisen, DA-leier, en sy party het Vrydag hul kommer hieroor uitgespreek nadat dit aan die lig gekom het dat Suid-Afrika twee spertye gemis het.

Mkhize verwag dat die geld binne “die volgende twee of drie dae” aan Covax betaal sal word.

Pillay sê die Solidariteitsfonds het reeds met die proses begin. “Ons verwag dat die geld teen Maandag of Dinsdag gedeponeer sal wees.”

Intussen het dr. Margaret Harris, woordvoerder van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), Sondag in ’n onderhoud met eNCA gesê dit is noodsaaklik dat lande wat aan Covax deelneem hul planne gereed kry om mense in te ent sodra hulle die entstowwe ontvang.

Sy het bevestig dat entstowwe vir 10% van Covax-lande se bevolkings beskikbaar gestel sal word en dat gesondheids- en noodsaaklike werkers, sowel as baie siek mense in hospitale, eerste aan die beurt moet kom.

“Ek is bevrees dat die res van die bevolking agter in die ry sal wees,” het sy gesê.

Meer oor:  Anban Pillay  |  Shabir Madhi  |  Zweli Mkhize  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Nuwe Variant  |  Tweede Vlaag  |  Entstof  |  Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.