Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Entstof se effektiwiteit: ‘70% nie die antwoord’

Die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging en lid van die ministeriële Covid-19-advieskomitee sê sy sal nie met die Oxford-koronavirusentstof ingeënt wil word nie.

Die Universiteit van Oxford en AstraZeneca het onlangs bekend gemaak dat hul entstof teen die virus 70,4% effektief is, maar dr. Angelique Coetzee sê 70% “is nie die antwoord nie”.

covid-19
Daar is nie sekerheid oor hoe effektief die entstof sal wees nie. Foto: Reuters

Fase 2 van die entstof-studie word tans by die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gedoen, terwyl die bevindings gegrond is op fase 3-studies wat terselfdertyd ook in Brasilië en Brittanje gedoen is.

Die twee studies het van verskillende toedieningsmetodes gebruik gemaak.

Luidens ’n verklaring van AstraZeneca was die entstof 90% effektief toe vrywilligers met ’n halwe dosis en daarna ’n enkele dosis, minstens ’n maand uitmekaar, ingeënt is.

Die entstof was 62% effektief toe twee volle dosisse minstens een maand uitmekaar toegedien is.

’n Kombinasie hiervan het tot die effektiwiteit van 70,4% gelei.

Wits sê in ’n verklaring dat soortgelyke uitslae van die Suid-Afrikaanse studie verwag kan word.

Ons weet byvoorbeeld nie hoe lank die immuniteit van die entstof gaan hou nie. Ons weet ook nie of iemand wat ingeënt is en dan die virus kry, steeds iemand anders kan aansteek nie.

Prof. Shabir Madhi, ’n viroloog by Wits en leier van die Suid-Afrikaanse deel van die studie, sê in die verklaring dat die uitslae interessant is omdat dit daarop dui dat ’n kleiner dosis van die entstof dalk effektiewer is.

“Dit het nie net positiewe gevolge vir die koste van die entstof nie, maar maak dit ook moontlik dat meer mense in die nabye toekoms ingeënt kan word wanneer die voorraad van entstof waarskynlik beperk sal wees,” sê hy.

Coetzee sê dit is egter belangrik om te onthou dat nie een van die studies al gepubliseer of vir eweknie-beoordeling oopgestel is nie. Dié beoordeling stel wetenskaplikes in staat om vrae te vra oor die ontwikkeling, effektiwiteit en veiligheid van die entstof.

“Ons weet byvoorbeeld nie hoe lank die immuniteit van die entstof gaan hou nie. Ons weet ook nie of iemand wat ingeënt is en dan die virus kry, steeds iemand anders kan aansteek nie. Dit is vrae wat eers beantwoord sal word wanneer die studies vir eweknie-beoordeling oopgestel word,” sê Coetzee.

Voorraad van die entstof sal aanvanklik beperk wees.

Prof. Burtam Fielding, direkteur van navorsingsontwikkeling en ’n professor in molekulêre biologie en virologie aan die Universiteit van die Wes-Kaap, sê ’n entstof neem gewoonlik tussen 8 tot tien jaar om ontwikkel te word.

“Ek sou graag die veiligheidsdata vir hierdie entstowwe wou sien. Die veiligheid kan nie bevestig word as die onverwerkte data nie aan onafhanklike navorsers en bronne beskikbaar gestel word vir ontleding nie,” sê Fielding.

Voorraad van die entstof sal aanvanklik beperk wees, maar Fielding sê daar is reeds bepaal wie dit eerste sal ontvang.

“Die oorgrote meerderheid van mense wat die virus kry, sal ligte tot matige simptome wys of asimptomaties wees. “Hulle sal waarskynlik nie die entstof nodig hê nie. Ons moet dus eintlik net voorsiening maak vir die bevolkingsgroep wat 60 jaar en ouer is en mense met komorbiditeite.

“Ons mediese personeel is ook ’n baie belangrike groep om in te ent. Dit is ’n soortgelyke strategie wat ons elke jaar vir die griep-entstof gebruik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.