Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Inentings: Nog net 10% van mense bo 60 het geregistreer

Slegs 500 000 Suid-Afrikaners bo die ouderdom van 60 het reeds geregistreer om teen Covid-19 ingeënt te word, sê dr. Unben Pillay, uitvoerende hoof van die stigting vir onafhanklike praktisynsverenigings.

Daar is byna 5 miljoen mense in dié kategorie.

Pillay, wat nou saamwerk met die departement van gesondheid, sê daar kan talle redes vir dié lae registrasiesyfer wees.

“Dit kan verband hou met die onlangse vrese oor bloedklonte en die Johnson & Johnson-entstof. Dit kan ook wees omdat ouer mense nie weet hoe die aanlyn stelsel werk nie.

“Daarom doen ons ’n beroep op gemeenskappe, kerke, families en selfs dokters om seker te maak dat soveel moontlik mense registreer voordat die inentings op 17 Mei begin,” sê Pillay.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het toe hy die aanlyn registrasiestelsel op 16 April bekend gestel het, gesê mense ouer as 60 wat sukkel om te registreer, sal by inentingsentrums landwyd kan aanklop vir hulp.

Foto ter illustrasie. Slegs 500 000 uit die sowat 5 miljoen Suid-Afrikaners ouer as 60 het al vir die Covid-19- entstof geregistreer. Foto: Argief

Dié sentrums is egter nog nie aan die publiek oopgestel nie en volgens Pillay sal hulle eers oop wees wanneer die entstowwe afgelewer word.

Pillay sê minstens 80% van die groep moet vooraf registreer om te verseker dat daar nie ’n tekort of ’n oormaat entstowwe by sekere sentrums is nie.

“Die Pfizer-entstof kan byvoorbeeld vir net vyf dae gehou word nadat dit oopgemaak is en ons wil nie hê entstowwe moet vermors word nie.”

Hy sê nie alle algemene praktisyns sal die inentings kan toedien nie “omdat nie almal die geriewe het nie. Ons moedig egter diegene wat dit het, aan om te registreer om te kan inent en ons vra ander om as vrywilligers by sentrums te werk.”

Pillay het benadruk dit is belangrik dat almal ouer as 60 registreer.

“Hoe meer mense registreer, hoe beter kan ons beplan en die inentings afhandel. Hoe vinniger ons dié groep mense kan inent, hoe vinniger kan ons met die volgende groep begin,” sê Pillay.

Die departement van gesondheid het nie op Netwerk24 se navrae gereageer nie.

Die departement het wel vroeër gesê dat daar verskeie inentingsentrums beskikbaar sal wees, insluitend by spreekkamers, apteke en private hospitale.

Daar is toe ook benadruk dat mobiele eenhede na afgeleë plekke en ouetehuise gestuur sal word om inentings te vergemaklik.

Volg dié skakel om te registreer: https://sacoronavirus.co.za/evds/

Meer oor:  Pfizer-Entstof  |  Koronavirus  |  Covid 19  |  Entstowwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.