Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Entstofprogram weer op dreef, begin gou

Die inentings van gesondheidswerkers sal volgende week begin, maar pleks van die AstraZeneca-entstof, sal die entstof van Johnson & Johnson (J&J) gebruik word.

Dit is Woensdag deur dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, op ’n nuuskonferensie aangekondig nadat die ontplooiing van die AstraZeneca-entstof tydelik gestaak is. Navorsing het bewys dat die AstraZeneca-entstof swak teen die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus vaar om ligte tot matige Covid-19 te voorkom.

Dit het twyfel laat ontstaan of die entstof enigsins beskerming teen ten minste hospitalisering en sterfte sal bied, en daar word op verdere navorsing daaroor gewag.

Die regering het dus gereël dat die J&J-entstof eerder van volgende week af as deel van nuwe navorsing aan gesondheidswerkers in Suid-Afrika toegedien sal word.

“Die regering sal voortgaan met sy beplande eerste fase van die inentings van gesondheidswerkers deur die J&J-entstof, pleks van die AstraZeneca-entstof, te gebruik.

“Daar is bewys dat die J&J-entstof effektief teen die variant is en die nodige goedkeuringsprosesse vir die gebruik daarvan in Suid-Afrika is aan die gang.”

Volgens Mkhize verwag hulle nie aanvanklik groot besendings van dié entstof nie, hoewel ’n finale “ingewikkelde” ooreenkoms binne die volgende dae met J&J beklink kan word.

Die regering het reeds ’n ooreenkoms om nege miljoen dosisse van dié entstof vanaf Junie te bekom en onderhandel glo vir ’n verdere 20 miljoen dosisse.

Prof. Salim Abdool Karim, voorsitter van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, het Dinsdagaand in ’n onderhoud met eNCA verduidelik dat die J&J-entstof in ’n soortgelyke tydsraamwerk versprei gaan word as wat die geval oorspronklik met die AstraZeneca-entstof was.

Volgens Karim word die J&J-entstof as deel van ’n beskikbaarstellingstudie versprei. “Dit sal onder navorsingstoestande versprei word. Tans sal 300 000 tot 500 000 dosisse aan die oorspronklike groep wat daarvoor

kwalifiseer, naamlik gesondheidswerkers, beskikbaar gestel word,” het hy gesê.

“Ons het baie goeie bewyse oor die veiligheid van die J&J-entstof en die doeltreffendheid daarvan in verskillende

ouderdomsgroepe. Dit het beskerming van 85% teen ernstige siektes en hospitalisering getoon.”

Ander voordele van die J&J-entstof is dat dit ’n enkeldosisentstof is en maklik geberg kan word.

Ander entstowwe

’n Besending van sowat 117 000 dosisse van die Pfizer-BioNtech-entstof word binnekort verwag.

Verder word vir die Russiese Sputnik-V-entstof en die Sinopharm-entstof van China onderhandel.

“China het reeds ’n aanbod vir entstowwe aangemaak en dit word oorweeg. Die nodige prosesse by Sahpra (die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-beheerraad) is onderweg,” het Mkhize gesê.

Hy het verduidelik dat die regering ’n aandeel gehad het in die baanbreker-navorsing plaaslik oor die 501Y.V2-variant, wat die regering nou in staat stel om sy benadering aan te pas.

Volgens hom het die regering eers Vrydag van die uitslae bewus geword. As die regering eers wou wag vir die uitslae voordat hy ooreenkomste vir die entstowwe gesluit het, sou hy “agter in die ry” moes staan om voorraad te bekom.

“Op sosiale media het ek gesien ander lande is geskok. Van hulle het nie daarvan geweet nie. Die AstraZeneca-entstof word wyd gebruik oor die wêreld heen.”

Volgens Mkhize sal wetenskaplikes intussen in die volgende paar weke probeer bepaal hoe die AstraZeneca-entstof, wat in April verval, gebruik kan word.

Sowat een miljoen dosisse van dié entstof is op 1 Februarie van die Serum-instituut in Indië gelewer en ’n verdere 500 000 dosisse word in Maart verwag. Die regering het in totaal sowat R120 miljoen hiervoor opgedok.

Volgens Mkhize sal die geld nie gemors word nie.

’n Opsie word oorweeg om die entstowwe aan ander lande te verkoop nadat Mkhize korrespondensie hieroor ontvang het. “Maar ons plaaslike wetenskaplikes moet eers advies gee daaroor.”

Meer oor:  Astrazeneca-Entstof  |  Koronavirus  |  Kenners  |  Entstof  |  Covid-19  |  Johnson & Johnson  |  Zweli Mkhize
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.