Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Gesondheid
Entstowwe in SA ‘werk goed teen Delta-variant’

Die entstowwe wat in Suid-Afrika gebruik word, is skynbaar selfs meer effektief teen die Delta-variant van die koronavirus uit Indië as teen die Beta-variant wat tot onlangs toe infeksies in Suid-Afrika oorheers het.

Die Delta-variant dryf nou die pandemie in Suid-Afrika met die oorgrootte meerderheid nuwe infeksies wat deur die mutasie van die virus in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes-Kaap, Limpopo en die Oos-Kaap veroorsaak word, sê prof. Tulio de Oliveira, direkteur van die genomika-waarnemingslaboratorium Krisp.

Prof. Glenda Gray, hoof van die Mediese Navorsingsraad (MNR), sê nuwe voorlopige data wys dat ’n opvolgdosis van die entstof waarskynlik onnodig sal wees vir goeie beskerming teen die Delta-variant.

Gray is medeleier van die Sisonke-navorsingsprojek waarin sowat 480 000 gesondheidswerkers die enkeldosis van die Johnson & Johnson-entstof (J&J) gekry het.

Van 33 000 wat ingeënt is, het 0,6% virus gekry.

J&J is 64% effektief om oordrag van die Beta-variant wat in Suid-Afrika ontstaan het, te keer. Volgens Gray bied dié entstof 82% beskerming teen ernstige siekte.

“Ons het ook bevind die immuunrespons danksy die entstof verhoog mettertyd teen alle variante van die virus,” sê Gray. Die immuunre­spons hou vir minstens agt maande – die tyd wat die studie geduur het – en kan selfs langer wees.

“Laboratoriumstudies wys die entstowwe wat ons in Suid-Afrika gebruik, werk selfs beter teen die Delta-variant as teen die Beta-variant,” sê prof. Penny Moore, navorser van Wits en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios).

Om dit te bepaal het Moore en haar span bloed getrek van mense voordat hulle ’n entstof gekry het en weer vier weke daarna. Die bloedmonsters is gebruik om te kyk hoe effektief teenliggame danksy die entstof variante van die virus doodmaak.

Volgens Moore wys studies in Brittanje ook dat die teenliggaam-telling ná ’n inenting met die Pfizer-entstof op 1 105 staan teen die oorspronklike Sars-CoV-2 uit Wuhan. Met die Beta-variant het dit gedaal tot 146 en teen die Delta-variant het dit gestyg tot 442. “Die vlakke van teenliggame het weer gestyg wat betref die Delta-variant,” sê Moore.

“Neutraliserende teenliggame (in laborato­riumstudies) korreleer goed met die effektiwiteit van entstowwe (buite die laboratorium).”

Gray het ook gesê slegs enkele deurbraakinfeksies het onder Suid-Afrikaanse gesondheidswerkers voorgekom nadat hulle die J&J-entstof gekry het. ’n Deurbraakinfeksie is waar ’n persoon vier weke of langer ná inenting wel die virus opdoen.

“Altesame 94% van deurbraakinfeksies is baie lig, 4% is matig en in net 2% van gevalle is ernstige siekte aangemeld.”

Dr. Richard Friedland, hoof van Netcare, het die afgelope week gesê 33 000 van hul werknemers is met J&J se entstof ingeënt en net sowat 200 (0,6%) het die virus opgedoen waarvan sewe (0,02%) in die hospitaal opgeneem is.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad Vrydag voorwaardelike goedkeuring gegee vir die noodgebruik van die Chinese Sinovac Life se CoronaVac-entstof.

Onder die voorwaardes is dat die Chinese vervaardiger deurlopend die uitslae van kliniese toetse moet verskaf.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie het vroeër reeds die entstof vir noodgebruik goedgekeur.

Liu Peicheng, Sinovac se woordvoerder, het aan Reuters gesê voorlopige laboratoriumtoetse wys dié dubbeldosis-entstof is minder effektief teen die Delta-variant van Sars-CoV-2. Volgens Peicheng het ’n opvolgdosis ’n sterker en meer volhoubare immuunrespons uitgelok, maar hy het nie data aan Reuters verskaf nie.

Meer oor:  Glenda Gray  |  Liu Peicheng  |  Richard Friedland  |  Penny Moore  |  Inentings  |  Delta-Variant  |  Covid-19  |  Enstowwe  |  Sinovac
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.