Die moontlikheid van ’n suksesvolle entstof teen Covid-19 en dat dit plaaslik vervaardig kan word, verander die perspektief op die toekoms van die pandemie in Suid-Afrika.
Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdagaand in sy toespraak aan die land gesê dié verwikkeling bring “nuwe hoop in ons stryd teen die virus”.
Ramaphosa het verwys na vandeesweek se nuus dat ’n kandidaat-entstof van Pfizer voorlopig ’n sukseskoers van 90% behaal het en daarop gewys dat verskeie entstowwe nou wêreldwyd ontwikkel word.

’n Voorbeeld van ’n Covid-19-kandidaatentstof wat ingespuit word. Foto: Reuters/Dado Ruvic
Hy sê die sukseskoers van die entstof “verander die spel” en lewer die eerste bewyse dat ’n inenting teen die koronavirus kan werk.
Suid-Afrika werk ook met die Afrika-sentrums vir siektebeheer en -voorkoming om ’n entstof vir die vastelande te bekom en befonds.
Na raming sal Afrika rondom $12 miljard en 750 miljoen dosisse van ’n doeltreffende entstof benodig, volgens Ramaphosa.
As voorsitter van die Afrika Unie (AU), het hy vandeesweek ook ’n taakspan gestig om ’n Covid-19-entstof te verkry. Die minister van gesondheid is een van die mense wat in die taakspan sal dien.
“Lande sal moet geld toewys sodat hulle toegang tot entstowwe kry om die verdere verspreiding van die koronavirus te verhoed.”
’n Voorlopige ooreenkoms tussen Aspen Pharmacare en filiale van Johnson & Johnson om sy kandidaat-entstof in Port Elizabeth te vervaardig, dui ook op erkenning van die land se vervaardigingsvermoë, sê Ramaphosa.
Dié ooreenkoms is aan die begin van die maand bekend gemaak om 300 miljoen dosisse van die kandidaat-entstof Ad26.COV2-S te vervaardig en verpak.
Die kliniese toetsing van dié entstof word nog gedoen.
“Dit is ’n produk wat lewens kan red en wat wêreldwyd benodig word, en dit gaan deur Suid-Afrikaanse werkers vervaardig word.”
Daarby het die Biovac-instituut in Kaapstad ook glo vordering gemaak in onderhandelings met ’n internasionale entstofvervaardiger om nog ’n inenting plaaslik te vervaardig, luidens Ramaphosa se toespraak.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Elmond Jiyane/GCIS
Pfizer en BioNTech, ’n Duitse vennoot, het Maandag die voorlopige uitslae van sy kandidaat-entstof, BNT162b2, bekend gemaak en aangedui dat hy soveel as 1,3 miljard dosisse aanstaande jaar wil vervaardig.
Na verwagting gaan 50 miljoen dosisse vanjaar gemaak word, terwyl ’n kontrak met die Amerikaanse regering vir 100 miljoen dosisse reeds gesluit is.
Vandeesweek is berig die entstof sal dalk eers teen die derde kwartaal van 2021 in Suid-Afrika beskikbaar wees, as ander groter en ryker lande dit nog nie reeds bestel het nie.
https://www.netwerk24.com/Nuus/Gesondheid/pfizer-entstof-waarskynlik-eers-laat-in-2021-in-sa-20201110
Dié entstof wat sogenaamde “boodskapper-RNS” gebruik, moet ook teen ultra-lae temperature gestoor word, wat die gebruik in ontwikkelende lande verder kan beperk.