Die Europese Kommissie oorweeg ’n vinniger alternatief vir magtiging vir die verspreiding en toediening van Covid-19-entstowwe.
Dit sal ’n groot verskuiwing in die benadering tot middels wees, want dit sal ’n prosedure insluit wat die Europese Unie (EU) as gevaarlik beskou en wat hy net gebruik in buitegewone situasies waar pasiënte terminaal siek is, soos nuwe kankerbehandeling.
Die uitvoerende gesag van die EU en die reguleerder van medisyne is onder toenemende druk omdat dit so lank neem om entstowwe goed te keur. Die proses neem veel langer as in die Verenigde State en Brittanje, ’n voormalige lidland van die EU.
EU-amptenare meen ook dit kan meer mense huiwerig maak om ingeënt te word.
’n Woordvoerder van die Europese Kommissie het Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê een opsie wat oorweeg kan word, is om op EU-vlak noodtoestemming vir entstowwe te gee as die lidlande gedeelde aanspreeklikheid sal aanvaar. Hy sê die werk kan baie vinnig begin as die regerings van die EU-lidlande die idee ondersteun.
Vroeër het die kommissie gesê in die geval van Covid-19-entstowwe sal goedkeuring op nasionale vlak nie voldoende wees nie omdat dit die vermoë van reguleerders om inligting oor doeltreffendheid en veiligheid te kontroleer, sal verminder.
EU-amptenare meen ook dit kan meer mense huiwerig maak om ingeënt te word.
Oos-Europese lande, waaronder Hongarye, Slowakye en Tsjeggië, het egter gesê hulle oorweeg goedkeuring van Russiese en Chinese entstowwe ingevolge hul nasionale noodprosedures.
Brittanje het ook die noodprosedure gebruik om Covid-19-entstowwe goed te keur.
Die EU-kommissie het verlede maand gesê hy werk aan ’n vinnige goedkeuringsproses vir entstowwe wat aangepas is teen variante. Dit sal minder omvattende kontroles verg voordat dit aan mense beskikbaar gestel kan word. – Reuters
Reuters