Die fabriek van die blikkieskos-vervaardiger Rhodes Food Group (RFG) in Tulbagh is Saterdag gesluit nadat nege werknemers positief vir die koronavirussiekte getoets is.
Drie van die werknemers is dood. Een is nie dood aan die virus nie, maar die oorsaak van die ander twee se dood is nog nie bekend nie.
Buiten die werknemers is twee personeellede van diensverskaffers ook positief getoets, sê Bruce Henderson, hoof van RFG.
“Ons wag nog op die uitslae van ses ander werknemers. Die meeste werknemers is in selfisolasie, maar ons weet van een wat in ’n munisipale fasiliteit geplaas is.”
Die fabriek is Saterdag gesluit en deeglik ontsmet.

Die ingang van die fabriek in Tulbagh. Foto: Google Mapd
RFG is ’n groot werkgewer in die Tulbagh-omgewing en bied werk aan meer as 1 500 permanente en seisoenale werkers uit die omliggende gemeenskappe.
Luidens ’n verklaring het die maatskappy sedert 22 April mediese ondersoeke by die fabriek in Tulbagh gedoen en 1 071 werknemers het opleiding gekry. 727 werknemers is deur siftingstoetse en 32 is vir toetsing verwys.
Vier van die mense is positief getoets, 22 negatief en die uitslae van ses ander is nog nie bekend nie. Nog vyf positiewe gevalle is geïdentifiseer deur gemeenskapsifting en toetsing in die Witzenberg-streek.
Henderson sê hulle het nog nie besluit wanneer die fabriek weer sal open nie.
“Die maatskappy is bewus van die noodsaaklikheid om betroubare voedselprodukte te vervaardig. Blikkieskos blyk veral belangrik te wees in hierdie tyd,” lui ’n verklaring.
“Die Witzenberg-streek het egter baie positiewe gevalle en die bestuur werk nou saam met die departement van gesondheid en die departement van indiensneming. Hulle is tevrede dat die maatskappy al die nodige regulasies en riglyne volg.”